Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
DA se mediese plan ‘binne 5 tot 8 jaar op dreef’
mediese fonds
Die DA se alternatiewe mediese plan behels ’n algemene subsidie aan elke persoon wat daarvoor in aanmerking kom. Foto: Getty Images

Die effektiewe nasionalisering van gesondheidsorg sal private mediese skemas oorbodig maak, het Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid, Dinsdag gewaarsku.

Suid-Afrikaners sal die reg ontneem word om te kies watter gesondheidsorg hulle wil hê, en miljarde se openbare geld sal in die hande van ’n paar politiek-verbinde mense wees, het Gwarube by ’n mediakonferensie gewaarsku oor die regering se voorgestelde nasionale gesondheidsversekering (NGV).

Geen volhoubare finansieringsmodel bestaan om die stelsel te finansier nie. Toe dit beplan is, was dit gegrond op ekonomiese groei van 2,7%, terwyl Suid-Afrika sukkel om skaars 1%-groei te haal, het Gwarube by ’n mediakonferensie by die parlement gesê.

Lindy Wilson, nog ’n DA-woordvoerder oor gesondheid, het gekla provinsies word deur die NGV ontmagtig om gesondheidsorgdienste te lewer. Tot dusver was provinsies die grondvlak-verskaffers van gesondheidsorg.

Die DA se alternatiewe plan vir gesondheidsorg kan binne vyf tot agt jaar ingestel word teenoor die NGV wat oor tien tot 15 jaar beplan word, het Gwarube gesê.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het herinner aan Tito Mboweni, minister van finansies, se waarskuwing Dinsdag dat die land se staatsfinansies op ’n naaldpunt is.

LEES OOK: Beheer hospitale se pryse, pleit Gems

Teen 2021-’22 sal die regering meer bestee aan die terugbetaling van rente op skuld as op enigiets anders, het Hill-Lewis gesê. “Die NGV se naam behoort eerder die nasionale gesondheidsinploffing te wees, want dit is totaal onvolhoubaar.”

Die DA se alternatiewe plan behels ’n algemene subsidie aan elke persoon wat daarvoor in aanmerking kom, ongeag of hulle deur openbare of private gesondheidsorgdienste gedek word. Elkeen kan dan kies of hulle hul subsidie wil gebruik om staats- of private dekking vir gesondheidsorg te koop.

’n Gestandaardiseerde gesondheidsorgpakket sal uitgewerk word. Die party kan egter nog nie duidelik sê hoeveel so ’n pakket sal kos nie. Sekere basiese dienste sal gratis wees vir almal.

Die DA stel voor bykomende bronne word toegeken aan gesondheidsektore met ’n agterstand, byvoorbeeld R1 miljard per jaar ekstra vir die opleiding van mediese personeel, en R2 miljard per jaar ekstra vir moeder- en kindergesondheid waarvoor klinieke en hospitale wat daarvoor kwalifiseer kan meeding.

LEES OOK: Verwag 'skerp styging' in mediese premies

Dié geld kan kom van die R27 miljard per jaar wat by die nasionale begroting gevoeg kan word as die huidige mediese belastingkrediete gestaak word.

Die geld om openbare gesondheidsdienste te verbeter is in effek ’n kruissubsidie van mense wat lid is van mediese skemas aan mense daarsonder, sê die DA.

Gwarube sê iemand sonder ’n mediese skema kan via die standaard gesondheidsorgpakket toegang kry tot sekere dienste by private hospitale, terwyl iemand met ’n mediese skema ook die pakket kan gebruik en ekstra kan betaal as hy meer of ander dienste benodig.

Volgens haar sal die DA se plan genaamd Sizani nie die privategesondheidsektor laat sterf soos die NVG nie, maar ’n volhoubare openbare-private vennootskap bied. Dit kan vinniger as die NVG ingestel word omdat daar binne die huidige gesondheidsbegroting van meer as R222 miljard per jaar gewerk kan word, en daar nie ’n groot staatsonderneming geskep sal word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.