Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Dis amptelik: Jy sál NGV kan omseil

Dit sal moontlik wees om Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te omseil en nie daaraan te behoort nie.

Dr. Anban Pillay, adjunkdirekteur-generaal in die departement van gesondheid.

Dr. Anban Pillay, adjunkdirekteur-generaal vir die NGV van die nasionale departement van gesondheid, het dié siening Maandag bevestig toe hy op ’n konferensie van die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa) daaroor uitgevra is. Dit is die eerste konferensie wat die hospitaalbedryf hou sedert die wetsontwerp oor NGV vroeër in Augustus deur die departement uitgereik is en na die parlement gestuur is vir bespreking.

Pillay het saam met hooggeplaastes van private hospitale en die mediesefondsbedryf aan ’n paneelbespreking oor die wetsontwerp deelgeneem.

Dit het gou geblyk dat die deelnemers aan die bespreking net so verward is oor aspekte van die wetsontwerp as gewone lede van die publiek.

Melanie da Costa, direkteur van strategie en beleid van Netcare, het gesê sedert die wetsontwerp gepubliseer is, word sy daagliks oorval met vrae.

“Ongelukkig is ek nie in die posisie om enige van die vrae te antwoord nie, selfs nie eens ’n baie eenvoudige vraag nie, soos: Gaan dit verpligtend wees om aan te sluit, en as dit nie verpligtend is nie, gaan ek dan self kan betaal vir dienste?

Ongelukkig is ek nie in die posisie om enige van die vrae te antwoord nie, selfs nie eens ’n baie eenvoudige vraag nie, soos: Gaan dit verpligtend wees om aan te sluit?
Melanie da Costa van Netcare

“Dit is ’n kritieke vraag. Sodra NGV in plek is, sal ek nog steeds dekking van mediese fondse kan kry soos ek wil hê? My vraag is: Moet ek registreer (vir NGV)?”

Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van die groot mediesefondsadministrateur Discovery Health, het gesê daar is ten spyte van die detail in die wetsontwerp én ’n voorlegging van Pillay op die konferensie “dele wat wesenlik dubbelsinnig en verwarrend is”.

“Dit is ’n groot rede vir die mark se negatiewe reaksie op die wetsontwerp en vir baie van die angstigheid wat in die media opgemerk word. Die departement moet van die dubbelsinnigheid opklaar.”

Onsekerheid oor mediese fondse en private hospitale se rol nadat NGV ingestel word, heers ook onder hoës in die bedryf.

Volgens dr. Stavros Nicolaou, ’n topbestuurslid van Aspen Pharmacare en die voorsitter van die taakspan wat die farmaseutiese bedryf verteenwoordig, is R65 miljard se markwaarde van genoteerde maatskappye uitgewis nadat die wetsontwerp uitgereik is.

Dit was met verwysing na Aspen en Discovery se aandeelprys, wat albei skerp geval het nadat die wetsontwerp uitgereik is. Hy meen die onsekerheid oor sekere aspekte van die wetsontwerp het daartoe bygedra.

Broomberg het gesê die belangrikste punt waaroor vrae bestaan, is die rol van mediese fondse en die sogenaamde aanvullende rol wat hulle gaan speel wanneer NGV ten volle in werking tree.

Hy het verwys na die deel van die wetsontwerp wat verwys daarna dat mediese fondse beperk gaan word tot dienste wat aanvullend is tot dié wat die NGV gaan aanbied en dienste waarvoor die fonds nie gaan vergoed nie.

Terselfdertyd is daar ’n deel van die wetsontwerp wat sê as iemand verkies om nie die roete van verwysing te volg wat voorgeskryf gaan word nie, kan die persoon nie van die fonds eis nie.

“Ek as ’n burger van die land en as uitvoerende hoof van ’n belangrike rolspeler in die private sektor soek ’n antwoord hierop. Kan ek in 2026 (wanneer NGV veronderstel is om ten volle in werking te tree) kies om ’n private dokter of spesialis te gebruik wat nie deel is van die fonds nie en dan by ’n mediese fonds daarvoor eis?”

As jy kies om die stelsel te omseil, kan jy. Jy is nie verplig om die verwysingspad te volg nie. Die fonds gaan net betaal as jy die verwysingspad volg.
Dr. Anban Pillay van die departement van gesondheid

Pillay het gesê dit is baie duidelik as iemand nie die reëls oor verwysing gebruik nie, gaan die NGV nie vir die dienste betaal nie. “Dit is dan vir hul eie rekening en hoe hulle dít bestuur, is hul eie keuse. Of hulle aan ’n mediese skema behoort, is hul keuse.

“As jy kies om die stelsel te omseil, kan jy. Jy is nie verplig om die verwysingspad te volg nie. Die fonds gaan net betaal as jy die verwysingspad volg.”

Pillay het gesê aanvullende dienste word omskryf as dienste waarvoor die NGV-fonds nie gaan betaal nie.

“As die fonds dit baie duidelik stel hy gaan nie vir ’n spesifieke diens betaal nie, dan word daardie dienste potensieel ’n aanvullende diens – of dit deur ’n apteek, ’n algemene praktisyn, ’n fisioterapeut of ’n spesialis aangebied word.”

Hy het gesê ’n aanvullende diens kan ’n diens wees wat op enige vlak van die gesondheidstelsel is.

“Die pakket van voordele wat die NGV besluit om te dek, gaan gegrond word op reëls, soos die pad van verwysing wat gevolg moet word. As jy nie die reëls nakom nie, of die diens wat jy verkry, is nie in die voordelepakket nie, is dit nie betaalbaar deur die NGV nie en word dit aanvullende dekking.”

Broomberg het gesê dit is presies wat in Brittanje met sy nasionale gesondheidstelsel (NHS) gebeur waarvoor elke burger betaal, maar 11% van die bevolking kies om steeds private dekking te kry omdat hulle die keuse wil hê om na ’n private hospitaal wil gaan of vinniger ’n operasie wil hê.

Da Costa het gesê daar is ook verwarring oor die konsepwysigingswet op mediese skemas, wat bepaal die registrateur van mediese fondse gaan die mag hê om die voordele wat mediese fondse mag dek, te wysig namate die NGV meer voordele byvoeg.

Pillay het gesê dit handel oor die verpligte minimum voordele (VMV’s); die regulasies daaroor gaan gewysig word.

Broomberg het gesê sy interpretasie van wat Pillay sê, is dat die beperkinge wat kom, ten opsigte van die VMV’s gaan wees.

“Dus, as die voordele deur die NGV verskaf word en almal bydra tot die fonds, kan ’n mediese fonds vrywillig die voordele bied, maar hy hóéf dit nie te bied nie.”

Die paneel het wel beklemtoon dat mense nie sal kan vermy om enige belasting te betaal wat ingestel of verhoog kan word om vir NGV te betaal nie. Die wetsontwerp stel dit pertinent dat inkomstebelasting moontlik verhoog gaan word, maar eers in die finale fase van NGV.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.