Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery Health ontken vet wins spruit uit hoër koste

Sy vet wins spruit g’n uit hoë administrasie- en gesondheidsbestuursgelde wat hy van mediese fondse vra nie, sê die mediesefondsadministrateur Discovery Health.

Die vyf jaar lange markondersoek na die private gesondheidsbedryf kom tot die gevolgtrekking dat Discovery Health “oor ’n lang tydperk ’n wins verdien wat ’n veelvoud is van dié van sy grootste mededingers”.

LEES OOK: Discovery Health: Vet wins laat navorsers kopkrap

Die markondersoek erken baie van Discovery Health se sukses is danksy strategie, innovasie en ’n baie bevoegde bestuurspan. “Maar ons glo nie dié faktore alleen verduidelik die wesenlike gaping in winsgewendheid vergeleke met sy regstreekse mededingers nie,” lui die verslag.

Die ondersoekpaneel glo hoër as nodige administrasiegelde en die feit dat Discovery Health Medical Scheme (DHMS) aan die administrateur Discovery Health “vasgeketting” is, is twee van die redes vir die vet wins.

Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health, sê beskikbare openbare inligting wys duidelik die maatskappy se winsgewendheid spruit nie daaruit dat hy hoër gelde van mediese fondse vra as ander administrateurs nie. Hy grond dit op die administrasie- en gesondheidsbestuursgelde wat DHMS aan hom betaal in verhouding met die totale premies wat tot die mediese fonds bygedra word.

Discovery
Discovery se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg.Foto: Elvira Wood

Dié syfer is “amper presies dieselfde as die geweegde gemiddelde” van al 22 oop mediese fondse. Volgens hom is DHMS se administrasie- en gesondheidsbestuursgelde gemeet op dié grondslag die tiende laagste van die 22 mediese fondse.

Die markondersoek meen egter Discovery Health vra hoër as nodige gelde gegewe sy skaalekonomie. Die ondersoekpaneel meen dus in die lig van DHMS se groot aantal kliënte, moet sy gelde eintlik laer wees.

DHMS is die grootste mediese fonds in die land.

Broomberg verwys in sy kommentaar glad nie na skaalekonomieë nie. Hy verwys ook nie na DHMS se “vasgekettingde” situasie weens die feit dat die mediese fonds nie dienste van ander administrateurs probeer bekom nie.

Die ondersoekpaneel meen ook Discovery Health se hoë winsvlak “dui op ’n mate van markkrag”, met ander woorde dat die administrateur pryse na willekeur kan vasstel.

Broomberg sê in reaksie hierop Discovery Health het ’n formele kontrak met elk van die 19 mediese fondse wat hy administreer (insluitende DHMS). Met elkeen word die diensgelde op ’n kommersiële grondslag onderhandel. Volgens hom het die trustees van die mediese fondse wesenlike mag in die onderhandelingsproses.

Luidens die finale verslag van die markondersoek is die trustees van mediese fondse egter in die algemeen nie in staat om namens lede op te tree nie weens die oorheersende belange van winsgewende administrateurs.

“Ons staan by ons siening dat mediese fondse se bestuur verbeter moet word om te verseker dat lede se belange ten volle beskerm word en dat hulle in staat is om die fondse en die administrateurs aanspreeklik te hou,” lui die verslag.

Talle aanbevelings word gedoen oor hoe die korporatiewe beheer van mediese fondse moet verbeter, soos dat trustees en hoofbeamptes se vergoeding duideliker met die prestasie van die fonds verbind moet word, asook kernbevoegdhede waaraan hulle moet voldoen.

Die markondersoek beveel ook aan mededinging onder administrateurs moet verbeter word deur maatstawwe oor nie-gesondheidskoste (administrasie- en gesondheidsbestuursgelde) te publiseer sodat die administrateurs met ’n jaarlikse gemiddelde vergelyk kan word.

Nog ’n voorstel is dat administrateurs se fidusiêre verantwoordelikheid teenoor verbruikers in wetgewing uitgestippel moet word.

Broomberg sê Discovery Health het nog altyd opgetree asof hy ’n sterk fidusiêre plig het teenoor die mediese fondse wat sy kliënte is, asook húl lede en raad van trustees. “Ons is dus gemaklik met die aanbeveling dat die fidusiêre verantwoordelikheid geformaliseer moet word.”

Die markondersoek het ook bevind die mark vir administrateurs is hoogs gekonsentreerd.

“Ons stem saam dat die mark gekenmerk word deur drie sterk administrateurs wat die grootste deel van die markaandeel hou. Dit is weens wetgewing wat die toetrede van nuwe administrateurs bemoeilik. Ons verwelkom die toetrede van mededingers, wat tot voordeel van verbruikers sal wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.