Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Alle fondse dalk verplig om dieselfde plan te volg
Mediese skemas kan voortaan verplig word om ’n gestandaardiseerde voordeelopsie aan sy lede te bied.

Mediese fondse in Suid-Afrika kan dalk voortaan verplig word om almal dieselfde basiese voordeelplan aan hul lede te bied.

Dr. Sipho Kabane, registrateur van die Raad op Mediese Skemas (RMS), het aan Rapport gesê hy meen ’n “gestandaardiseerde basiese opsie” is die rigting waarin Suid-Afrika as ’n land behoort te beweeg.

“So ’n standaard-opsie oor alle mediese fondse heen kan die grondslag vorm van die hersiene voorgeskrewe minimum voordele.”

Kabane en ’n afvaardiging van die RMS het die afgelope week verslag gedoen aan die portefeuljekomitee oor gesondheid oor die liggaam se geldsake, strategiese planne en die rol wat hy sal speel om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking te stel.

In sy aanbieding aan parlementslede het Kabane dit duidelik gemaak dat mediese fondse tans gans te veel opsies aan hul lede bied.

“Elke skema bied gemiddeld ses opsies en dit maak dat daar nie kruissubsidies kan plaasvind nie.”

(Kruissubsidies is die beginsel waarvolgens jong en gesonde lede van fondse deur middel van hul bydraes sieker lede subsidieer.)

Kabane meen ’n gestandaardiseerde voordeleplan wat dieselfde sal wees vir alle mediese fondse sal ook die grondslag vorm waarop die NGV se dienstepakket geskoei sal wees. Kabane se uitlatings is nog ’n aanduiding dat die huidige uitgebreide voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) ingevolge waarvan mediese fondse verplig is om meer as 270 siektetoestande te dek, verminder sal word.

Die RMS hersien reeds ’n geruime tyd dié voordele, ’n groot finansiële kopseer van mediese fondse.

So ’n standaard-opsie oor alle mediese fondse heen kan die grondslag vorm van die hersiene voorgeskrewe minimum voordele.
Dr. Sipho Kabane

Rapport het vroeër berig dat die RMS die VMV-struktuur hersien sodat nie al die voorgeskrewe siektetoestande gedek hoef te word nie.

Uitsluitsel oor die VMV’s sal egter eers verkry word wanneer die veranderinge aan die Wet op Mediese Fondse gepubliseer is.

Kabane het voorts aan parlementslede gesê mediese fondse in Suid-Afrika het nie ’n probleem met solvensie nie, maar wel met wegholkoste.

Hy het ’n vergelyking getref tussen die soort voordele wat in 1974 uitbetaal is teenoor 2017.

In 1974 is 18,9% van uitbetalings aan algemene praktisyns gedoen. Dit het in 2017 gedaal tot net 5,7%.

Uitbetalings van voordele aan hospitale was in 1974 om en by 15% en in 2017 het dit geklim tot 37%.

Die RMS se syfers dui daarop dat net 6% van mediese fondse se uitbetalings aan primêre gesondheidsorg gaan – een van die hoekstene waarop die NGV gefundeer sal wees.

“Daar is oorbediening,” het Kabane gesê met verwysing na die privaathospitaal-sektor, “en soos dinge nou staan, skep dit gunstige toestande vir koste om net verder toe te neem”.

In vraetyd wou parlementslede by Kabane duidelikheid hê oor die rol wat mediese fondse sal speel wanneer die NGV ingestel sal word – veral in die lig daarvan dat 80% van die raad se inkomste van mediese fondse af kom wat ledegeld betaal.

Hulle wou ook weet presies wat die RMS verstaan onder die konsep “aanvullende dienste”. In die konsepwet oor die NGV word bepaal dat mediese fondse onder die NGV ’n aanvullende rol sal speel. Die regering kon tot dusver nie duidelikheid gee oor watter gesondheidsorgdienste “aanvullend” sal wees nie.

Volgens Kabane sal “aanvullende dienste” dalk prosedures soos plastiese en rekonstruktiewe chirurgie insluit.

“Ons verstaan ook dat die dienstepakket wat die NGV sal bied nie dieselfde sal bly nie, maar dat goed bygevoeg word namate dit ingefaseer word.”

Kabane was vasbeslote dat mediese fondse sal bly voortbestaan omdat die Wet op Mediese Skemas steeds van krag sal wees in Suid-Afrika.

Meer oor:  Mediese Fondse  |  Rms  |  Mediese Sorg  |  Raad Op Mediese Skemas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.