Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Aptekers geboelie om NGV te steun, kla Solidariteit

’n Bohaai het losgebars oor ’n skynbaar verskuilde dreigement van die Suid-Afrikaanse Aptekersraad aan apteke in verband met die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Amos Masango
Amos Masango, registrateur en uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Aptekersraad.

Sakeliga sowel as die Solidariteit-beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het ’n sterk bewoorde verklaring uitgereik waarin die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAPC) oor hierdie optrede gekap is.

Dit kom nadat Amos Masango, registrateur van die SAPC, in ’n brief aan aptekers hulle gevra het om ’n vorm in te vul wat lui: “Ek, as ’n farmaseutiese beroepspersoon, ondersteun die NGV”. Dié brief ter ondersteuning moes dan aan sy kantoor gefaks of per e-pos gestuur word.

Sakeliga en Solidariteit het albei Dinsdag verklarings daaroor uitgereik.

Sakeliga, wat as ’n onafhanklike sakegemeenskap beskryf word, sê ’n brief is aan die SAPC geskryf waarin aangedring word dat die “instruksie aan lede om hul ondersteuning te beloof aan NGV teruggetrek word”.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het aptekers vandeesweek die brief van Masango ontvang.

Hy meen Masango se brief bevat die “bruuske instruksie” om die aanhangsel te voltooi met die stelling dat die NGV ondersteun word.

Hy meen dit kom daarop neer om ’n “politieke verbintenis” van mense in die bedryf te lok. Hy glo dit is onaanvaarbaar vir ’n statutêre liggaam wat die bedryf reguleer om “rekord te hou van die politieke oortuigings” van sy lede.

Morné Malan, senior navorser verbonde aan die Solidariteit-navorsingsinstituut, sê die raad het ten beste onverantwoordelik en nalatig, en op sy ergste in duidelike kwader trou opgetree.

“Die boodskap wat die raad – wat volgens sy mandaat tugstappe kan instel of lede selfs kan deregistreer – aan aptekers gestuur het, dra duidelik die kenmerke van ’n vriendelike verpligting. Daar word op elke betrokke apteker ’n beroep gedoen om ’n verklaring te voltooi en te onderteken wat lui: ‘I, as a Pharmacy Professional, support NHI.’

“Sulke verpligte spraak is meer kenmerkend van ’n diktatorskap van die destydse Sowjetunie as van ’n demokratiese republiek.”

Die beroepsgilde maan die raad om meer verantwoordelik op te tree en sy onafhanklikheid in daad te bevestig in plaas daarvan om dit net op skrif te doen.

“Uit die 25 lede van die raad word 16 deur die minister van gesondheid aangestel. Hulle behoort hulself gevolglik ernstig daarmee te bemoei om hul onpartydigheid en onafhanklikheid van die minister te bevestig. Hulle is nie daar om bloot die minister se wil as boelies op aptekers af te dwing nie, nog minder om gedwonge instemming vanuit die beroep vir die minister se planne kunsmatig te fabriseer,” sê Malan.

Die beroepsgilde het sy lede ingelig dat hulle nie verplig is om die verklaring te onderteken nie.

Volgens hom het hulle die SAPC gekontak en vasgestel niemand is verplig om dit te onderteken nie. Dit is glo net ’n manier om ’n peiling te doen onder aptekers oor wie die NGV steun en wie nie.

“Ons doen ’n beroep op die raad om in die toekoms baie omsigtiger te kommunikeer aangesien die raad in ’n uiters intimiderende magsposisie teenoor aptekers staan. Ons lede se kommer is geregverdig en die raad se motiewe bedenklik.”

So reageer die raad

Die SACP het Woensdag op Facebook teruggekap en verwys na “vals en kwaadwillige insinuasies dat die raad geregistreerde farmaseutiese beroepsmense opdrag gegee het om die NGV te ondersteun”.

Die raad ontken hy het ’n instruksie aan mense gegee en sê hy is buite konteks aangehaal.

Amos Masango
Die brief van Amos Masango, registrateur van die Aptekersraad, wat aptekers vandeesweek ontvang het. Dit is ’n skermgreep wat Sakeliga by sy verklaring aangeheg het.

Dit is omdat die brief (sien meegaande skermgreep) wat aan aptekers gestuur is verwys na dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, wat op die nasionale aptekerskonferensie wat begin Oktober gehou is, afgevaardiges gevra het om hande op te steek om hul ondersteuning van die NGV te toon.

Dít is egter nie ’n gepaste opname van ondersteuning nie omdat die portefeuljekomitee van gesondheid skriftelike voorleggings oor die NGV vereis, het ’n woordvoerder van die SACP gesê.

aptekers
Die vorm wat aptekers kon onderteken lyk so en is ’n aanhangsel tot die brief, volgens Sakeliga.

Volgens hom is die brief bloot uitgestuur om dit te help fasiliteer vir die minister om die briewe van ondersteuning te kry van die mense wat aangedui het hulle ondersteun dit.

“Die mense wat dit (die konferensie) bygewoon het, sou dadelik die konteks verstaan,” het hy gesê.

Wie is die beroepsgilde?

Solidariteit glo sy toekomstige groeistrategie lê in beroepsgildes, wat ’n verskuiwing is na die beroep van die individue wat hulle verteenwoordig.

Die een vir gesondheidspraktisyns is betreklik onlangs begin. Een van sy hooffokuspunte is om praktisyns se beroep kragtens die NGV te beskerm, het Hennie Biermann, hoof van die Solidariteit-beroepsgilde, gesê.

Solidariteit het voorheen gesê indien die NGV voortgaan in sy huidige vorm, gaan ’n groot hofgeding kom en dit sal deur die beroepsgilde gebring word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.