Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Bestmed: Vrae oor yslike bonus vir tydelike hoof

Lede van die mediese fonds Bestmed is geskok oor die prestasiebonus van R1,9 miljoen wat in 2018 aan die waarnemende hoofbeampte betaal is.

Pieter van Zyl, waarnemende hoofbeampte van Bestmed.

Bestmed is die land se vierde grootste oop mediese fonds en het in 2018 meer as R4,4 miljard se premies van lede ontvang.

Mediese fondse is organisasies sonder winsbejag en die premies word gebruik om voordele aan lede te betaal. Die koste van mediese fondse moet tot die minimum beperk word sodat dit nie onnodig bydra tot premieverhogings in ’n bedryf waar lede reeds elke jaar skerp verhogings moet trotseer nie.

Netwerk24 het in Oktober verlede jaar berig Bestmed is boaan die Raad op Mediese Skemas (RMS) se lys van mediese fondse wie se hoofbeamptes die grootste vergoeding ontvang.

Lees ook: Mediese fondse verklaar hoë salarisse vir bestuur.

Bestmed se pas uitgereikte jaarverslag toon Pieter van Zyl, die waarnemende hoofbeampte, het saam met dié bonus ’n salaris vir die jaar van altesaam R5,03 miljoen ontvang. Sy vaste salaris beloop R2,1 miljoen.

Van Zyl neem sedert April 2017 waar in die pos nadat Dries la Grange ná 21 jaar in die tuig afgetree het.

Sy totale vergoeding het in die afgelope boekjaar met amper 20% gespring teenoor die vorige boekjaar, toe hy net nege maande in die pos as hoofbeampte was.

Vir dié nege maande het hy ’n prestasiebonus van R1,3 miljoen ontvang. Sy totale vergoeding dié jaar was R4,2 miljoen. Voordat hy as hoofbeampte begin waarneem het, was hy reeds in Bestmed se diens as uitvoerende bestuurder van bedryfsake en mensehulpbronne en hy het voortgegaan om ook dié rolle te vertolk.

Bestmed se jaarvergadering word op 13 Junie gehou.

Enige inligting oor ’n individu se vergoeding is vertroulik en geen verdere gedetailleerde inligting sal bekend gemaak word nie.
Fred Camphor, Bestmed voorsitter

’n Bestmed-lid het in ’n e-pos aan Netwerk24 gesê hy verteenwoordig ’n paar lede en was geskok om te sien dat ’n prestasiebonus van R1,9 miljoen aan die waarnemende hoofbeampte betaal is. Hy wil anoniem bly omdat hy vrees die mediese fonds sal “wraaksugtig teen hom optree”.

Hy meen ’n mediese fonds soos Bestmed moet ’n beloning aan ’n hoofbeampte aanbied as die lidmaatskap groei sodat die gemiddelde ouderdom van lede verlaag word. Dít sal lede bevoordeel en laer premieverhogings meebring.

Volgens hom krimp Bestmed se lidmaatskap die laaste twee jaar.

Die jaarverslag bevestig dit, hoewel Van Zyl dit as ’n “effense daling” beskryf.

Fred Camphor, voorsitter van Bestmed.

Fred Camphor, Bestmed-voorsitter, het by navraag per e-pos aan Netwerk24 gesê: “Bestmed openbaar inligting oor die vergoeding van personeel in die geouditeerde jaarverslag soos vereis deur die Wet op Mediese Skemas en soos vereis deur die RMS.

“Vergoeding en aansporings wat aan personeel betaal word . . . word ingevolge goedgekeurde beleid betaal.

“Enige inligting oor ’n individu se vergoeding is vertroulik en geen verdere gedetailleerde inligting sal bekend gemaak word nie.”

Hy sê fondslede wat vrae hieroor het, moet die fonds kontak. “Die raad van trustees beskou dit beslis nie as goeie korporatiewe beheer om (deur die media) met lede te kommunikeer nie”.

Camphor en Van Zyl het nie gereageer op navrae oor hoe die bonus bereken is nie.

In die jaarverslag sê Camphor wel Van Zyl het saam met die uitvoerende bestuurspan ’n belangrike rol gespeel om Bestmed te stabiliseer.

Vorige jaar ook hoog

Die hoë vergoeding volg op ’n jaar waarin Bestmed R11,8 miljoen opgedok het vir die vergoeding van sy hoofbeamptes omdat dit ’n skeidingspakket vir sy voormalige hoofbeampte ingesluit het.

La Grange het vir die drie maande wat hy in 2017 aan die stuur was ’n vergoeding van R7,6 miljoen ontvang, waarby ’n skeidingspakket van R6,5 miljoen ingesluit is.

Die notules van die vorige jaar se jaarvergadering toon lede het vrae gehad oor die prestasiebonusse. Camphor het verduidelik die prestasiebonusse van personeel is gegrond op ’n kontraktuele ooreenkoms tussen die personeellid en die fonds ten opsigte van sekere prestasies en in watter mate dit bereik is.

Dit is die enigste verduideliking in die jaarverslag oor die prestasiebonus van die hoofbeampte en waaraan dit gekoppel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1977,45 (-4457)
  • Top 40 52407,29 (12779)
  • All Share 58421,71 (7848)
  • Resource 10 47920,73 (-7189)
  • Financial and Industrial 30 77899,37 (27688)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.