Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Bestmed se premies verhoog sowat 4%
bestmed, mediese fonds
Bestmed het einde Desember 2019 meer as 95 000 hooflede en 104 253 afhanklikes gehad. Foto: Unsplash

Die mediese fonds Bestmed, wat verlede jaar R5,6 miljard se bydraes van lede ontvang het, het Vrydagoggend ’n gemiddelde premieverhoging van 4% vir 2021 aangekondig.

Mediese fondse het verskillende opsies (of planne) en nie almal se premies styg met dieselfde persentasie nie. Die 4%-styging is die gemiddelde styging by Bestmed.

Clayton Samsodien, ’n mediesefondsmakelaar en die uitvoerende hoof van Phoenix Financial Services Group, sê dit is ’n goeie premieverhoging en in ooreenstemming met die riglyne wat deur die waghond van die bedryf, die Raad op Mediese Skemas (RMS), aanbeveel is.

In die lig van die swak ekonomie en die finansiële druk op verbruikers het die RMS aanbeveel dat premies met 3,9% of minder verhoog word.

“Dit is goeie nuus vir werkende lede, afgetrede lede en verbruikers wat alternatiewe soek vir 2021, asook mense wat ná die inperking weer ’n pos gekry het en na ’n alternatiewe mediese fonds soek,” meen hy.

Bestmed het einde 2019 amper 200 000 lede en afhanklikes gehad.

Medshield, wat teen einde 2019 amper 160 000 lede en afhanklikes gehad het, het Donderdag ’n gemiddelde premieverhoging van 5,9% aangekondig.

Medshield het in 2019 sowat R3,6 miljard se bydraes van sy lede ontvang.

Samsodien sê die laer premieverhoging van Bestmed is goed vir mededinging en toon hoe die risikopoele van mediese fondse verskil, en wys hoe sommige weens hul tipe lede nie sulke lae premieverhogings sal kan bekostig nie.

Bestmed het einde Desember 2019 meer as 95 000 hooflede en 104 253 afhanklikes gehad.

Die totale bydraes tot (ingesluit in spaarrekeninge) het R5,6 miljard beloop.

Die bydraes tot die versekeringspoel het R4,8 miljard beloop.

Ná eise van R4,2 miljard is R637,6 miljoen oorgehou.

Ná bedryfskoste soos makelaarsgelde, administrasie-uitgawes en afskrywings van onbetaalde premies, het ’n bedryfsurplus van R203,7 miljoen oorgebly.

Bestmed se administratiewe uitgawes het in 2019 R345,6 miljoen beloop. Die grootste deel daarvan, naamlik R149,9 miljoen, was vir personeelkoste.

Die mediese fonds het R212,5 miljoen verdien op die beleggings van sy geld wat in reserwe gehou word. Ná beleggingskoste en rente op spaarrekeninge is ’n surplus vir die jaar van R349,6 miljoen oorgehou.

Die gemiddelde bydrae van lede tot die risikopoel (uitgesluit spaarrekeninge) het R4 269 per maand beloop.

Sy solvensieverhouding het einde Desember 35,4% met R2 miljard van die bydraes van R5,6 miljard in reserwe beloop.

Medshield het einde 2019 ’n surplus van R121,5 miljoen behaal teenoor die tekort van R59 miljoen waarvoor begroot is.

Totale bydraes tot die versekeringspoel het R3,5 miljard beloop. Ná eise is R359,8 miljoen oorgehou.

Makelaarskoste, administratiewe uitgawes en afskrywings het sowat R364 miljoen beloop en ’n bedryfsverlies is gely.

Ná sy inkomste uit beleggings is ’n surplus vir die jaar behaal.

Die mediese fonds se solvensieverhouding (reserwes gehou in verhouding met totale premies) het opgeskuif tot 39,6% vergeleke met die wetlik verpligte 25%.

Die opgehoopte geld het R1,4 miljard beloop vergeleke met die totale bydraes van R3,6 miljard.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.