Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Dís wat die NGV jou gaan kos!

Die nuwe Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan die klein groepie platsak belastingbetalers in Suid-Afrika basies laat opdok sodat mense soos “Whitey Basson toegang tot gratis gesondheidsorg kan kry”.

Dr. Johann Serfontein
Dr. Johann Serfontein, lid van die Vryemarkstigting se navorsingseenheid oor gesondheidsorgbeleid, Donderdag by die Instituut van Rasseverhoudinge in Auckland Park. Foto: William Horne

Die geld is te min, die infrastruktuur is onvoldoende, en die armes sal niks beters uit die NGV kry nie – hulle sal inderwaarheid waarskynlik minder kry.

Dis die mening van dr. Johann Serfontein, lid van die Vryemarkstigting se navorsingseenheid oor gesondheidsorgbeleid.

Hy het Donderdag op ’n mediakonferensie by die Instituut van Rasseverhoudinge (IRV) in Auckland Park gepraat.

Hy sê dat die armes nie kan voordeel trek uit die NGV nie en dat die enorme las op belastingbetalers wat sal volg uiteindelik net gebruik gaan word om te betaal vir die huidige 8,9 miljoen lede van private mediese skemas wat rééds self betaal vir mediese sorg.

Koste

Die regering bestee sowat R220 miljard per jaar aan die bestaande gesondheidsorgstelsel, sê dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die IRV. Dit is 12% van die staat se begroting en 4% van die bruto binnelandse produk (BBP).

“En hieruit kry ons baie min waarde vir ons geld,” sê sy.

Serfontein sê die huidige begroting vir gesondheidsorg word teen ’n enorme tekort bedryf en dít selfs voordat die NGV ingereken word. “Teen die koers van besteding sou die huidige stelsel op sy eie teen 2026 ’n tekort van R156 miljard per jaar hê,” sê hy. Die NGV moet in 2026 ten volle in werking gestel word.

In syfers: Hoe jy die NGV gaan finansier

Intellidex beraam dat die regering ’n deel van die NGV sal finansier deur meer belasting só in te vorder:

  • Persoonlike inkomstebelasting: Gemiddeld 3 persentasiepunte hoër. Dit sal ’n maksimum belastingkoers van 48% teweegbring.
  • Betaalstaatbelasting: ’n Bykomende 3%
  • Belasting op toegevoegde waarde: 4 persentasiepunte hoër (dus 19%)

Die syfers is met ’n aanname van ekonomiese groei van 2% per jaar tot dan, wat al hoe onwaarskynliker begin lyk.

“Dit is meer as ’n derde van die totale invordering vanuit persoonlike inkomstebelasting.”

Volgens Jeffery onderskat die regering die rol wat die private sektor in gesondheidsorg speel, wat sy beramings van die koste van die NGV verder uitgooi.

Beramings vir die NGV is gegrond op ’n aanname dat slegs 16% van die bevolking staatmaak op private mediese dienste. Die werklike syfer is volgens die IRV sowat 30% van die bevolking.

Om dié skaal van diensverskaffing te probeer oorneem, meen sy, is die beraamde R256 miljard per jaar vir die NGV nie net belaglik laag nie, dis “uit die duim gesuig”.

Dié syfer is boonop nog op 2010 se pryse gegrond, sê Jeffery. Selfs al word die onakkurate raming net vir inflasie aangepas, verhoog dit tot R399 miljard per jaar.

Volgens Serfontein is dit nie lewensvatbaar om die NGV te finansier nie. “As daar nie genoeg geld is of verkry kan word nie, sal hulle doodeenvoudig die dienste beperk wat hulle onder die NGV verskaf.”

Waar armes nou nog ander uitweë het soos gratis klinieke, sal dié dienste ná die NGV nie meer beskikbaar wees nie.

Serfontein sê die behoefte aan ’n behoorlike aktuariële kosteberaming is enorm. Dit sal finaal kan wys of die NGV dan eintlik toegang tot dienste sal verminder weens sy tekort aan geld en ondoeltreffendheid. “Die beperking van toegang tot gesondheidsorgdienste is nié ’n progressiewe realisering van toegang tot universele gesondheidsorg nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.