Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Agterstand met medisyne gou weg, sê nuwe raad

Die nuwe Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (RGP) wat die ou Medisynebeheerraad verlede jaar vervang het, het beloof hy gaan die agterstand met die registrasie van produkte binne die komende twee jaar uitwis.

Nuwe medisyne kan dalk binnekort weer goedgekeur word. Foto: Pixabay

Die RGP het aan die portefeuljekomitee oor gesondheid in die parlement in die terugvoering oor sy jaarverslag gesê sy werk is in die eerste boekjaar tot einde Maart 2019 lamgelê weens ’n staking by die departement van gesondheid. Die organisasie het in Februarie 2018 ontstaan.

Volgens prof. Helen Rees, voorsitter van die direksie, het die staking in April begin, tot in Augustus verlede jaar vererger en tot vroeër vanjaar voortgesleep. Sy sê net 20% van die personeel het gewerk.

Boonop het die organisasie nie die beloofde ondersteuning van korporatiewe dienste van die departement van gesondheid gekry soos onder meer menslike hulpbronne nie en mense kon nie aangestel word om die poste te vul nie.

Die RGP moes reeds die sukkelende Medisynebeheerraad vervang wat jare lank gesukkel het om al die aansoeke vir nuwe medisyne en kliniese proewe te hanteer. Rees sê die RGP moes uit nood Kerstyd verlede jaar na ander geboue trek wat in sommige gevalle 2 km uitmekaar geleë was sonder telefone of internet.

Die finansiële hoof kon nie toegang tot die Civitas-gebou kry waar die staking plaasgevind het om die nodige dokumente vir die ouditeur-generaal te kry om die oudit af te handel nie. Dit is as een van die redes genoem vir die gekwalifiseerde oudit wat gekry is.

Volgens Rees het die RGP ondanks die probleme vir die eerste keer vasgestel hoe groot die agterstand met die registrasie van medisyne onder die Medisynebeheerraad was. Dit was nie voorheen werklik seker nie.

Sy sê hulle het vasgestel daar was ’n agterstand van 16 000 aansoeke. Daarvan was 8 200 aansoeke vir nuwe registrasies en die res was wysigings aan bestaande registrasies.

In die boekjaar is daar net 430 van die nuwe aansoeke geregistreer. Omtrent 2 600 is teruggetrek en van die wat wysigings moes kry, is 1 700 afgehandel.

Einde Maart het 11 270 se aansoeke oorgebly.

Portia Nkambule, waarnemende uitvoerende hoof, sê ’n program om die agterstand uit te wis is begin Augustus vanjaar amptelik bekend gestel.

Volgens haar sal die werk afgekamp word sodat die personeel daarvoor net daarop fokus.

Sy sê weens die probleme by die RGP kon net 15 uit sy 26 prestasieaanwysers bereik word.

Benewens die werk om die agterstand in te haal is 5 910 lisensies, permitte en sertifikate uitgereik van die 12 648 wat uitgereik moes word.

Een van die prestasieaanwysers was om 70% van die lisensies, permitte en sertifikate uit te reik binne ’n gegewe tyd. Net 47% is uitgereik en dit was twee kwartale later as wat dit moes wees.

Werk gedoen

Van die ander werk wat die RGP doen, is om vervaardigingsaanlegte te inspekteer en kliniese proewe vir mense en diere te hersien, asook mediese toestelle en bestralingstoestelle te lisensieer.

Volgens Nkambule is daar ook 64 keer met die belangegroepe in die farmaseutiese bedryf ontmoet.

Rees sê die farmaseutiese bedryf was verlede jaar reg om die RGP oor die oponthoud met sy werk hof toe te sleep. Sy sê hulle het in Oktober weer met die bedryf ontmoet en almal is nou tevrede dat dinge glad verloop.

Die organisasie het R1,2 miljoen se onreëlmatige besteding gehad. Dis aan die nienakoming van aankoperegulasies en aan die gebrek aan personeel met die vereiste vaardighede toegeskryf.

Rees het ná baie kritiek van die portefeuljekomiteelede oor die swak prestasie van die organisasie in sy eerste bestaansjaar gesê: “ ’n Wanfunksionele organisasie is oorgeërf met te min personeel en hulpbronne en ’n agterstand van 16 000 aansoeke.”

Volgens haar was van die aansoeke so oud soos 1992 en 62% daarvan was ouer as vyf jaar.

Sy sê die rede hoekom die medisynebeheerraad uit die nasionale departement van gesondheid verwyder is, is om meer onafhanklik te wees, soos dit wêreldwyd as beste praktyk aanvaar word.

Die organisasie se struktuur is in die laaste kwartaal van die boekjaar goedgekeur en 109 poste is geadverteer waarvan die werwing tans plaasvind.

“Die RGP moes van die begin af gesien word as ’n aanvangsonderneming en van genoeg korporatiewe dienste, ondersteuning en tegniese personeel voorsien word om sy uitgebreide mandaat te vervul en sy oorgeërfde probleme te kan hanteer,” sê sy.

“Hierdie oorgangstydperk het saamgeval met die staking by die departement se Civitas-gebou waar die RGP gehuisves was en dit het ook die ondersteuning van hierdie departemente aan ons beperk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.