Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Aftrede: Mediese koste kan baie duur raak

Aftrede is ’n tyd vir rus, om kleinkinders te bederf, jou gholf-voorgee te verbeter of ’n stokperdjie te beoefen. Dit is nie die beste tyd om veranderings in mediesefonds-reëls en -tariewe te bestudeer nie.

Wouter Fourie

Ongelukkig bestee ons die meeste tyd en geld aan dokters en medisyne nadat ons afgetree het. Sommige ontleders sê ons bestee tot 60% van ons lewenslange mediese uitgawes in ons aftreejare – en dis nie ongewoon om 30% van ons maandelikse pensioen aan mediese koste en mediese fondse te bestee nie.

Aangesien mediese koste so ’n groot deel van ons uitgawes uitmaak en juis omdat mediese fondse deesdae so kompleks raak, is dit belangrik om soveel aandag as moontlik aan jou mediese fonds se reëls en voordele te skenk.

Een van die belangrikste oorwegings is die vlak van dekking wat jou fonds bied. Neem in ag dat as ’n fonds sê hy dek 100%, beteken dit hy dek 100% van die tariewe wat op die verwysingslys van die Nasionale Gesondheidsraad verskyn; nie 100% van die totale koste nie.

As voorbeeld: Indien die dokter dubbel soveel kos as die voorgeskrewe prys van die raad se verwysingsprys, is die fonds se bybetaling slegs 50% van die totale koste.

Nog ’n belangrike oorweging is watter kwale en siektes jou fonds dek. Die wet skryf 270 soorte siektes, nood- mediese hulp en 27 chroniese toestande voor wat alle mediese fondse móét dek. Dit sê boonop dat geen oop mediese fonds iemand kan verbied om aan te sluit nie.

Dit beteken nie dat alle mediese fondse dieselfde dekking vir die wetlik voorgeskrewe siektes bied nie. Die meeste mediese fondse gebruik die wet se voorgeskrewe minimum voordele (VMV) as hul verwysing en dek soms net dieselfde behandeling as wat jy in ’n staatshospitaal sou kry.

Onthou om spesifiek oor jou mediese fonds se dekking van kanker- en dialisebehandeling te vra. Maak seker jy het mediese dekking as kanker of nierversaking by jou gediagnoseer word.

Op ’n meer positiewe noot moet jy onthou dat jy ’n deel van jou mediese uitgawes (R3 720 per jaar teen die huidige koers vir die hooflid en eerste afhanklike) van belasting kan terugeis. Daar is ook voorsiening vir afgetredenes en “ouer” afgetredenes ouer as 65 jaar of afgetredenes wat ’n fisieke gebrek het. Vra jou belastingkenner hieroor uit.

Dit is ook ’n goeie idee, veral indien jy nog nie afgetree het nie, om jou werkgewer te vra wat sy bydrae vir jou mediese fonds is en of dié bydrae ná aftrede voortgaan. Baie werkgewers verminder hul bydrae stelselmatig.

Oorweeg ook die gebruik van oorbruggingsdekking. Dit is ’n vorm van versekering wat jou die verskil tussen jou mediesefondsbydrae tot ’n uitgawe en die werklike koste daarvan kan laat eis. Daar is perke op die bedrag wat jy kan eis.

Dit is ook lonend om met ’n onafhanklike finansiële raadgewer te gesels. Hoewel hulle geld vra vir hul advies en tyd, beteken dit hulle word nie gedwing om ’n spesifieke produk of polis aan jou te verkoop om kommissie te verdien nie.

Kyk veral vir die CFP-kenteken van ’n gesertifiseerde finansiële beplanner. So ’n raadgewer kan jou help om vir onvoorsiene mediese uitgawes te spaar in ’n afsonderlike produk of noodfonds.

  • Dié artikel is geskoei op die hoofstuk “Health Care in Retirement” in die boek The Ultimate Guide to Retirement in South Africa, deur Wouter Fourie en Bruce Cameron. Fourie is die 2015-’16 FPI Finansiële Beplanner van die Jaar, ’n direkteur van die FPI, hoof van Ascor Independent Wealth Managers en ’n gekwalifiseerde onafhanklike finansiële beplanner, rekenmeester en boedelbeplanner.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1067,41 (3106)
  • Top 40 50659,45 (-32770)
  • All Share 56882,74 (-28151)
  • Resource 10 44620,89 (88898)
  • Financial and Industrial 30 75197,76 (-120859)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.