Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery se ‘gratis’ iPhones allermins verniet
Discovery se “gratis” iPhone is alles behalwe verniet. Foto: Unsplash

Nes strawwe oefening minstens drie keer per week jou ’n gratis Apple Watch kan gee, gaan Discovery nou goeie finansiële gedrag met ’n gratis iPhone beloon.

Maar by nadere ondersoek is dit duidelik dié foon is alles behalwe gratis.

Discovery, wat deesdae ook sy eie bank bedryf, het bekend gemaak hoe kliënte voordeel kan trek uit sy spesiale lojaliteitsprogramme om ’n nuwe iPhone te kry deur sekere teikens te haal.

Eerstens moet jy ’n kliënt van Discovery se bank, sy Vitality-program én sy motorversekering wees.

Jy kan ook nie net ’n “gewone” kliënt by Discovery Bank wees nie; jy moet op minstens een van sy twee duurder pakkette wees.

Jou pakket hang af van jou inkomste en behoeftes. Hoe meer jy verdien, hoe duurder is jou pakket – en die iPhone waarvoor jy kwalifiseer.

Op Discovery se platinum-pakket, met sy agt gratis kontantonttrekkings by ’n OTM per maand, kwalifiseer jy vir ’n gratis iPhone 8 met 64 gigagrepe se stoorplek.

Dié foon is reeds twee jaar lank beskikbaar en kos deesdae sowat R10 000 of sowat R500 per maand op kontrak.

Die koste vir ’n platinumkaart beloop R240 per maand.

As jy ingeteken is op Discovery se swart pakket, kwalifiseer jy vir ’n iPhone XR met 64 gigagrepe se stoorplek.

Dié foon, wat verlede jaar uitgereik is, kos sowat R13 000 en is ook beskikbaar teen sowat R650 per maand op kontrak.

Die koste van ’n swart kaart beloop R440 per maand.

Net Discovery se uitverkorenes kwalifiseer vir ’n sogenaamde pers kaart. Dit is Discovery Bank se mees gesogte bankproduk waartoe net spesiale kliënte uitgenooi word om aan te behoort.

Dit is nie eens bekend hoeveel hierdie kliënte per maand vir bankdienste opdok nie.

Hulle kwalifiseer wel vir die splinternuwe iPhone 11 Pro met 64 gigagrepe se stoorplek wat verlede maand uitgereik is.

Dié slimfoon kos sowat R22 000, of om en by R999 per maand op kontrak.

So op enige van bogenoemde pakkette kwalifiseer jy vir ’n gratis iPhone, maar jy sal nog heelwat moet sweet om dit “gratis” te kry.

Benewens die maandelikse bankkoste moet jy ook soveel as R7 500 per maand op die gekoppelde kaart bestee om niks vir jou foon te betaal nie. Dit geld sowel die swart as pers kaarte. Op die platinumkaart moet jy R5 000 in ’n maand bestee.

Dan moet jy ook nog ’n lid van Vitality wees teen minstens R259 per maand (aanstaande jaar styg dié prys tot R280 per maand).

Op Vitality moet jy elke maand al jou oefenteikens behaal deur minstens drie keer ’n week ’n halfuur lank vurig te sweet in die gim of jou naaste park.

Dan moet jy ook jou motor by Discovery verseker en jou weeklikse bestuursteikens haal. Jy verdien punte as jy onder meer nie te vinnig ry of stop nie en nie jou selfoon gebruik terwyl jy bestuur nie.

Spesifieke finansiële teikens word ook binnekort ingestel waarvolgens jy ’n sekere bedrag geld per maand sal moet spaar om jou nuwe iPhone heeltemal gratis te kry.

As jy enige van hierdie teikens in ’n betrokke maand misloop, gaan Discovery ’n bedrag geld van jou verhaal vir die foon.

So voordat jy te opgewonde raak vir die vooruitsig van ’n “gratis” nuwe iPhone, doen eers die somme.

Dit sal waarskynlik heelwat goedkoper en minder moeite wees om net ’n kontrak by jou diensverskaffer uit te neem vir ’n nuwe toestel.

Boonop sal jy dan kan kies watter foon jy graag wil hê.

Meer oor:  Vitality  |  Discovery  |  Iphone  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.