Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Al hoe meer siekes móét na ’n staatskliniek gaan

dokter
Baie Suid-Afrikaners is aangewese op 'n staatskliniek omdat hulle nie 'n mediese fonds het nie. Foto: Unsplash

Al hoe meer Suid-Afrikaners besoek ’n staatskliniek wanneer hulle siek is omdat hulle nie deur ’n mediese skema gedek word nie.

Tog besoek byna een uit tien mense (7,8%) sonder ’n mediese fonds ’n private dokter wanneer hulle siek word. (Sien ook grafika hieronder.)

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se algemene huishoudelike peiling vir 2018 gee al hoe meer mense hul mediese fonds prys te midde van stygende werkloosheid en druk op hul beursies.

Volgens die SSA was nagenoeg 95 000 minder mense in 2018 deur ’n mediese fonds gedek as in die vorige jaar. Altesaam het byna 9,4 miljoen lede (2017: 9,5 miljoen, syfers afgerond) en hul begunstigdes toegang tot hul mediese fonds, teenoor die 47,6 miljoen Suid-Afrikaners wat nie deur ’n mediese fonds gedek word nie.

Die persentasie Suid-Afrikaners wat gedek word, het in die jaar ook gedaal, van 16,9% tot 16,4%. Dis teenoor die hoogste persentasie dekking, 18,2%, wat in 2013 behaal is.

Die SSA se data verskil van dié van die Raad op Mediese Skemas (RMS), die waghondliggaam oor mediese fondse wat toegang het tot die presiese aantal begunstigdes. Volgens die RMS se jaarverslag was daar in 2017 8,9 miljoen lede en begunstigdes op mediese fondse se boeke, teenoor 2017 se 9,5 miljoen wat die SSA weergee. Die RMS het nog nie 2018 se syfers uitgereik nie.

Ondanks dié dataverskille is die neiging wat die twee owerhede aangee, identies: Lidmaatskap van mediese fondse is aan die daal.

Die SSA raam dat 22,6% van huishoudings nou minstens een lid het wat aan ’n mediese fonds behoort, teenoor 23,3% in 2017.

Die Wes-Kaap, waar 25,1% van die bevolking deur ’n mediese fonds gedek word, en Gauteng (23,9%) was die enigste twee provinsies met bogemiddelde dekking. Dekking was die laagste in Limpopo (8,2%) en die Oos-Kaap (10%).

gesondheid

Dekking was wel landwyd bogemiddeld in al die metropolitaanse munisipaliteite. Dis die hoogste in Tshwane (wat Pretoria insluit) teen 29,6% en Kaapstad (27,7%), en die laagste onder die land se groot stede in Nelson Mandelabaai (20,6%) en eThekwini (20,7%). (Laasgenoemde sluit onderskeidelik Port Elizabeth en Durban in.)

Volgens ras blyk dit die persentasie mense van Indiër- of Asiatiese herkoms se dekking het skerp gestyg, van 48,9% tot 52% van dié rasgroep. Wit Suid-Afrikaners se dekking het ook gestyg, hoewel net effens, tot 72,9% van die wit bevolking (2017: 72,4%).

Daarteenoor het bruin Suid-Afrikaners se dekking skerp gedaal tot 17,1% (2017: 20,2%) en swart Suid-Afrikaners se dekking het effens gedaal, tot 9,9% (2017: 10,1%).

Die laer persentasie dekking deur ’n mediese fonds het meegebring dat ’n groter persentasie van die bevolking by ’n staatskliniek aanklop as hulle siek word. Dit het tot 65,4% (2017: 64,2%) gestyg.

Daarteenoor het die persentasie mense wat ’n private dokter besoek tot 24,2% gedaal (2017: 24,6%).

Daar is dus wel ’n persentasie Suid-Afrikaners (nagenoeg 7,8%) wat kontant vir ’n private dokter betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.