Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery val tot laagste in 5 jaar ná NGV-plan

Die genoteerde finansiëledienstegroep Discovery se aandeelprys het Maandag vir die tweede dag agtereenvolgens skerp gedaal nadat die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die parlement ter tafel gelê is.

’n Baie groot deel van die Discovery-groep se inkomste en wins kom van Discovery Health, die administrateur van mediese fondse. 

LEES OOK: Discovery Health toon stewige styging in wins

Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery.

Die NGV-fonds gaan soos ’n groot mediese fonds wees vir alle Suid-Afrikaners en sal dienste van openbare en private gesondheidsorgverskaffers aankoop.

Dit blyk uit die wetsontwerp dat wanneer die NGV ten volle in bedryf is, mediese fondse nie dieselfde dienste as wat die NGV dek, sal mag aanbied nie. Wanneer dié beperking op mediese skemas kom en watter dienste onder die NGV sal val, sal eers later bepaal word.

Boonop is voorheen gehoop administrateurs sal kan help met die administrasie van die NGV-fonds, maar op die mediakonferensie waar die wetsontwerp bekend gestel is, is dit onomwonde gestel dat die staat die NGV-fonds sal bestuur.

Dit is ontstellend en rede tot kommer.
Theron

Die Discovery-groep se aandeelprys het Donderdag met 8,5% gedaal tot R115,47 – sy laagste vlak vanjaar, skryf Paul Theron van Vestact in ’n nuusbrief.

“Dit is ontstellend en rede tot kommer.”

Maandag het die aandeelprys nog 8,4% laer op R105,72 gesluit. Dit is die laagste vlak sedert 2014.

Theron sê rede vir dié val is die bedreiging van die NGV-plan vir die administrateur.

Hy meen die NGV kom neer op die nasionalisering van private gesondheidsorg in Suid-Afrika.

“Pleks van om die staatsdiens reg te ruk, wat deur korrupsie, wanbestuur en swak mediese uitkomste verlam word, wil die ANC ook die gedeelte van die gesondheidstelsel wat goed werk, ruïneer.”

Sover bekend is dit die eerste keer dat Discovery se aandeelprys so skerp reageer op die NGV, waarskynlik omdat die wetsontwerp nou in die parlement is.

Theron sê dit is soortgelyk daaraan om private skole of private veiligheidsdienste te verbied.

“As die NGV beperk wat mense in gesondheidsberoepe mag verdien, bestaan daar geen twyfel dat die mees talentvolle mediese spesialiste die land gaan verlaat nie.”

Investec Sekuriteite se aandeelspan sê ook in ’n nuusbrief die taai klap wat die Discovery-groep gekry het, hou met die wetsontwerp verband.

“Die groep is sonder twyfel die beste geplaas om die NGV-fonds te bestuur as dit ’n werklikheid word, maar die staat is ferm daaroor dat dit nie deur die private sektor bestuur gaan word nie.”

Die NGV-fonds gaan ’n trekpleister vir korrupsie en ’n groot toekomstige gevaar vir staatskaping wees.
Montalto

Volgens Investec Sekuriteite het die NGV-plan ook die rand Donderdag laat verswak.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, sê die grootste probleem wat hulle voorsien is dat die NGV-fonds “ ’n trekpleister vir korrupsie en ’n groot toekomstige gevaar vir staatskaping is”.

Montalto sê hoewel die oudit- en toesighoudende funksie van nasionale tesourie wanbestuur sal optel, sal dit eers wees nadat dit gebeur het. “Dit sal onmoontlik wees om dit te stop.”

Hy sê die fonds sal ’n enkele aankoper wees van gesondheidsorg, medisyne en ander produkte en sal maksimum pryse vir die dienste van dokters stel.

“Dit plaas te veel mag in een mens se hande. Die fonds gaan groter as Eskom wees in terme van sy jaarlikse inkomste en besteding.”

Volgens hom is hul belangrikste bekommernis oor die plan tans hoe die NGV gefinansier gaan word.

“Ons dink in geheel is die NGV onwerkbaar in die huidige ekonomiese en fiskale omgewing, selfs al is dit uiters nodig. Dit kan meer skade as goed doen vir die ekonomie.”

Montalto sê dis moeilik om die tydsberekening van die parlementêre proses te bepaal, maar dit kan sowat 18 maande duur om die wetsontwerp te verwerk.

Die eerste stap is die openbare sittings van die parlementêre komitee wat daarmee belas is.

“Inwerkingstelling van 2026 af mag dalk ver weg klink, daar dit gaan binnekort in die mediumtermynbegrotingsraamwerk begin opduik en daarom moet die implikasies daarvan deurdink word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2513,49 (2872)
  • Top 40 48837 (29138)
  • All Share 54638,02 (35723)
  • Resource 10 42784,46 (-20864)
  • Financial and Industrial 30 74012,44 (75945)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.