Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Dawie Roodt: Dis 2026 en almal is so bly oor NGV

Dis die jaar 2026, net sewe jaar in die toekoms, en die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is pas finaal geïmplementeer.

Dawie Roodt

Almal in die land is nou geregtig op “gratis” wêreldklas-gesondheidsdienste. Dit was nie ’n maklike proses nie, maar die droom is uiteindelik ’n werklikheid en almal is nou geregtig op dieselfde hoëgehaltediens, soortgelyk aan die openbare gesondheidsdiens wat die NGV voorafgegaan het.

Die loodsprogramme wat die NGV voorafgegaan het, was wel mislukkings, maar geen regdenkende mens het ooit die nodigheid van ’n NGV betwyfel nie.

Hoewel baie doemprofete die plan as onrealisties en onbekostigbaar afgemaak het, het ’n beginselvaste en doeltreffende ANC-regering almal verkeerd bewys. Vandag kry almal in Suid-Afrika gelyke mediese behandeling, ongeag inkomste of sosiale status.

Jy moet net die reëls volg.

Met die eerste simptome van siek wees, kan enigiemand nou aansoek doen om ’n dokter te sien. ’n Doeltreffende en hulpvaardige staatsamptenaar sal ’n dokter aan jou toewys.

Die idee, met reg, is dat ’n leek nie self kan besluit of hy siek is of nie. Maar dit is selfs nog erger as ’n onbevoegde persoon self wil besluit watter dokter hy wil sien; tipiese arrogante bourgeoisie-denke!

Dit is wel ietwat van ’n probleem om vir ’n paar uur in ’n ry te staan om die vriendelike beampte te siene te kry, maar niemand het gesê gratis gesondheid gaan maklik wees nie. Die gerugte dat ’n paar individue, mense in swart karre met blou ligte, voorkeur ontvang, is natuurlik onwaar.

En dan is daar ook stories (fopnuus, natuurlik) dat ’n klein fooitjie die ry korter maak.

En dan is daar ook stories (fopnuus, natuurlik) dat ’n klein fooitjie die ry korter maak.

Uiteindelik word ’n dokter aan jou toegewys: ’n Kubaanse dokter was nou wel nie jou eerste keuse nie, maar alle dokters is tog dieselfde. In elk geval het die meeste selfsugtige dokters die land verlaat ná die instel van die NGV.

Ook maar goed so, want wie wil nou ’n geldhonger, immorele dokter spreek?

Dit is ook jammer dat jy ’n paar maande moet wag voordat jy die dokter mag sien en dis ook effens ongerieflik dat jy so ver moet reis. Maar ons moet almal eerder ophou kla en bly wees dat ons wel gratis mediese dienste kry.

Die vriendelike staatsamptenaar was ook reg toe hy gesê het dat jy ondankbaar is, daar is inderdaad miljoene mense wat nie so gelukkig soos jy is nie! In elk geval is jou simptome nie so ernstig nie, en jou sogenaamde gereelde floutes is pure aansittery.

Ná ’n paar maande is dit jou beurt om die dokter te sien. Dit was nie maklik nie. Vervoer na ’n ander stad was duur. Dit was ook jammer dat jou lêer weggeraak het . . .

Dis natuurlik alles normaal, niemand kan tog verwag dat so ’n omvattende en wêreldklasstelsel wat miljoene mense dien, nie so af en toe probleme ervaar nie.

Dis natuurlik alles normaal, niemand kan tog verwag dat so ’n omvattende en wêreldklasstelsel wat miljoene mense dien, nie so af en toe probleme ervaar nie. Dit sou net makliker gewees het as dit nie was dat jy al so baie gewig verloor het, en jou floutes net meer gereeld geword het nie . . .

Ook jammer daar was nie meer medisyne teen die tyd dat jy die dokter kon sien nie.

Aanvanklik was daar so ’n bietjie teenstand teen die NGV. Waar sou die geld vandaan kom, het die geldgieriges gevra. Maar dit was toe maklik.

Vorige ondervinding het bewys dit is maklik om persoonlike inkomstebelasting te verhoog. Verder was dit nie moeilik om mense te oortuig dat ’n ekstra solidariteitsheffing op kapitaal ook nodig was om die NGV te finansier nie. Net jammer dit het tot verdere afgraderings gelei . . .

Daar was wel ’n aantal teen-revolusionêre mense wat aanvanklik aangedring het om vir hul eie mediese dienste te betaal, maar nadat private mediese dienste onwettig verklaar is, het hulle hul dwaling besef.

Gelukkig het die private mediese bedryf ook tot inkeer gekom en alle private geriewe ook aan die NGV beskikbaar gestel. Dis net jammer dat baie van hierdie geriewe so vinnig agteruit gegaan het – mens kan ook nooit die private sektor vertrou nie . . .

Daar was wel voorstelle voor die implementering van die NGV dat die openbare gesondheidsdiens grootliks geprivatiseer moes word en dat almal die voordele van private gesondheidsdiens kon kry.

Gelukkig het gesonde verstand en morele waardes geseëvier . . .

  • Dawie Roodt is hoofekonoom van die Efficient Group.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.