Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Beserings aan diens: Dokters maan oor wysigings

Die wysigings wat aan die Wet op die Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes beoog word, bekommer dokters.

'n Argieffoto van 'n paar jaar gelede van chirurge by 'n operasietafel in die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad. Foto: Elsabé Brits

Dié wet beheer die Vergoedingsfonds, waarvan werkers kan eis as hulle by die werk siek of beseer word.

Die parlementêre portefeuljekomitee vir indiensneming en arbeid het op 17 Januarie kommentaar gevra op die voorgestelde wysigingswetsontwerp.

Daar is reeds berig dis “bemoedigend” dat huiswerkers ingevolge die wetsontwerp vir die eerste keer ook van die fonds sal kan eis.

’n Groep bekend as die Injured Workers Action Group (IWAG) sê die wetsontwerp bevat egter ook ’n voorgestelde wysiging (art. 43) wat ’n “katastrofiese impak op beseerde werkers en hul dokters, chirurge, private hospitale, fisioterapeute en ander gesondheidswerkers gaan hê”.

Art. 43 verbied dit dat enige mediese fakture deur mediese diensverskaffers aan finansiële instelling en administrateurs as kollateraal aangebied word vir bedryfskapitaal, toerusting, finansiering of ander lenings vir bedrywighede.

Dis algemeen bekend dat die Vergoedingsfonds wanfunksioneel is.

LEES OOK: Huiswerkers kan nou eis vir beserings aan diens

Die probleme sluit in dat sy IT-stelsel waardeur die eise hanteer word, gereeld onklaar is, en wanneer mediese diensverskaffers wel daarin slaag om ’n eis in te dien, wag hulle dikwels tot twee jaar lank op betaling, volgens die IWAG.

“As gevolg van die wanfunksionering van die fonds gebruik mediese diensverskaffers al meer as 20 jaar die dienste van administrateurs om hulle te help om die ingewikkelde en gebrekkige stelsel te navigeer om betaal te word vir die mediese dienste wat aan beseerde werkers gelewer is.”

Die IWAG sê dié ondernemings speel ’n belangrike rol om te verseker dat mediese diensverskaffers se rekeninge betaal word terwyl die “omslagtige en tydrowende las met administrasie, finansies en regsake van gesondheidswerkers verwyder word sodat hulle op hul primêre rol van sorg kan fokus”.

Hulle voer ook aan dat die administrateurs ’n belangrike rol speel om die proses van die Vergoedingsfonds gladder te laat verloop. Eise word vooraf nagegaan, waardeur ’n aansienlike administratiewe las vir die fonds verlig word.

Baie administrateurs moes egter oor die jare hof toe gaan om die fonds te dwing om eise te betaal.

IWAG voer aan hy verteenwoordig geaffekteerde en bekommerde partye wat ten doel het om die doeltreffende funksionering van die Vergoedingsfonds te bepleit.

“IWAG meen dis onbegryplik dat die departement van indiensneming en arbeid ’n belangrike deel van die waardeketting verwyder wat werk.”

Tim Hughes, woordvoerder van IWAG, sê hulle sien geen regverdiging vir art. 43 nie.

“Nie die minister of die departement nie, en nog minder die Vergoedingsfonds, het ’n redelike rede vir die wysiging verskaf.”

Hughes sê mediese diensverskaffers behandel beseerde werkers op goeder trou, in die geloof dat hulle wel betaal sal word.

“Dit sal nou beteken hulle kan nie hul rekeninge sedeer aan finansiële instellings of administrateurs sodat hulle vroeg betaal kan word of toegang tot oortrokke bankgeriewe kan kry nie.”

Volgens hom is daar ’n wesenlike risiko dat baie mediese diensverskaffers se praktyke geldelike probleme gaan ontwikkel of selfs ineenstort.

“Meer kommerwekkend is dat die bekendstelling van art. 43 baie gesondheidswerkers gaan ontmoedig om beseerde werkers te behandel weens die finansiële risiko. Dit gaan wesenlike druk op die reeds sukkelende openbare gesondheidsorgstelsel plaas.”

IWAG vra dat art. 43 van die wysigingswetsontwerp verwyder word.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), sê dié organisasie glo ook die wysiging moet verwyder word.

Sy sê baie gesondheidswerkers het die afgelope jaar werkers behandel wat Covid-19 by die werk opgedoen het, wat beteken hul behandeling word deur die bepalinge van die wet gedek.

“Die omvang van die druk waaronder gesondheidswerkers is, is die afgelope jaar gesien.

“Dit is duidelik dat gesondheidswerkers minder tyd het as ooit om die administratiewe prosesse te bestuur wat nodig is om betaling van die fonds te kry.

“Sonder dié administrateurs sal mediese diensverskaffers tyd moet kry in hul besige dae om eise in te dien op ’n stelsel wat nie werk nie.”

Stryd van huiswerkers

Pinky Mashiane, president van die United Domestic Workers of South Africa Union (Udwosa), wat ook aan die virtuele mediakonferensie van die groep deelgeneem het, sê huiswerkers het jare geveg vir die reg om toegang tot mediese sorg van gehalte deur die Vergoedingsfonds te kry.

“Ons is verheug dat die regering wetgewing beoog wat dit ’n werklikheid sal maak vir ons kwesbare sektor wat dikwels oor die hoof gesien word.”

Mashiane sê dit sal egter net waarde hê as die stelsel werk.

Ook Udwosa is gekant teen art. 43 van die wysigingswetsontwerp.

Die kommentaartydperk is oop tot 19 Februarie. Voorleggings moet gerig word aan die portefeuljekomitee vir indiensneming en arbeid, vir die aandag van Zolani Sakasa by zsakasa@parlament.gov.za.

Meer oor:  Vergoedingsfonds  |  Sama  |  Dokters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.