Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
48 000 kan in SA sterf – so werk dié som

In die mees optimistiese scenario oor die Covid-19-pandemie kan daar oor die volgende vier maande 48 000 mense doodgaan.

Dít is gegrond op ’n model wat gesondheidsaktuarisse van die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika (Assa) uitgereik het nadat hulle die afgelope maand aan die model gewerk het. Hiervolgens sal die piek van infeksies in Augustus en September in Suid-Afrika bereik word.

LEES OOK: Aktuarisse se model wys 48 000 kan in 4 maande sterf

Die basis- en mees optimistiese scenario

Die basis-scenario van die model is gegrond op die aanname dat een persoon wat die virus onder lede het drie ander mense gaan aansteek (dit is die sogenaamde R0-waarde of reproduksiegetal, wat in so ’n geval dus drie is). Die basis-scenario werk ook op die aanname dat 75% van geïnfekteerde mense asimptomaties is.

Die mees optimistiese scenario maak die aanname dat die streng staat van inperking van die afgelope vyf weke daartoe gelei het dat die R0-waarde gehalveer het tot 1,5 en dat ander maatreëls wat ingestel word terwyl die inperking stelselmatig van begin Mei af verlig word, tot ’n R0-waarde van 2,1 sal lei.

In hierdie scenario gaan daar te midde van die piek in infeksies in Augustus en September ’n behoefte aan 70 000 hospitaalbeddens in die land wees. Net meer as 10 000 beddens in waakeenhede gaan nodig wees en 48 300 mense kan weens Covid-19 sterf.

Netwerk24 het Lusani Mulaudzi, ’n gesondheidsaktuaris en president van Assa, uitgevra oor die model.

1. Hoe is die aanname vir die optimistiese scenario gemaak?

Dit is gegrond op ons siening van hoe doeltreffend die inperking is en die daaropvolgende maatreëls.

Lusani Mulaudzi, ’n gesondheidsaktuaris en president van Assa.

Die mees optimisties wat ons kán wees in ons aanname, is om te sê dat die staat van inperking die R0-waarde met die helfte verminder het. Ons weet nie wat die realiteit is nie.

Ons het die R0-syfer van 3 in ons basis-scenario gebruik gegrond op die literatuur en navorsing in verskillende dele van die wêreld.

2. Hoe akkuraat is die model, want tans lyk ons syfers baie laag en jul sterftesyfer klink baie hoog?

Kyk wat in New York gebeur het en hoe die sterftes van een week na die volgende gespring het. Die syfers verhoog eksponensieel. Daar is ’n punt op die groeikurwe waar die getalle van een week na die volgende kan verdriedubbel.

Neem in ag dat die virus steeds versprei het terwyl ons ingeperk is. Aan die begin van die inperking was daar minder as 1 000 positiewe gevalle in Suid-Afrika. Ons het een sterfte gehad en tans nader ons 100.

’n Mens gaan by ’n punt kom waar die syfers vinnig begin opbou.

Die werklike data stem ooreen met dié van ons model. Die model is so akkuraat soos ons kan aanvoer dit is.

Ons sou nie ’n model kon uitreik wat nie tred hou met die werklike data nie, want dan sou die modellering verkeerd gewees het. ’n Mens kan nie vertroue hê in voorspellings as dit die werklike data verkeerd kry nie.

3. Dit is ’n vreesaanjaende syfer. Selfs al kyk ’n mens na wat oorsee gebeur het, lyk ons syfers nie te laag om daardie tipe scenario te bereik nie?

Nee, ’n mens kan redelik maklik by dié tipe syfers uitkom.

Kyk hoe het Amerika se syfers gespring.

Ons doen nog meer sensitiwiteitstoetse op die sterftesyfer om te sien of ons syfers kry wat laer is en om te verstaan in watter tipe scenario ’n mens laer syfers sal kry.

Maar van die scenario’s waarna ons gekyk het, is 48 000 aan die laer kant.

Persentasiegewys van die Covid-19-gevalle is dit onder 1% en ’n syfer onder 1% is nie sleg nie.

4. Het julle die beskikbaarheid van hospitaalbeddens en waakeenheidbeddens en personeel in hospitale in ag geneem op die sterftesyfer?

Ons weet dat die kapasiteit van waakeenheidbeddens in die land sowat 5 000 is met die beste syfer sowat 6 000.

Self in ’n optimistiese scenario gaan 10 000 beddens nodig wees tydens die piek, so daar is ’n tekort.

Maar die land het ’n kans om seker te maak daar is genoeg, want ons het sowat drie maande om die verskil op te maak.

Dit is die waarde van modellering, sodat jy weet wat kom en beter daarvoor kan beplan.

4. Wat is die ander scenario’s waarna julle gekyk het en wat is die ergste een?

In die aanvanklike modellering het ons na vier scenario’s gekyk. Die eerste een is die basis-scenario waarna ons reeds verwys het en die ander een is die optimistiese scenario.

Nog ’n scenario is gegrond op die aanname dat 50% van mense asimptomaties gaan wees. In so ’n scenario is daar meer mense wat ernstig siek is. Ons werk in dié scenario op ’n R0-syfer van 2,6.

In dié scenario gaan daar op die piek 120 000 hospitaalbeddens nodig wees, 20 000 waakeenheidbeddens en ’n sterftesyfer oor die volgende paar maande van 90 000.

Dit is ’n ongewenste scenario, want dan moet meer besluite geneem word oor wie in waakeenhede behandel gaan word en wie nie en dit gaan tot meer sterftes lei.

Die vierde scenario is baie pessimisties oor die impak van die staat van inperking op die syfers.

In dié scenario word die R0-syfer van die basis-scenario net tot 70% (in plaas van 50%) verminder en die R0-syfer ná inperking beloop 80% van die basis-scenario.

Die piek word hier vroeër in Augustus bereik (dus amper 'n maand vroeër as die optimistiese scenario) met ’n behoefte aan 87 00 hospitaalbeddens en 13 000 waakeenheidbeddens, met ’n sterftesyfer van 50 000. Die aanname oor asimptomatiese gevalle is op 75% gehou.

5. Wat moet verander in die aannames om die getal sterftes onder 48 000 te kry?

Die R0-waarde moet van die begin af laer wees. As ons ons die R0-waarde verkeerd het en dit is in werklikheid 2,5 of minder, gaan die uiteindelike getal sterftes minder wees.

En as die werklikheid beter is as ons siening van die doeltreffendheid van die inperking en die maatreëls wat ná die inperking ingestel word, sal die getal sterftes ook laer wees.

6. Watter insae het julle in die modelle wat die regering gebruik en is die syfers dieselfde as julle s’n?

Ek het nie insae daarin nie en ons wil versigtig wees om dit te vergelyk. Hulle het in elk geval nie baie inligting oor hul model verskaf nie. Omdat ons ’n beroepsliggaam is, wil ons opvoedkundig wees en mense inlig. Die regering het ander oorwegings.

Maar hulle sê ook dat die piek omtrent dieselfde tyd sal wees as wat ons geraam het.

Van hul vroeëre modelle het gedui op ’n piek in Julie rond.

Ons het ’n scenario waar die piek vroeg in Augustus is en een wat dit in September stel.

Ons wil egter ook nie profeties wees nie. Ons sê as jy hierdie faktore in ag neem, gaan jy hierdie getalle kry.

Soos ons kennis verbeter, gaan ons die model aanpas.

7. Wat sal jy sê aan sakelui wat die inperking en die fases daarvan wat nou in werking tree, kritiseer?

Dit is ’n moeilike vraag omdat dit moeilik is vir die ekonomie om te herstel as dit verby ’n sekere punt vernietig is. Ek verstaan die kommer. Dit sou egter vir die regering moeilik gewees het om ’n vooruitskatting te hê van wat kan gebeur en dan niks te doen nie.

Ons glo wel die siening van die regering dat infeksies waarskynlik gaan toeneem, is korrek. En dat daar sonder ingryping meer infeksies en meer sterftes sou wees.

Dit was ook belangrik om te verstaan hoe om die risiko in Suid-Afrika te bestuur gegewe die townships en die digbevolkte gebiede en dat mense in treine en so reis. As daar te vroeg ’n uitbreking in daardie gebiede was, kon die gevolge erger gewees het.

8. Wat word nou met jul model gedoen, julle het gesê daar is kundiges wat daarna kyk? Wat doen hulle en word hy verfyn?

Baie van die aktuarisse wat aanvanklik daaraan gewerk het, is gesondheidsaktuarisse. Die aktuarisse wat in die lewensbedryf is, vra nou redelike gedetailleerde vrae oor die model want hulle moet dit gebruik om seker te maak hulle het genoeg kapitaal beskikbaar (vir die uitbetaling van lewensdekking).

Die kommentaar is interessant – dis wat gebeur as ’n mens saam aan iets werk.

Dit is nou makliker om vrae te vra oor dinge waaraan ons nie gedink het nie.

Meer oor:  Aktuarisse  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Inperking  |  Covid-19  |  Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.