Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
BTW, hospitale gee Discovery kopseer in 2018
Sowat 7 000 mense werk in dié gebou in Sandton vir Discovery.

Discovery Health Medical Scheme (DHMS) het in 2018 ’n tekort van R352 miljoen op bedryfsvlak beleef nadat eise en uitgawes skerper gestyg het as die premies wat lede in 2018 bygedra het.

Dit is teenoor ’n oorskot van R968 miljoen in 2017.

Omdat mediese fondse organisasies sonder winsbejag is, word daar nie na ’n bedryfsverlies verwys nie, maar dit is waarop dit neerkom. Dit is wat oorbly nadat eise uitbetaal is en administrasie- en gesondheidsorgbestuursgelde, makelaars en ander bedryfskoste betaal is.

DHMS se jaarstate is onlangs uitgereik.

Dr. Nozipho Sangweni, hoofbeampte, sê die hoofrede vir die tekort is die impak van die verhoging in BTW verlede jaar.

Mediese fondse hef nie BTW op lede se premies nie, maar dié belasting word op elke eis deur ’n gesondheidsorgverskaffer gehef, asook op die administrasie- en gesondheidsbestuursgelde.

Sy sê as die BTW-koers nie verlede jaar van 14% tot 15% verhoog is nie, sou DHMS gelyk gebreek het. Die BTW-verhoging het uitgawes onverwags met sowat R350 miljoen laat styg.

Discovery het in September verlede jaar juis die BTW-verhoging die skuld gegee vir die hoër premieverhogings vanjaar.

Lees ook ‘Blameer BTW vir hoër mediese premies’

Eise styg skerp

Nog ’n rede vir die bedryfstekort is dat eise baie skerper as premies gestyg het. In die boekjaar tot einde Desember het die premiebydraes met R4,9 miljard of 8% tot R64,6 miljard gestyg, danksy hoër premies en ’n toename in ledetalle.

Lede groei nog

Die getal hooflede van DHMS het met 2% of 27 427 tot 1,35 miljoen gestyg. Dit is betreklik sterk in ’n bedryf waarin die getal lede nie meer groei nie.

DHMS neem dus markaandeel weg van ander in die bedryf vir oop mediese fondse.

Sy markaandeel het inderdaad gestyg tot 56,6%.

Die getal hooflede plus afhanklikes het met 1,4% of 41 100 tot 2,8 miljoen gestyg.

Die eise wat betaal is, het skerper gestyg as in die vorige jaar. In die afgelope boekjaar het dit met 12% of nagenoeg R5 miljard tot R45,1 miljard gestyg.

Sangweni sê DHMS het vroeg in 2018 baie meer hospitaalopnames beleef. Sy sê dit was meestal kort opnames vir siektes wat onder meer verband gehou het met ’n hoër voorkoms van seisoenale virusinfeksies onder weerloser lede, soos kinders.

Hospitaaleise het met 13% tot R33,3 miljard gestyg.

Daar is ingegryp om “klinies gepaste hospitaalopnames” te verseker en die risiko van dié eise te bestuur.

Uitgawes styg

’n Mediese fonds het buiten die eise wat betaal word, ook administratiewe uitgawes, waarvan administrasiegelde een van die grootstes is.

Die administrasiegelde wat DHMS aan die maatskappy Discovery Health betaal, het met 8% tot R4,9 miljard gestyg.

Sangweni sê dié styging van bo die inflasiekoers is weens hoër administrasiegelde per lid, asook die toename in lede. Die administrasiegelde per lid per maand het met 5,7% van R288 tot R304 gestyg. Dit sluit in die jaarlikse verhoging en die BTW-styging.

Syfers toon hoe groot DHMS is
  • 3,5 miljoen lewens word gedek;
  • Elke ses minute word ’n baba op die mediese fonds gebore;
  • R6,7 miljard se premies word per maand ingesamel;
  • Bykans R32,7 miljoen se eise word per uur uitbetaal; en
  • 3 140 hospitaalopnames word per dag goedgekeur.

Nog ’n groot uitgawe is die koste van gesondheidsorgbestuur.

DHMS het verlede jaar R1,7 miljard of 7,8% meer as die vorige jaar aan Discovery Health betaal vir dié diens, om dieselfde redes as waarom administrasiegelde gestyg het.

Gesondheidsorgbestuur per lid per maand het met 5,4% van R97,96 tot R103,24 gestyg.

DHMS verwys na die jaarverslag van die Raad op Mediese Skemas (RMS) wat toon dat sy gesondheidsbestuurskoste effens hoër as dié van ander oop skemas is. “Die jaarverslag neem nie die kompleksiteit van die skema se voordele en die omvang van die dienste wat gebied word in ag nie, asook die besparings op eise wat verkry word nie.”

Makelaarskoste het met 8% tot R1,3 miljard gestyg.

Beleggings

DHMS probeer sy premieverhogings so bestuur dat alle eise betaal word en ’n effense surplus oorbly om aan die wetsvereiste te voldoen van ’n reserwe van 25% van die totale jaarlikse premies – die sogenaamde solvensieverhouding. Die reserwes word belê en ’n beleggingsopbrengs word op die geld verdien.

Sy markaandeel het gestyg tot 56,6%. Die getal hooflede plus afhanklikes het met 1,4% of 41 100 tot 2,8 miljoen gestyg.

In die afgelope boekjaar was die solvensieverhouding 27,3% (R17,6 miljard). Dit word as ’n voldoende buffer beskou teen onverwagte hoër eise en laer beleggingsopbrengste.

Die solvensievlak word versigtig bestuur sodat dit voldoende is, maar nie so groot word en dat lede se geld ondoeltreffend aangewend word nie.

Sangweni sê die beleggingsvertoning was bevredigend ten spyte van wisselvallige markte.

’n Opbrengs van R1,4 miljard is op beleggings verdien, sowat R32 miljoen meer as die vorige jaar.

Dit het DHMS gelaat met ’n surplus van R816 miljoen. Dit is wesenlik minder as die R2,4 miljard in die vorige boekjaar.

Meer oor:  Discovery  |  Resultate  |  Mediese Fondse  |  Maatskappye  |  Mediese Fonds  |  Mediese Sorg  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2579,48 (5818)
  • Top 40 48247,95 (-18709)
  • All Share 53995,82 (-19210)
  • Resource 10 42465,54 (-4274)
  • Financial and Industrial 30 73008,97 (-35550)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.