Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery Health: Vet wins laat navorsers kopkrap

Hoe kry die mediesefondsadministrateur Discovery Health dit reg om voortdurend baie meer wins te maak as sy mededingers?

“Discovery Health het oor ’n lang tydperk ’n wins verdien wat ’n veelvoud is van dié van sy grootste mededingers.” Foto: iStock

Die antwoord lê volgens die markondersoek na die private gesondheidsorgbedryf in die “hoër as nodige diensgelde” gegewe sy skaalvoordele, asook die feit dat die mediese fonds Discovery Health Medical Scheme (DHMS) “vasgeketting” is aan Discovery Health as administrateur. DHMS “probeer nie dienste van ander in die bedryf kry nie”.

Verbruikers wat gehoop het die markondersoek sal ’n aanbeveling teen Discovery Health doen, gaan egter teleurgesteld wees.

Hoe word vet winste volgehou?

Die markondersoek het gekyk na die faktore wat mededinging in die private gesondheidsbedryf voorkom, beperk en verwring.

Een van die bevindinge is dat daar baie hoë versperrings vir toetrede tot die mark vir administrateurs is. Min nuwe administrateurs kom na die mark, ten spyte van die baie hoë winste van hierdie ondernemings.

“Discovery Health het oor ’n lang tydperk ’n wins verdien wat ’n veelvoud is van dié van sy grootste mededingers.”

In die finale verslag word erken ’n volgehoue hoë wins beteken nie ’n maatskappy se pryse is noodwendig hoër as wat dit sou wees in ’n mededingende mark nie. Maar dit gee “ ’n nuttige aanduiding van die moontlike uitoefening van markkrag (dus die potensiële vermoë om pryse te beheer)”.

Daarby is die mark vir administrateurs is “hoogs gekonsentreerd”.

In 2017 het Discovery Health en Medscheme saam 79% van die markaandeel gehad gegrond premies ingesamel. Dit dui op die potensiaal om markkrag te gebruik “om die administrasie- en bestuursgelde en ander gelde wat hulle van mediese fondse verhaal, te verhoog om sodoende hul inkomste en wins te vergroot”.

Die markondersoek erken wel baie van Discovery Health se sukses is danksy strategie, innovasie en ’n baie bevoegde bestuurspan.

“Maar ons glo nie dié faktore alleen verduidelik die wesenlike gaping in winsgewendheid vergeleke met sy regstreekse mededingers nie,” lui die verslag.

Benewens hoër as nodige diensgelde en die feit dat DHMS “vasgeketting” is, dra die manier hoe makelaars bestuur word by tot Discovery Health se hoë wins, is bevind.

“Onder normale mededingende omstandighede sal Discovery Health se winsgewendheid nuwe mededingers lok en mededinging aanmoedig, wat die beduidende winsverskil sal wegvreet. In teenstelling hiermee sien ons egter Discovery Health word met verloop van tyd sterker, groter en meer winsgewend.”

Dit dui vir die ondersoekpaneel op “ ’n mate van markkrag” wat Discovery Health op mediese fondse het.

Wins ‘is g’n so hoog’

Discovery Health wou nie vroeër die week kommentaar lewer op die verslag wat Maandag uitgereik is nie en kon nie Vrydag betyds vir publikasie kommentaar lewer op spesifieke vrae oor sy wins nie.

Die maatskappy het wel aan Fin24 gesê hy gaan nie teen die bevindinge van die markondersoek appelleer nie.

In sy kommentaar oor die voorlopige verslag wat verlede jaar uitgereik is, het Discovery Health wel gesê die berekeninge van die markondersoek “oordryf sy winsgewendheid wesenlik”, verwring die resultate en is “misleidend en skadelik vir sy reputasie”.

Discovery het toe ook gesê as die aanname korrek is dat sy winsgewendheid voortspruit uit markkrag , moet daar duidelike bewyse wees dat hy hoër administratiewe gelde as sy mededingers hef. Hy ontken dit.

Hy het ook gesê sy winsgewendheid stem ooreen met internasionale norme.

Hy het ook kapsie gemaak teen die opmerking oor skaalekonomieë en dat dit beteken administratiewe gelde moet daal namate lidmaatskap groei. “Dit ignoreer die alternatiewe en redelike benadering dat die surplus wat skaalekonomieë skep, belê word in bykomende dienste sodat die mediese fonds beter waarde aan sy lede bied, eerder as om administratiewe gelde te verlaag.

“Solank as wat bykomende beleggings groter waarde gee aan DHMS as ’n verlaging in administratiewe gelde, is die benadering van die trustees rasioneel.”

Geen aanbevelinge

Ten spyte van die uiteensetting van wat die markondersoek meen mededinging kan beperk, is dit moeilik om ’n aanbeveling in die verslag te vind wat met markkrag verband hou.

Daar word wel aanbeveel dat trustees en hoofbeamptes van mediese fondse voldoende opleiding en vergoeding kry om seker te maak mediese fondse kry waarde vir geld van administrateurs en verskaffers.

Maar dié aanbeveling hou verband met die bevinding dat hoofbeamptes en trustees van mediese fondse meer kan doen om te verseker dat die belange van lede beskerm word.

“Daar is dikwels ’n baie knus verhouding tussen administrateurs en die mediese fondse wat hulle administreer. Hoewel dit nie noodwendig ’n probleem is nie, is daar ’n behoefte om die rol van trustees en hoofbeamptes te versterk om lede eerste te stel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.