Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Bly kalm, jy sal ’n bed kry, sê Discovery

Mediesefondslede moet kalm bly oor die beskikbaarheid van hospitaalbeddens in private hospitale, want dit is “hoogs onwaarskynlik” dat ’n hospitaalbed nie beskikbaar sal wees vir iemand wat dit benodig nie, het Discovery Health gesê.

Mediese werkers in die waakeenheid van ’n hospitaal met Covid-19-pasiënte. Mediesefondslede vrees die moontlikheid dat daar nie plek in hospitale vir hulle gaan wees nie omdat die staat ook nou pasiënte na private hospitale stuur. Foto: Reuters

Mediesefondslede vrees die  moontlikheid dat daar nie plek in hospitale vir hulle gaan wees nie omdat die staat ook nou pasiënte na private hospitale stuur. Die kans is ook uiters skraal dat ’n mediesefondslid in ’n staatshospitaal gaan beland.

Dit kom nadat Rapport die naweek berig het die nuwe voorsitter van die Raad op Mediese Skemas, prof. Lungile Pepeta, sê Covid-19-pasiënte met ’n mediese fonds sal nie voorkeurbehandeling kry by private hospitale nie.

Lesers van Netwerk24 het met kommer gereageer op die berig.

LEES OOK: Covid-19: ’n Mediese fonds waarborg nie ’n bed

Rooi Jan het geskryf: “M.a.w. ek betaal deur my nek elke maand om seker te maak ek en my familie kan goeie mediese versorging kry indien nodig . . .”

Lucia le Roux skryf: “ . . . ons betaal bitter baie per maand aan medies, want my man ly al vir jare aan verskeie gesondheidstoestande . . . hy is risiko vir Covid-19, maar nou verseker die hengse premie wat ons per maand aan Discovery betaal moontlik nie ’n bed vir hom SOU dit benodig word nie?”.

Netwerk24 het vir Discovery Health, die administrateur van die grootste mediese fonds in die land Discovery Health Medical Scheme gevra of hulle kan bevestig dat ’n mediesefondslid nie ’n plek in ’n private hospitaal tydens die krisis gewaarborg is nie.

Lesse geleer in Wes-Kaap

Volgens dr. Ryan Noach, uitvoerende hoof, moet wat in die Wes-Kaap gebeur het as ’n beginpunt gebruik word om die vraag te beantwoord.

Volgens hom is daar goeie lesse uit die Wes-Kaapse ervaring te leer.

“Die goeie nuus is in die laaste week het die getal nuwe infeksies in die Wes-Kaap begin daal. Dit blyk baie duidelik dat die Wes-Kaap sy piek reeds bereik het.”

“Daar was nie ’n enkele pasiënt in die provinsie wat intensiewe sorg geweier is nie.”

Hy het gesê dit is waarskynlik nog te kort omdat dit nog net ’n week is en dit moet dopgehou word om te sien of dit volgehou word.

Hy sê met die infrastruktuur wat geskep is tydens die inperking, goeie werk van die departement van gesondheid, en baie sterk samewerking tussen die private en staatsdiens is daar in elke pasiënt se behoeftes voldoen.

“Ons sterk siening is dat dieselfde in die res van die land gaan gebeur.”

Of dit korrek is dat ’n mediesefondslid nie ’n plek in ’n hospitaal gewaarborg gaan word nie, het hy gesê: “Ons glo dit gaan ’n baie onwaarskynlike situasie wees”.

Sal ingevlieg word

Noach sê spesiale reëlings is met verskaffers van mediese lugvervoer getref om in die “onwaarskynlike situasie” waar ’n streek nie vir lede kan sorg nie, hulle na plekke vervoer sal word waar hulle wel sorg kan kry.

In die Oos-Kaap is daar byvoorbeeld minder hospitaalbeddens per capita as in die res van die land, en as daar ’n tekort is aan intensiewesorgbeddens en lede dit nodig het, sal hulle na ander dele van die land vervoer word soos die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal wat naby is en waar daar genoeg beddens is.

Oor kontrakte met mediese fondse wat vereis dat beddens beskikbaar moet wees, het hy gesê daar is sulke kontrakte. “Maar hoe kan jy vanuit ’n humanitêre oogpunt versorging weier aan iemand wat intensiewe sorg nodig het bloot omdat jy die bed vir iemand anders moet oophou? Ek glo nie dokters, gesondheidsorgverskaffers, ons lede en die samelewing sal dit aanvaar nie.”

Noach meen Discovery Health Mediese Skema se lede sal uit ’n humanitêre oogpunt die standpunt steun dat die “finansiële status van ’n pasiënt nie die toegang tot sorg” kan bepaal nie.

“Ons glo ons lede sal dit ondersteun dat die siekste mense wat sorg benodig, versorging sal kry.”

Hy is bekommerd dat die kommer oor beddens angs onder lede gaan veroorsaak terwyl almal nou net kalm moet bly en moet saamwerk. Hy glo nie dit is nodig om angstig te wees daaroor nie.

Oor mediesefondslede wat kwaad is oor die feit dat hulle so duur betaal vir mediesefondse en nie ’n hospitaalbed gewaarborg kan word nie, het hy gesê “ons het tot nou toe nie ’n enkele pasiënt gesien wat nie sorg kon kry nie”.

Hospitaalplan nie onnodig

Lesers wou ook weet waarvoor hulle dan ’n hospitaalplan het.

“Hospitalisasie is vir ’n reeks toestande, nie net vir Covid-19 nie. Drie maande gelede was dit nog vir alles behalwe Covid-19.”

Noach meen Suid-Afrikaners is baie gelukkig dat mense met mediese versekering van die “briljantste waarde vir geld” en van die beste versorging in die wêreld kry.

Volgens hom is daar studies oor waarde vir geld wat toon lede van mediese fondse kry in die Suid-Afrikaanse private gesondheidsorg vinniger en beter toegang as in die meeste plekke in die wêreld.

“Mense wat vir hospitaalplanne betaal, kry uitstekende waarde vir geld. In baie ander lande is daar lang waglyste en selfs al het hulle private dekking, het hulle nie toegang tot dieselfde diens as ons nie.”

Moenie premies stop nie

Vir mense wat dreig om premies te staak, het hy gesê “mediesefondsdekking bied baie wesenlike waarde-vir-geld en private gesondheidsorg bied ’n briljante diens aan die wat dit benodig. Daar is geen belangriker tyd as nou om mediesefondsdekking te behou nie”.

Genoeg beddens oop

Discovery Health het aan Rapport gesê daar word saam met die private hospitale gewerk om kapasiteit in hospitale te monitor.

Op die vraag waar mediesefondslede toegang tot die inligting kan kry, het Noach gesê die hospitale maak nie die inligting aan almal bekend nie. Die dokters wat mense na hospitale moet verwys, word wel baie goed ingelig gehou.

Mediclinic: Beddens nie opsygesit
Die hospitaalgroep Mediclinic sê in die onderhandelinge met provinsiale departemente van gesondheid oor die gebruik van sy hospitaalbeddens is daar nie beddens vir enige pasiënt gereserveer nie – hetsy vir mediesefondslede of vir staatspasiënte.
“Pasiënte van die staatsektor mag opgeneem word indien beddens, toerusting, verpleegpersoneel en ’n dokter beskikbaar is wat die behandeling kan gee,” het dr. Stefan Smuts, hoof kliniese beampte van Mediclinic Suider-Afrika, gesê.
Hy sê die besluit oor die hospitalisasie sal soos altyd geneem word deur die dokter wat die behandeling verskaf op grond van die pasiënt se toestand.
“As ’n hospitaal vol is, sal sekere gevalle soos nie-dringende operasies vir ’n redelike tyd vertraag word.”
Nie Netcare of Mediclinic het vrae geantwoord oor hoeveel Covid-19-pasiënte daar tans in hul hospitale behandel word nie en hoe naby hulle aan vol is in stede soos Kaapstad of Johannesburg nie.
Mediclinic sê die situasie bly verander en word voortdurend gemonitor.
Mediclinic sê uit die tarief van R16 156 per pasiënt per dag wat die staat betaal vir ’n hospitaalbed waar hoë sorg en intensiewe sorg verskaf word, word R11 749 aan die hospitaal betaal.

Die res word as volg opgedeel:

  • Spesialis dokterspan - R2 493
  • Patologie - R588
  • Radiologie - R632
  • Verwante gesondheidsberoepe (fisioterapie, dieetkunde, kliniese tegnologie) - R694.

Hy sê hospitale werk beter saam as wat ooit voorheen gesien is. “Daar is baie noue samewerking tussen staatshospitale en private hospitale.”

Volgens hom is daar ’n sentrale register in die Wes-Kaap oor die beskikbaarheid van beddens wat bygehou word. Pasiënte moet steeds na die hospitaal die naaste aan hulle gaan wanneer sorg nodig is.

“In die onwaarskynlike situasie waar ’n bed nie daar beskikbaar is nie, sal hulle op gepaste wyse oorgedra word na ’n hospitaal waar daar beddens beskikbaar is.”

Volgens hom het hy Vrydagaand laat met al die hospitaalgroepe in die Wes-Kaap gesels en almal het nog beddens in intensiewe sorg beskikbaar gehad.

Navrae is ook aan die verskillende private hospitale gestuur om uit te vind hoe vol hulle tans is.

Nie staatshospitaal toe nie

Oor wat die moontlikheid is dat ’n mediesefondslid in ’n staatshospitaal gaan beland, het hy gesê dit is “basies zero”.

“Ons het dit nog glad nie sien gebeur nie. Dit word ook nie oorweeg nie. Dis andersom. Waar die staat onder druk is, sal pasiënte na die private hospitale gestuur word en daar is ooreenkomste gesluit daaroor.”

Derde van die prys

Rapport het berig die staat betaal net meer as R16 000 per dag vir ’n bed in intensiewe sorg.

Volgens Noach is dit ingevolge ’n ooreenkoms tussen die private hospitale en die departement van gesondheid in die Wes-Kaap. Ander provinsies wil iets soortgelyk kry.

Volgens hom is dit omtrent 30% minder as wat dit gewoonlik vir ’n bed in intensiewe sorg kos.

“Dit word swaar gesubsidieer deur die dokters en die hospitaalgroepe.”

Die prys wat ooreengekom is, is ’n allesomvattende tarief (in Engels staan dit as ’n “global”-tarief bekend) vir al die sorg vir die Covid-19-pasiënt. Dit sluit al die koste in wat verband hou met die sorg vir ’n staatspasiënt in intensiewe sorg.

Meer oor:  Discovery Health  |  Ryan Noach  |  Covid-19  |  Hospitale  |  Intensiewe Sorg  |  Mediese Fonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.