Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Discovery vries premies vir 6 maande

Die grootste mediese fonds in die land, die Discovery Health Mediese Skema (DHMS), gaan in ’n ongewone en ongekende stap premies vir ses maande vries, waarna ’n verhoging van ’n maksimum van 5,9% vir ’n lid in Julie 2021 in werking tree.

Die mediese fonds dek 2,8 miljoen lewens en ontvang amper R70 miljard se premies ingesluit R12,6 miljard vir mediese spaarrekeninge. 

Discovery se hoofkantoor in Sandton. Foto: Elvira Wood

Dr. Ryan Noach, uitvoerende hoof van Discovery Health, sê die fonds se jaarlikse verhogings word gegrond op wat mediese inflasie is, naamlik die styging in gesondheidskoste vir die skema van jaar tot jaar.

“Die verhoging in bydraes vir Julie 2021 gaan in die tweede kwartaal aangekondig word, met ’n maksimum toepaslike verhoging van verbruikersprysinflasie plus twee persentasiepunte, oftewel 5,9% oor die hele skema.

“Die verhoging sal eenvormig oor alle planne toegepas word en is gelyk aan ’n maksimum geweegde gemiddelde verhoging van 2,9% vir lede oor die hele jaar.”

Die gemiddelde verhoging vir die jaar beteken DHMS se verhoging is ook van die laagste wat waarskynlik al aangekondig is.

Die Raad op Mediese Fondse (RMS) het vir die eerste keer aanbeveel dat mediese skemas geen premieverhogings instel nie of dat as premies verhoog word, dit tot 3,9% beperk word.

Discovery se gemiddelde verhoging laagste tot dusver

Die feit dat Discovery sy premies vir ses maande vries, beteken dat hy tot dusver die laagste geweegde gemiddelde jaarlikse verhoging van 2,9% aangekondig het.

Die geweegde gemiddelde verhoging word bereken op grond van die verhoging vir elke lid (teenoor die gemiddelde verhoging waarmee die premies van elke opsie styg).

Mediese fondse het verskillende opsies en hul premies verskil. Die verskillende opsies se premies styg ook nie met dieselfde persentasie nie en die verskillende opsies het nie dieselfde getal lede nie.

In Discovery se geval is die verhoging van begin Julie af 5,9% – en dit geld vir alle opsies.

Deon Kotze, hoof van navorsing en ontwikkeling van Discovery Health, het bevestig daar is nie soos in vorige jare ’n verskil in die persentasie waarmee verskillende opsies se premies styg nie en dat almal 5,9% van Julie af verhoog.

Die mediese fondse waaroor Netwerk24 reeds berig het, se geweegde gemiddelde jaarlikse verhoging is soos volg:

  • Momentum – 3,9%;
  • Bonitas – 4,6%; en
  • Medshield – 5,9%.

Bestmed het ’n gemiddelde verhoging van 4% aangekondig. Hy het nie gesê of dit ’n geweegde gemiddelde verhoging is nie.

Die finansiële impak op ’n lid sal ook afhang van met hoeveel bybetalings, voorafbetalings en perke van voordele verhoog word.

Dié verhoging is nie wat die impak op elke lid self is nie. ’n Lid moet na sy eie premie se styging gaan kyk om te bepaal wat dit meer gaan kos volgende jaar.

Die detail van die aankondiging toon bybetalings en vooraf betalings gaan tussen 3,5% en 4% van Januarie af verhoog.

Voordeelperke verhoog ook met 3% van 1 Januarie af, met die uitsondering van dinge soos die onkologie-drempel waar daar geen verhoging vir 2021 is nie.

Talle veranderinge aan voordele is aangekondig, soos die bekendstelling van ’n voordeel om in vitro-behandeling te dek onderhewig aan sekere voorwaardes.

Noach het gesê vanjaar is die normale neigings met eise nie beleef nie.

Discovery Health het verduidelik hoe eise afgeneem het weens die inperking en operasies wat uitgestel is.

Die gevolg is dat eise wat die mediese skema ontvang het, gedaal het die afgelope maande en sy reserwes aansienlik toegeneem het. Volgens Kotze het die solvensieverhouding van 27,5% tot sowat 33% verhoog as gevolg daarvan. Die solvensieverhouding moet ingevolge wetgewing 25% wees wat behels hoeveel reserwes van jaarlikse premies in reserwe gehou moet word. 

Geen mediese inflasie word vir die eerste helfte van 2021 verwag nie en daarom is besluit om die premies vir ses maande te vries, volgens Noach.

’n Terugkeer na die normale vraag na gesondheidsorg word middel volgende jaar verwag en boonop word dan ’n hoër vraag verwag.

Volgens hom hou dit verband met die verwagte terugkeer van nie-dringende beplande operasies wat uitgestel is weens die pandemie, asook die komplikasies wat die minder sorg en behandeling wat gesoek is die afgelope maande gaan meebring.

Boonop gaan die beskikbaarheid van ’n entstof vir Covid-19 en ’n moontlike tweede piek ook ’n impak hê op eise.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.