Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Covid-19 eis reeds 44 van Bonitas se lede

Tot dusver is 395 lede van die mediese fonds Bonitas in die hospitaal opgeneem met Covid-19.

’n Mediese werker in die waakeenheid van ’n hospitaal. Foto ter illustrasie. Foto: Pedro Vilela/Getty Images

Sowat 23% van hulle is in waakeenhede opgeneem, sê Lee Callakoppen, hoofbeampte van Bonitas.

Bonitas dek meer as 700 000 lewens, wat rofweg 8% van die totale getal mediesefondslede in Suid-Afrika beloop.

Covid-19 het tot dusver 44 van Bonitas se lede geëis.

Callakoppen sê Bonitas het weer sy syfers aangepas om die koste van die koronavirus te probeer raam.

Mediese fondse krap kop oor wat die impak van die pandemie op hul finansies gaan wees weens die onsekerheid oor die uiteindelike omvang daarvan en die uitkringende uitwerking deurdat lede minder eis vir ander toestande en operasies.

Bonitas het, soos ander mediese fondse, op kort termyn ’n daling in die eise vir operasies en behandeling vir minder ernstige toestande beleef. Minder voordele is ook vir oë en tande gebruik.

LEES OOK: Dokters se Covid-pyn: Geen pasiënte

Volgens Callakoppen word verwag dat meer operasies en ’n groter gebruik van voordele later vanjaar en in 2021 ervaar gaan word.

“Dit is moontlik dat eise gaan toeneem wanneer die virus se verspreiding onder beheer gebring en beperkende maatreëls opgehef is.”

Gegewe die groot mate van onsekerheid oor die verspreiding van die koronavirus, word minstens drie scenario’s nog oorweeg, met die laagste aanname ’n infeksiekoers van 0,5% van Bonitas se lede en die hoogste aanname ’n infeksiekoers van 1,5%.

Die middelpunt van 1% word gebruik om ’n vooruitskatting oor eise te doen.

Die grootste koste wat die virus op Bonitas gaan plaas, gaan van Maart tot Oktober ervaar word, sê hy. Die bykomende koste word op R340 miljoen geraam.

Bonitas se data wys tot dusver het lede wat in die hoësorg- of waakeenheid behandel moes word, gemiddeld 13,8 dae in die hospitaal deurbring, waarvan gemiddeld 8,8 dae in die waakeenheid was.

Die pasiënte wat dood is, was tussen 30 en 90 jaar oud, met die meerderheid in die ouderdomsgroep 60 tot 69.

Tot dusver is 22 402 individue vir die virus getoets (24 884 toetse is gedoen; party mense is twee keer getoets). Van hulle is 1 711 positief getoets (7,6% van diegene wat getoets is).

R16 miljoen is vir patologietoetse betaal, wat neerkom op gemiddeld R642 per toets.

Daarvan is R13,3 miljoen uit die risikopoel betaal en R2,7 miljoen uit spaarrekeninge.

Van die mense wat in die hospitaal opgeneem is, het:

  • 41% hoë bloeddruk gehad;
  • 27% diabetes gehad;
  • 23% ’n hartsiekte gehad;
  • 11% was MIV-positief; en
  • 7% ly aan asma.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.