Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Paniek oor medisyne: Net 6 per persoon, sê Clicks

Die ongekende vraag na noodsaaklike produkte soos kindermedisyne het Clicks nou genoodsaak om ’n perk te plaas op hoeveel produkte mense op ’n slag van sy winkelrakke af mag koop.

Rachel Wrigglesworth, Clicks se handelshoof, sê hulle gaan mense tot ses items van enige produk per persoon beperk. 

“In reaksie op die ongekende vraag en om almal toegang te gee, beperk ons produkte tot ses items per kliënt in die winkel.”

Volgens haar is dit op al die produkte op Clicks se rakke, uitgesluit die apteek, insluitende handreiniger, toiletpapier, vitamines, kindermedisyne en pynstillers. 

Clicks wil dit baie duidelik maak dit sluit nie produkte in wat mense van sy apteke verkry nie, maar net die produkte op die winkelrakke. 

“Ons het ons bestellings wesenlik verhoog van die produkte wat nou in groot aanvraag is en werk nou met ons verskaffers saam om te verseker dat die voorraad die winkels so vinnig moontlik bereik.”

Die aantal aflewerings na winkels is ook verhoog. Pryse gaan nie verhoog word op die produkte weens die toename in vraag nie.

Die farmaseutiese groep Aspen het die publiek gemaan teen paniekaankope van medisyne en ook gesê hy het genoeg voorraad.

Volgens Stephen Saad, uitvoerende hoof van Aspen, is ’n skerp toename gesien in navrae oor en aankope van medisyne vir pyn, asemhalingsprobleme en verkoue en griep wat oor die toonbank gekoop kan word.

’n Foto wat ‘n Kapenaar Teana Fourie Dinsdag in Clicks Rondebosch geneem het wat wys hoe uitverkoop toiletpapier en sekere skoonmaakmiddels is. Foto:

Hy het in ’n verklaring gesê Aspen se voorraadketting kan voorbly met voorraad.

Van die medisyne wat van die rakke af vlieg, sluit in Mybulen, Dicloflam, Flusin, Ibumol en Hyospasmol.

Hy maan teen paniekaankope omdat dit “onnodige stres” veroorsaak. 

Die probleem met mense wat paniekbevange groot voorrade medisyne opkoop, is dat ander mense, soos diegene wat MIV/vigs of ’n ander chroniese toestand het, nie medisyne in die hande kan kry nie. 

Mense wat dit werklik nodig het, kry dus nie medisyne nie. 

“Ons het tans nie voorraadprobleme nie, maar die verkope het die afgelope week toegeneem. Ons wil die publiek aanmoedig om kalm te bly en nie in grootmaat te koop nie.”

Volgens hom word die voorraad voortdurend hersien en word alles in hul vermoë gedoen om vervaardiging so aan te pas dat noodsaaklike produkte beskikbaar sal wees. 

Saad sê ook in die verklaring gesprekke word met die regering gevoer om waar moontlik sy fabrieke se produksie aan te pas om dié medisyne te vervaardig wat die publiek nou nodig het. 

Wrigglesworth sê hulle beleef ook ’n “ongekende en volgehoue vraag” na medisyne en higiëneprodukte. Dit sluit in handreinigers en antibakteriële klam doekies. 

Meer oor:  Aspen  |  Medisyne  |  Pille  |  Covid-19  |  Gesondheid  |  Paniekaankope  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.