Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery sê koebaai vir Vitality Rewards-punte
drawwer, oefening
Discovery se Vitality word aanstaande jaar duurder. Foto: Pixabay

In 2020 gaan jy nie meer sweet vir punte nie, maar wel vir myle.

Discovery het pas groot veranderinge aan sy lojaliteitsprogram vir aanstaande jaar aangekondig.

Enersyds word Vitality duurder, maar andersyds wil Discovery jou méér beloon as jy jou weeklikse teikens behaal.

Daarom skrap Discovery die stelsel waarvolgens jy elke week ’n sekere hoeveelheid punte verdien het as jy genoeg geoefen of veilig bestuur het.

Dit word vervang met ’n enkele lojaliteitspunt, die reeds bekende Discovery Miles.

Diegene met ’n kredietkaart van Discovery kon reeds geruime tyd Discovery Miles verdien. Nou gaan almal met Vitality ook dié soort “myle” versamel.

As jy al jou teikens haal, gaan die myle behoorlik instroom.

LEES OOK: Só raak veranderinge by Discovery se Vitality jou

Hoe gaan jy myle verdien?

Daar is bykans legio maniere om Discovery Miles te verdien. Vitality se lojaliteitsprogram is drieledig: Jy het weeklikse teikens vir oefening, hoe jy bestuur en hoe jy jou geld bestee.

Alle Vitality-lede kry teikens vir oefening, maar net diegene wie se motorversekering by Discovery is en wat lede van Discovery se bank is, kry teikens in die laaste twee kategorieë.

As jy al drie jou teikens in ’n week haal, kry jy 300 Discovery Miles.

As jy net die teiken vir oefening haal, kry jy net 100 Discovery Miles.

Vir elke teiken wat jy haal, kry jy ook die kans om op die speelbord vir nog Discovery Miles te speel. Dis soortgelyk aan hoe jy nou nog Rewards-punte weekliks verdien.

Jy kan ook in ’n jaar 10 000 Discovery Miles verdien deur spesifieke gesondheidsteikens te haal, soos om ’n sekere hoeveelheid gewig te verloor of om gesonder te begin eet.

LEES OOK: Discovery se 'gratis' iPhones allermins verniet

Wat gebeur met my punte wat ek klaar versamel het?

Enige Rewards-punte wat jy op 1 Januarie oorhou, word outomaties omgeskakel na Discovery Miles teen ’n koers van ses Miles vir elke punt.

Diamante (’n soort Rewards-punt) word nie omgeskakel na Discovery Miles nie. As jy nog diamante oor het, sal jy in Desember ’n ekstra speelbeurt kry op die speelbord vir meer punte.

As jy twee en meer diamante oor het, moet jy dit op iets bestee voor einde Desember.

Anders as Rewards-punte, wat binne 12 weke verval vandat jy dit verdien het, verval Discovery Miles eers ná vyf jaar, wat jou meer as genoeg tyd bied om dit te benut.

Oefening hoef jou niks meer as 'n goeie paar stap- of drafskoene te kos nie. Foto: iStock

Waarop kan ek my myle bestee?

Discovery beloof dat hy heelwat meer opsies gaan bied vir waarop lede hul Discovery Miles sal kan bestee.

Dit sluit in op platforms soos Netflix, in klerewinkels soos Cotton On en Cape Union Mart en ook op vliegtuigkaartjies by Kulula.com.

Jy sal selfs kos en kruideniersware met jou myle kan “koop”.

Gaan my Vitality-vlak hierdeur geraak word?

Nee, die puntestelsel is afsonderlik van jou Vitality-vlak.

Jou Vitality-vlak, hetsy blou, brons, silwer, goud of diamant, bly onveranderd, hoewel die aantal punte wat vir elke vlak benodig word, verlaag word.

Die hooflid sal 7 500 punte benodig om bronsvlak te bereik, 25 000 punte vir silwer en 40 000 vir goud.

Jy sal diamantvlak binne ’n enkele jaar kan bereik deur 50 000 punte te verdien.

Jy sal steeds punte op dieselfde wyse verdien deur te oefen en deur onder meer jou gesondheid na te gaan en die tandarts te besoek.

Jy sal ook heelwat punte verdien deur te verklaar jy is ’n nie-roker en vrywillig jou MIV-status te bepaal.

Onthou ook dat Vitality van aanstaande jaar 8% duurder word en jou van Januarie af R280 per maand gaan kos.

Vir twee gesinslede word die tarief 10% duurder en gaan dit R340 per maand kos.

Belonings vir kinders

Vanaf 2020 gaan Discovery ook die jongspan beloon vir oefening en ’n gesonde leefstyl.

Kinders so jonk as twee jaar kan deel word van hul ouers se lojaliteitsprogram.

Kinders sal afsonderlike teikens moet haal en sal beloon word met “gepaste pryse” gegrond op hul ouderdom, sê Discovery.

Die kleinspan sal Discovery Miles op dieselfde wyse as hul ouers verdien deur weekliks daarvoor op ’n speelbord te speel.

Kinders se Vitality-rekening moet aan hul ouers s’n gekoppel wees.

Meer oor:  Discovery  |  Mediese Fondse  |  Vitality  |  Oefening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.