Bonitas, die land se naasgrootste mediese skema, se prysoorlog met hospitale het grootliks bygedra tot ’n astronomiese ommeswaai in sy finansiële posisie.

Bonitas, die land se tweede grootste oop mediese fonds, het in 2017 ’n oorlog oor tariewe met Life Healthcare gewen. Foto: Pixabay
Dié fonds het in 2016 ’n tekort van R26,7 miljoen gehad, maar Donderdag met die bekendmaking van sy 2017-resultate gespog met ’n surplus van R730,2 miljoen.
Gerhard van Emmenis, hoofbeampte van die fonds, sê ’n groot deel, R242 miljoen, het gekom nét uit besparings vanweë hospitaalonderhandelinge. Die fonds het ook meer premies ingesamel (R14,9 miljard) as wat hy in eise uitbetaal het (R13,2 miljard).
Rapport het verlede jaar berig Van Emmenis het ’n prysoorlog met Life Healthcare begin. Toe Bonitas nie die tariewe gekry het wat hy wou gehad het nie, het Bonitas ’n 30%-bybetaling ingestel vir Life se 14 gewildste hospitale soos Rosepark in Bloemfontein, die Flora-kliniek aan die Wes-Rand en Die Wilgers in Pretoria.
In ’n poging om nie die voete van Bonitas se 729 000 mense wat deur Bonitas gedek word te verloor nie, het Life Healthcare ingestem om die bybetalings te absorbeer.
Van Emmenis is nog lank nie klaar nie. “In 2018 gaan ons ’n sekondêre inisiatief begin om hospitale in ons netwerke te identifiseer wat nie koste-doeltreffend is en werk aan hul doeltreffendheid nie,” sê hy in ’n boodskap aan lede.
Van Emmenis het destyds aan Rapport gesê Bonitas was in die gunstige bedingingsposisie weens dié fonds se amalgamasie met Liberty Medical Scheme (LMS) in 2016. Sowat 100 000 mense het hierdeur by Bonitas aangesluit, maar dit was nie kosteloos vir Bonitas nie.
Weens Bonitas se samesmelting met die sukkelende LMS het Bonitas se gemiddelde ouderdom verhoog én hy was skielik onder die vereiste 25%-reserwevlak.
Bonitas se oorspronklike reserwevlak – 26,1% – het steeds nie herstel nie. Vanweë 2017 se groot surplus het dit egter gestyg van 24,4% in 2016 tot die huidige 24,5%.
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het verlede maand met die bekendstelling van die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds sterk kritiek gehad vir mediese skemas wat “groot” reserwes het “wat nie gebruik word nie”.
Dié reserwes verdien egter ook groot inkomste vir die skemas se lede.
Bonitas se reserwes is sowat R4 miljard en het R394 miljoen se beleggingsinkomste verseker.