Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Blink hoofkantoor kos Discovery R23 m. per maand

Die blinknuwe futuristiese hoofkantoor in Sandton waar die Discovery-groep verlede jaar ingetrek het, gaan hom vanjaar sowat R280 miljoen – sowat R23 miljoen per maand – kos om te huur.

Sowat 7 000 mense werk in dié gebou in Sandton vir Discovery.

Die huurkontrak is vir 15 jaar. Die boukoste van die gebou, waarvan die eiendomsmaatskappy Growthpoint die meerderheidsaandeelhouer is, was R3 miljard.

Die atrium in die westelike vleuel van die gebou is so groot jy kan ’n Boeing 737 aan die dakbalk ophang, het Discovery die nuusmedia meegedeel toe dié gebou aan hulle gewys is.

Die reusegebou het nie net ’n gimnasium wat 3 000 lede kan akkommodeer nie, maar selfs ’n hardloopbaan – bulte ingesluit – op die dak, het Netwerk24 voorheen berig. Sowat 1 000 mense werk op elke verdieping – altesame sowat 7 000 mense.

Discovery het bevestig die gebou gaan hom in die boekjaar tot einde Junie sowat R280 miljoen kos.

“Dit is vir al die ondernemings binne Discovery en maak voorsiening vir nuwe ondernemings soos Insure en die bank,” is by navraag gesê.

Discovery het verlede Vrydag getoon hoe groot die impak van die nuwe gebou op sy syfers gaan wees.

’n Ontleder wat nie aangehaal wil word nie het gesê omdat die rekeningkundige hantering van die huur verander het, het dit ’n impak op die resultate.

Die atrium in die westelike vleuel van die gebou is so groot jy kan ’n Boeing 737 aan die dakbalk ophang.

In die Discovery-groep se jaarverslag vir die boekjaar tot einde Junie 2018, wat in Oktober uitgereik is, is gesê sy huurooreenkoms word nou kragtens internasionale verslagdoeningstandaarde as ’n finansiële huurooreenkoms gehanteer. Dit behels die erkenning van ’n bate van R3,1 miljard en ’n huuraanspreeklikheid van R3,6 miljard, wat die “huidige waarde” van alle toekomstige huur behels.

Discovery sê in sy jaarverslag huur word as ’n finansiële huurooreenkoms geklassifiseer wanneer die “risiko’s en belonings van die gebou wesenlik oorgedra word”.

“Die eienaarskap dra nie oor na Discovery aan die einde van die huurtydperk nie en die gebou bly die eiendom van die verhuurders.”

Die maatskappy het by navraag oor hoeveel huur hy per maand betaal, Netwerk24 verwys na ’n grafiek in die jaarverslag wat die maandelikse huur in kontant toon.

Die bedrae is altesame sowat R7 miljard oor die volgende 14 jaar en sluit die jaarlikse verhogings in huurgeld in.

hoofkantoor, Discovery
Die nuwe bank van Discovery se hoofkantoor gaan ook in die gebou wees. Foto: Elvira Wood
Discovery
Die nuwe bank van Discovery se hoofkantoor gaan ook in die gebou wees. Foto: Elvira Wood

Die grafiek toon die huurgeld gaan teen 2022 sowat R400 miljoen per jaar (sowat R33 miljoen per maand) beloop.

Teen 2028 is dit R600 miljoen (R50 miljoen per maand).

In die laaste jaar van die kontrak – 2032 – moet die Discovery-groep R800 miljoen opdok (R66,6 miljoen per maand).

Die huurgeld het verlede jaar ter sprake gekom toe dit bekend geword het dat die mediese fonds Discovery Health Medical Scheme (DHMS) ook daarheen getrek het.

Mediese fondse is onafhanklike organisasies sonder winsbejag.

Die fonds word deur die winsgewende maatskappy Discovery Health, wat deel van die Discovery-groep is, geadministreer.

Netwerk24 het in April verlede jaar berig die mediese fonds weier om vrae te beantwoord oor die huur wat hy in die nuwe kantoor gaan betaal.

Lees hier: Discovery wil nie sê oor huurkoste in nuwe gebou

Dr. Nozipho Sangweni, hoofbeampte, het die huur per vierkante meter bloot as “markverwant” beskryf. Sy het nie geantwoord op die vraag of hulle goedkoper opsies oorweeg het nie.

Discovery het met die bekendstelling van die gebou aan die media gesê hy neem kennis van mediesefondslede se kommer dat die duur gebou hul premies kan laat styg, maar het gesê daar is geen verband nie.

Lees hier: Só lyk dit in Discovery se enorme nuwe gebou

Die maatskappy het gesê die nuwe gebou, 1 Discovery Place, vervang al die ander geboue waarin sy bedrywighede voorheen gehuisves is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.