Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery Health se bedryfswins styg 11%
Adrian Gore, uitvoerende hoof van die Discovery-groep, in Julie in Japan toe Sumitomo Vitality bekend gestel is. Foto: Verskaf

Die mediesefondsadministrateur Discovery Health het in die afgelope boekjaar tot einde Junie “uitsonderlike resultate” gelewer en sy bedryfswins 11% tot R2,77 miljard verhoog.

Discovery Health se resultate word saam met die genoteerde Discovery-groep bekend gemaak. Netwerk24 fokus meer op Discovery Health se resultate omdat sy lesers meestal aan mediese skemas behoort en ’n groot belangstelling daarin het.

In geheel het die groep se bedryfswins sterk met 17% tot R8,2 miljard gestyg.

Adrian Gore, uitvoerende hoof van die groep, sê al die ondernemings wat nog as opkomende sake gegroepeer word – wat self opgebou is en nog in ’n boufase is – het in die jaar winsgewend geword. Dit sluit in sy Vitality-groep oorsee en die private mediese versekeringsgroep in China Pingan. Sy Discovery Insure, wat as die vinnigste groeiende korttermynversekeraar in Suid-Afrika beskryf word, word ook hier ingesluit en het begin wins maak.

Dié Vitality-groep moet nie verwar word met Discovery Vitality (Suid-Afrika) en VitalityHealth en VitalityLife (albei van Brittanje) nie.

Só lyk die verskillende dele se bedryfswins:
  • Discovery Life: 7% tot R3,8 miljard
  • Discovery Health: 11% tot R2,7 miljard
  • Discovery Invest: 19% tot R885 miljoen
  • VitalityHealth: 108% tot R589 miljoen
  • VitalityLife: 6% tot R515 miljoen
  • Discovery Insure: 193% tot R68 miljoen.
  • Discovery Vitality: 132% tot R58 miljoen
  • Vitality-groep: 160% tot R90 miljoen.

Die groep deel sy ondernemings op in gevestigde, opkomende en ontwikkelende ondernemings. Ontwikkelende ondernemings sluit sy bankbedrywighede in en alles wat hier saamgroepeer word, toon nog ’n verlies.

Discovery se deel van Ping An Health se wins het 279% tot $4,4 miljoen gestyg.

Discovery Health is sy naasgrootste bydraer tot wins.

Die aantal lewens wat deur dié administrateur bestuur word, is 3,5 miljoen.

Volgens Gore werk Discovery Health se strategie met geslote skemas. Van die 17 tenders wat geslote skemas die afgelope tyd uitgereik het, het Discovery 16 gewen.

Die administrateur bestuur nou 18 geslote skemas met meer as 667 000 lewens onder bestuur. Vergeleke daarmee het hy verlede jaar einde van die boekjaar 635 000 lewens van geslote skemas bestuur.

Volgens Gore is dit ’n 17% markaandeel van die geslote mark vir mediese skemas.

Die jongste geslote skema wat Discovery gewen het, is Engen Medical Benefit-fonds wat van 1 Julie af bestuur word.

Terselfdertyd het die Discovery Health Mediese Skema (DHMS) se getalle met 2% tot 2,8 miljoen lewens gestyg.

Dié skema maak 56% van die mark vir oop mediese skemas uit.

Hy sê die maatskappy is aktief in gesprek oor die markondersoek na die private gesondheidsorg se bevindinge wat onlangs uitgereik is; die wetsontwerp oor die nasionale gesondheidsversekeringsplan (NGV) en die wysigingswetsontwerp op mediese skemas.

“Die meeste van die bevindinge en aanbevelinge is rasioneel en gepas en sal ’n goeie impak op die private gesondheidsbedryf hê,” het hy oor die markondersoek se bevindinge gesê.

Die Discovery-groep se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg.Foto: Elvira Wood

Gore sê hoë mediese inflasie duur voort en word veroorsaak deur ’n kombinasie van faktore wat van verskaffers en van verbruikers kom.

Volgens hom dra nuwe hospitale, nuwe medisyne en toestelle by tot die verhoging in mediese inflasie wat deur verskaffers veroorsaak word.

Aan die ander kant toon inligting van DHMS chroniese siektes en kanker neem toe onder lede terwyl die lede stelselmatig ouer word. “Ons weet nie hoekom dit gebeur nie,” het hy oor die voorkoms van kankers wat toeneem onder lede gesê.

Die bruto invloei van bydraes wat Discovery Health ontvang het, het 11% tot R75,4 miljard gestyg. Dit is by verre die onderneming in die Discovery-groep se stal wat die meeste premies invorder.

Discovery Health administreer DHMS en verskaf ook bestuurde gesondheidsorgdienste. Administrasie- en gesondheidsorgbestuursgelde word onderskeidelik daarvoor gevra. Die gelde het in die boekjaar R5,49 miljard beloop, vergeleke met R5,09 miljard verlede jaar.

In geheel het die bruto inkomste van die hele groep 9% tot R51 miljard gestyg.

Dit bestaan uit:

  • Inkomste uit versekeringspremies, wat 9% tot R37,3 miljard gestyg het;
  • Inkomste uit administrasie, wat 10% tot R9,2 miljard gestyg het; en
  • Inkomste uit Vitality, wat 5% tot R4,4 miljard gestyg het.

Die groep se aandeelprys het 3% tot R172,73 gedaal.

Meer oor:  Discovery Health  |  Discovery  |  Adrian Gore  |  Wins  |  Resultate  |  Mediese Fonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.