Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery: Koste van kanker styg 135% in sewe jaar

Daar was ’n skerp styging in die voorkoms van kanker onder kinders wat lid is van die Discovery Health Mediese Skema (DHMS) die afgelope jare. 

In 2018 het DHMS R114?miljoen bestee aan melanoom-verwante behandeling. Die verhouding van lede wat hiervoor behandel is tot die totaal, het van 2011 tot 2018 bykans verdubbel.

Discovery Health, DHMS se administrateur, sê in sy jongste jaarlikse kankerverslag die verhouding van kinders by wie kanker vir die eerste keer gediagnoseer is teenoor die totale kinderledetal van DHMS het van 2011 tot 2018 met 18% toegeneem.

DHMS is die land se grootste mediese fonds en dek 2,8 miljoen lede.  

Dr. Ryan Noach, nuwe uitvoerende hoof van Discovery Health, sê kanker is by 8 731 lede – kinders én volwassenes – in 2018 gediagnoseer.

Dié verhouding van nuwe kankerdiagnoses teenoor totale ledetal het van 2011 tot 2018 met 24% gestyg. Dit word grootliks daaraan toegeskryf dat die gemiddelde ouderdom van lede toeneem.

Discovery Health sê in ’n verklaring altesame 36 939 lede het in 2018 kankerbehandeling ontvang – 58% meer as in 2011. Dit sluit in lede wie se siekte nuut gediagnoseer is én diegene wat van vorige jare af deurlopend kankerbehandeling ontvang.

Koste styg skerp

Die koste van kankerbehandeling het binne sewe jaar met 135% tot R3,5 miljard in 2018 gestyg. 

’n Kombinasie van redes het tot die skerp styging in koste gelei. Dit sluit onder meer in dat die persentasie kankerlyers op die skema toegeneem het asook die toename in die koste van kankerbehandeling, deels weens die bekendstelling van nuwe duur behandeling. 

Die gemiddelde koste per kankerlyer in die eerste jaar van behandeling beloop R173 065. 

Kankers wat die meeste voorkom

Die twee tipes kanker wat die meeste by kinders gediagnoseer word, is leukemie en breingewasse, lui die kankerverslag.

Prostaatkanker is die kanker wat die meeste by mans voorkom. Die persentasie mans by wie prostaatkanker in 2018 gediagnoseer is, is 30% meer as in 2011.  

Die getal lede wat hiervoor behandel word, het oor dié tydperk met 71% gestyg. Borskanker is steeds die algemeenste kanker by vroue. 

“Borskanker is in 2018 by 20% meer lede (in verhouding met die totale ledetal) as in 2011 gediagnoseer, en daar was ’n wesenlike toename van die ouderdom van 40 af,” sê Noach.

Die koste van die behandeling van borskanker het tussen 2011 en 2018 met 107% tot altesame R738 miljoen toegeneem.

Rede vir skerp styging onder kinders

Discovery het by navraag oor wat die rede vir die skerp styging van 18% in die voorkoms van kanker onder kinders gesê “dit stem ooreen met internasionale tendense”.

“In hierdie stadium sal dit bespiegeling wees oor hoekom ons ’n toename in kanker onder kinders sien, veral ten opsigte van leukemie.”

Die aantal (moenie dit verwar met die verhouding van kinders tot die totaal) kinders by wie kanker vir die eerste keer gediagnoseer word, toon ’n skerper styging van 39% van 2011 tot 2018, volgens Discovery.

Dit is omdat die mediese skema se lede sedert 2011 toegeneem het.

Die gemiddelde koste van die behandeling in die eerste jaar ná diagnose beloop R207 561. 

Noach sê die koste het so skerp gestyg as gevolg van die beter oorlewingskoers en omdat kankerbehandeling oor ’n langer tydperk gedoen word.

Die tweede algemeenste kanker by mans en vroue is kolorektale kanker. 

Die behandeling van dié kanker kos gemiddeld R313 739 in die eerste jaar. In 2018 is in verhouding met die totale ledetal 31% meer mense hiermee gediagnoseer as in 2011.

Altesame 58% meer lede is in 2018 hiervoor behandel as in 2011.

In 2018 het DHMS R114 miljoen bestee aan melanoom-verwante behandeling. 

Die persentasie lede wat hiervoor behandel is, het van 2011 tot 2018 bykans verdubbel. 

“Dit is ’n wesenlik skerper styging as wat ons by bors-, prostaat en kolonkanker gesien het.”

Meer oor:  Dhms  |  Discovery Health  |  Administrateur  |  Kanker  |  Kankersyfers  |  Mediese Skema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.