Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery: Só gaan subsidiëring van entstof werk

Mediese fondse gaan ’n hoër prys vir koronavirusentstowwe betaal as die staatsektor. Op dié manier sal die inenting van ’n sekere getal staatspasiënte gesubsidieer word, wat sal

’n Gesondheidswerker hou ’n flessie van die Pfizer-BioNTech-entstof vas by die Martin Luther King jr.-gemeenskapshospitaal in die suide van Los Angeles, Kalifornië. Foto: Reuters

help om die doelwit van kudde-immuniteit te bereik.So verduidelik dr. Ryan Noach, uitvoerende hoof van die administrateur Discovery Health, nadat dit aan die lig gekom het dat mediese fondse ook vir sommige staatspasiënte se entstowwe gaan betaal.

LEES OOK: Entstof: Mediese fondse gaan almal help subsidieer

Netwerk24 het ’n paar vrae aan Discovery Health gestuur omdat die Discovery Health Mediese Skema (DHMS) die grootste in die land is en die administrateur deur die bedryfsinstellings by die onderhandelinge hieroor betrokke was.

1. Is daar enigiets wat die private sektor of mediese fondse verbied om ’n entstof op hul eie die land in te bring?

Inenting teen die koronavirus kan beskou word as die belangrikste ingryping in openbare gesondheid hierdie eeu.

Dit is belangrik dat prioriteitsgroepe die entstof ontvang in volgorde van behoefte, soos en wanneer dit in die land beskikbaar is. Dit sou eties onvanpas wees vir ’n jong, gesonde laerisiko-persoon om die entstof te ontvang vóór iemand met ’n hoë risiko.

Daarbenewens moet alle entstowwe goedgekeur word deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheid (Saphra) voordat dit in Suid-Afrika gebruik mag word. Gevolglik kan niemand entstowwe verkry voordat goedkeuring deur Saphra verkry is nie.

Om dié goedkeuringsproses vinniger te laat verloop, verg sterk samewerking tussen belanghebbendes in die openbare en die private sektor. Saphra het reeds stappe gedoen om ’n vinnige goedkeuringsproses te verseker deur samewerking met internasionale reguleerders.

Ryan Noach
Dr. Ryan Noach word uitvoerende hoof van Discovery Health.

Discovery Health is al geruime tyd regstreeks in kontak met entstofvervaardigers. Hulle verkies dat skakeling met hulle deur die regerings van lande plaasvind om ’n gekoördineerde benadering tot die verspreiding van entstowwe in elke land te verseker. Dit is binne die konteks van ’n groot wêreldwye vraag en die belang om ’n gekoördineerde nasionale strategie te volg.

Dit is onvolhoubaar om ’n geïsoleerde benadering tot die verspreiding van entstowwe te volg omdat dit nie die ekonomiese en gesondheidsvoordele sal meebring van kudde-immuniteit in die hele bevolking nie.

2. Wat doen mediese fondse tans?

Gegewe hoe noodsaaklik entstowwe nasionaal en internasionaal is, werk die bedryf ten nouste saam met die nasionale departement van gesondheid om toegang vir alle Suid-Afrikaners tot die entstof te verseker, en veral vir prioriteitsgroepe.

3. Dinge het nog nooit werklik goed gegaan in staatshospitale nie, hoe kan die private sektor die regering vertrou met so ’n groot taak?

Die minister van gesondheid het die ministeriële advieskomitee vir Covid-19-entstowwe geskep om wetenskaplike leiding en leierskap te verskaf. ’n Gesamentlike taakspan van die openbare en die private sektor is geskep, bekend as die taakspan vir die verkryging van entstowwe, om die finansiering van die entstof te ondersteun, en toesig daaroor en oor die verkryging van entstowwe te hou.

Lede van hierdie taakspan sluit senior leiers in van sowel die openbare as die private sektor.

Daar is ’n sterk werkverhouding in hierdie span en hulle werk onverpoos om vinnige en doeltreffende toegang tot koronavirusentstowwe in Suid-Afrika te verseker.

4. Watter wysiging is aan die Wet op Mediese Skemas aangebring om vir die betaling van die entstof voorsiening te maak?

Ná oorweging deur die ministeriële advieskomitee oor entstowwe het die Raad op Mediese Skemas (RMS) die entstof tot voorgeskrewe minimum voordeel (VMV) verklaar. Die wysiging aan die Wet op Mediese Skemas is reeds goedgekeur.

Die RMS konsulteer via bedryfsverenigings met mediese fondse om steun te kry om die voordeel te finansier. Die voorstel is hartlik verwelkom en ondersteun deur dié bedryfsinstellings.

Ingevolge die wetswysiging en die gepaardgaande konsultasieproses is mediese fondse wetlik verplig om die entstof as ’n VMV vir hul lede te finansier.

Hulle het ook ooreengekom op ’n prysreëling waarvolgens ’n oorskot geskep word deur mediese fondse se aankope van die entstof. Dit kan dan gebruik word om staatspasiënte met ’n hoër risiko te kruissubsidieer.

Dit gaan op ’n een-tot-een-grondslag plaasvind – vir elke entstof wat vir ’n lid gekoop word, word voldoende oorskot geskep om die inenting van een persoon wat nie ’n lid is nie, te subsidieer.

Hierdie prysbenadering ten opsigte van medisyne is nie ongewoon nie. Farmaseutiese groepe verkoop heelwat medikasie teen ’n hoër maksimum prys aan die private sektor as aan die staatsektor.

Medisynepryse in Suid-Afrika word beheer en die enkelpryspunt is die maksimum prys waarteen medisyne verkoop mag word.

Daarbenewens besef mediese fondse hoe uiters noodsaaklik dit is om diegene met ’n hoë risiko in te ent en te vorder op die weg na kudde-immuniteit deur wyer inenting, asook die belangrikheid daarvan om geredelik beskikbare finansiering te voorsien wat die vinniger aankoop van die entstof kan verseker.

Dit is ongetwyfeld ’n tydstip waarin solidariteit in die gesondheidsorgbedryf van groot belang is vir die land.

5. Miljarde rand is betrokke. Dink jy nie daar is ’n risiko vir korrupsie en omkopery met sentrale aankope nie?

Dié vraag moet aan die departement gevra word. Ons stem saam dat die hele proses deursigtig moet wees, van finansiering tot verkryging en verspreiding.

Deur ons samewerking met die departement tot dusver het ons die omvattende poging gesien van die minister en sy span om ’n doeltreffende en korrupsievrye aankoop- en verspreidingsproses te bewerkstellig.

6. In die praktyk, hoe gaan die entstof verkry word? Wie onderhandel, wie koop dit, wie voer dit in en wat gebeur wanneer dit ingevoer is? Wanneer raak die private sektor betrokke?

Die presiese besonderhede moet nog afgehandel word.

Dit is egter beslis so dat mediese fondse uit die risikopoel gaan betaal vir entstowwe vir hul lede gegewe dat dit nou ’n VMV is.

Sowel die private as die openbare gesondheidsektor het goeie prosesse vir die verkryging en verspreiding van entstowwe en ander medisyne, wat ingespan kan word vir die inentingsprogram in ooreenstemming met die riglyne van die Covid-19-entstof-advieskomitee.

Meer oor:  Discovery Health  |  Ryan Noach  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Mediese Skemas  |  Entstof  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.