Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery, Gems ‘vir ongerymdhede ondersoek’

Inspeksies word tans by die twee grootste mediese skemas in die land, Discovery Health Medical Scheme (DHMS) en die Government Employees Medical Scheme (Gems), gedoen om beweerde ongerymdhede met die betaling van voordele te ondersoek.

Dit sluit in dat voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) nie korrek betaal word soos wat die wet voorskryf nie. 

Dr. Sipho Kabane, waarnemende registrateur van mediese skemas. Foto: Nellie Brand-Jonker

Stephen Mmatli, die Raad op Mediese Skemas (RMS) se hoof van nakoming, sê en van die dinge wat ondersoek word, is bewerings dat VMV’s nie betaal word nie. Dit betrek Discovery Health, die administrateur van DHMS en ook van verskeie geslote fondse in die mark, sowel as Gems se administrateur. Sien skemas se reaksie hieronder.

Die RMS het Dinsdag in die parlement voor die portefeuljekomitee oor gesondheid na die inspeksies by die twee reuseskemas verwys toe sy jaarverslag en die koste van die inspeksies bespreek is. Dis ook Woensdag aan die media voorgelê.

Dr. Sipho Kabane, waarnemende uitvoerende hoof van die RMS, het by navraag oor die rede vir die inspeksies aan Netwerk24 gesê dit was roetine-inspeksies.

Volgens hom is daar met die roetine-inspeksies sake gevind wat verdere ondersoek verg. Hy het gesê dit is in die proses om afgehandel te word, waarna die skemas kans sal kry om op die aantygings te reageer.

Hoewel Kabane gesê het dat dit roetine-inspeksies is, toon die jaarverslag van die RMS dat dié inspeksies oor beweerde ongerymdhede by die twee skemas uitgevoer is. Die inligting verskyn onder die hofie “inspeksies ná klagtes of aantygings” en nié onder die lys van skemas waarby roetine-inspeksies uitgevoer is nie.

By albei skemas word aangetoon dat hulle ná “bewerings van ongerymdhede” ondersoek is.

Roetine-inspeksies

Roetine-inspeksies is by die volgende skemas gedoen:

  • Fishmed: Ná die inspeksie het die skema opdrag gekry om twee trustees te verwyder.
  • Golden Arrow: Die skema moes ná die inspeksie een trustee verwyder en ’n winsdelingsooreenkoms beëindig.
  • Resolution Health: Die inspeksie het aantygings van ongerymdhede onthul wat buite die bestek van die roetine-inspeksie val en daarna is opdrag vir ’n verdere inspeksie gegee.
  • Pick n Pay Medical Scheme: Die skema het opdrag gekry om aan sekere interne sake aandag te gee.

Roetine-inspeksies by die volgende skemas duur voort:

  • PG Group
  • Witbank Coalfields
  • Libcare
  • Medshield

Ook Bonitas en Resolution Health word tans aan inspeksies onderwerp oor beweerde ongerymdhede, toon die verslag.

Die skemas is vroegoggend om kommentaar genader en tot 13:00 kans gegee. Lees die kommentaar hieronder.

Die RMS mag ingevolge art. 44 van die wet inspeksies oor die sake van mediese skemas uitvoer indien die registrateur van mening is dat dit bewyse van ongerymdhede of ’n oortreding van die wet gaan toon, lui die verslag.

Die hoofdoel van die RMS is om lede en hul afhanklikes te beskerm.

Volgens Kabane het die RMS se eenheid vir wetstoepassing en inspeksies 23 inspeksies in die jaar tot einde Desember 2017 uitgevoer. Daarvan is ses in opdrag uitgevoer en 17 was roetine-inspeksies.

Dr. Clarence Mini, voorsitter van die Raad op Mediese Skemas (RMS) se direksie. Foto: Nellie Brand-Jonker

Roetine-inspeksies word uitgevoer om seker te maak skemas kom die Wet op Mediese Skemas, hul skemas se reëls, interne beleid en prosedures na en om die algehele geskiktheid en fatsoenlikheid van die raad van trustees te bepaal.

“Waar ’n gebrek aan goeie korporatiewe bestuur is, het die RMS direktiewe uitgereik aan die skema om die oortreding reg te stel.”

Skemas waar werklike gebreke geïdentifiseer word, word onder kuratele geplaas.

In Mei 2017 is ’n forensiese inspeksie oor Community Medical Aid Scheme (Commed) se sake gedoen nadat lede gekla het oor die skema wat nie eise uitbetaal nie. Die skema is op 2 Junie verlede jaar onder kuratele geplaas. Die kuratele is in Februarie vanjaar bevestig.

   

Só reageer mediese skemas

   

Bonitas: “Ons gee ons samewerking aan die RMS oor die ondersoek. Die ondersoek is in Desember 2014 begin en die skema het saamgewerk met die inspekteur en dieselfde inligting aan die inspekteur op drie geleenthede verskaf. Tot op hede is daar geen verdere kommunikasie van die raad oor die status of vordering van die ondersoek nie.”

Resolution se Mark Arnold, hoofbeampte: “Die skema kan bevestig ’n roetine-inspeksie is deur die RMS vroeer vanjaar gedoen en ’n tussentydse verslag is ontvang wat net tegniese bevindinge bevat wat nie wesenlik van aard is nie. ’n Daaropvolgende inspeksie is uitgevoer en die skema sal reageer sodra ’n verslag ontvang is.”

Gems se dr. Guni Goolab, hoofbeampte: “Die inspeksie het op 7 September 2017 begin. Die kennisgewing wat ons ontvang het, het geen detail oor beweerde ongerymdhede gehad nie. Gegewe dat die inspeksie nog voortduur, is geen finale verslag ontvang nie.” Volgens hom is dit in sy jaarverslag wat in Junie vrygestel is aan belangegroepe gekommunikeer. 

Discovery Health Medical Scheme  (DHMS): Ons kan bevestig dat die RMS ’n art. 44(4)(a)-inspeksie oor sekere sake met betrekking tot DHMS ingestel het. Die skema het ten volle met die inspekteur saamgewerk tydens die proses. Die inspeksieproses is nog nie afgehandel nie. Ons het aanvanklike verslae ontvang en het daarop gereageer. Ons kan nog nie verder kommentaar lewer totdat die proses afgehandel is nie.

Meer oor:  Discovery Health  |  Gems  |  Mediese Skemas  |  Ondersoek  |  Mediese Fondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.