Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Amptenaar geskors wat mediese fondse ondersoek

Die hoof van ondersoeke en nakoming van die Raad op Mediese Skemas (RMS) is geskors hangende ’n ondersoek oor bewerings van korrupsie.

Stephen Mmatli is in 2002 in die pos aangestel.

In die verklaring van die RMS is gesê Mmatli word geskors hangende die uitslag van ’n ondersoek oor aantygings van ernstige wangedrang.

“Ons het anonieme wenke gekry wat onder meer beweer dat Mmatli betrokke is by korrupte verhoudinge met organisasies wat deur die RMS beheer word.

“Tweedens, het hy die raad doelbewus mislei om besluite te neem ten gunste van die organisasies en daarvoor het hy finansiële vergoeding gekry.”

Ons het anonieme wenke gekry wat onder meer beweer dat Mmatli betrokke is by korrupte verhoudinge met organisasies wat deur die RMS beheer word.
Raad op Mediese Skemas

Dr. Sipho Kabane, waarnemende uitvoerende hoof en registrateur van die RMS, sê ’n klag met soortgelyke aantygings is ook by die Spesiale Ondersoekeenheid aanhangig gemaak.

Mmatli is beskryf as iemand wat baie mag gehad het omdat hy die inspeksies in die bedryf, wat jaarliks byna R180 miljard se premies insamel, laat uitvoer.

In die jaarverslag van die RMS word gesê die doel van die eenheid vir nakoming en ondersoeke is om lede van mediese fondse en die publiek te dien en om die gepaste stappe te doen om seker te maak die Wet op Mediese Fondse word nagekom.

Die werk van Mmatli se eenheid sluit in om roetine-inspeksies te doen om nakoming te monitor. Wanneer ongerymdhede gevind word, gee die eenheid opdrag dat inspeksies uitgevoer word. In die vorige boekjaar tot einde Desember 2017 het die eenheid 23 inspeksies uitgevoer waarvan ses in opdrag was en die ander roetine-inspeksies was.

Hierdie inspeksies word deur eksterne konsultante gedoen en kan miljoene rande beloop en mediese fondse moet daarvoor help opdok.

Die eenheid vir nakoming en ondersoeke het ’n begroting van R9,7 miljoen in die boekjaar tot einde Desember 2017 gehad, maar het R19,6 miljoen uitgegee, wat beteken sy besteding is met byna R10 miljoen oorskry.

Die meeste hiervan is weens besteding aan konsultante. Sy begroting vir konsultante was R1,9 miljoen terwyl hy R11,9 miljoen bestee het. Dit is nie seker of hierdie bedrag die geld insluit waarvoor mediese fondse uiteindelik opdok nie.

Mmatli het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie. Hy is op sy selfoon gekontak en ’n teksboodskap is aan hom gestuur.

Die raad

’n Bron, wat nie aangehaal wou word nie, het gesê die verwysing na die raad se besluite kan met ’n paar dinge verband hou waaroor die raad besluite neem.

Die raad besluit onder meer wanneer mediese fondse in kuratele geplaas word, wanneer trustees van mediese fondse verwyder moet word, en neem ook besluite oor die akkreditasie van organisasies in die bedryf.

Die nakomingseenheid is dan een van die eenhede wat met sulke besluite die motivering vir die betrokke besluit aan die raad verskaf.

Talle maatskappye wat honderde miljoene rande uit die bedryf verdien, word deur die RMS gereguleer, insluitende die administrateurs van mediese fondse en gesondheidsorgbestuurders. In die geval van baie groot skemas kan hierdie gelde wat hulle uit mediese fondse verdien, miljarde rande beloop.

Bronne in die bedryf wat nie aangehaal wou word nie het hul verbasing en kritiek uitgespreek oor hoe spesifiek die verklaring is.

“Ek dink hulle het te veel inligting in die verklaring gesit. As die RMS nie 100% seker is dat Mmatli skuldig is nie, gaan hulle hulself blootstel aan ’n groot regsgeding met hom,” het een bron gesê.

Hy meen die verklaring stel die RMS ook bloot omdat mediese fondse wat gelikwideer is en gedwing is om saam te smelt, of waar kurators verwyder is, nou kan vra vir ’n hersiening van dié besluite. “Ek is seker hulle het al met hul regsafdelings in verbinding getree om dit te ondersoek.”

’n Bron sê dit sou wys wees om sekere eenhede van die RMS aan lewenstyl-oudits te onderwerp, insluitende die nakomings- en ondersoekeenheid omdat hulle uit die aard van hul werk blootgestel kan word aan omkoopgeld.

“Dit is net gesonde korporatiewe bestuur. Ek hoop dit gebeur in die toekoms.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2381,58 (472)
  • Top 40 48158,37 (4141)
  • All Share 53874,52 (3359)
  • Resource 10 42374,38 (-13158)
  • Financial and Industrial 30 72821,17 (16551)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.