Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Dokters: NGV gaan álmal ‘sieker’ maak

Private dokters is ten gunste van universele gesondheidsorg, maar sê die regering se model vir Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal gesondheidsorg in sy geheel in Suid-Afrika skade berokken.

dr. chris archer
Dr. Chris Archer

Dr. Chris Archer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Privaatpraktisynsforum (SAPPF), glo die NGV, soos voorgestel deur die wetsontwerp wat verlede week uitgereik is, sal “onherstelbare skade” aan die hele gesondheidsorgstelsel aanrig.

“Die NGV sal nié tot die progressiewe verwesentliking van toegang tot gesondheidsorg lei wat deur art. 27(2) van die Grondwet vereis word nie.”

Die SAPPF verteenwoordig byna 6 500 algemene praktisyns, spesialiste en mense in aanvullende gesondheidsdienste.

Archer sê as die NGV ingestel word sonder dat ’n omvattende mandjie mediese dienste bekostigbaar is, sal dit meebring dat die meeste Suid-Afrikaners swakker sorg kry as tans.

“Hoe minder geld daar in die NGV-stelsel is, hoe kleiner is die mandjie voordele wat dit dek. Die staatsektor het op die oomblik redelik breë diensvlakke, daar is net lang wagtye daarvoor,” sê hy.

“Tans sal iemand wat aan ’n seldsame siekte ly uiteindelik deur ’n professor aan ’n akademiese hospitaal behandel word. So ’n duur siekte kan egter van dekking deur die NGV uitgesluit word, want as dit vir een pasiënt gedek moet word, moet dit vir almal gedek word, wat dit onbekostigbaar kan maak.”

Hy sê dis die beginsel van solidariteit wat die NGV onderskryf.

“As die NGV net ’n mandjie dek, is dit ál dekking wat vir die hele bevolking beskikbaar is wat nie mediese fondse kan bekostig nie.”

Volgens Archer is hul grootste bron van kommer dat dit lyk asof die NGV deurgevoer gaan word sonder enige duidelikheid oor wat dit gaan kos en hoe dit – veral in die heersende ekonomiese klimaat – gefinansier gaan word.

Die tesourie se nuwe kosteraming van die NGV is nog nie uitgereik nie. In vorige ramings – wat reeds in 2017 gedoen is – het die tesourie geraam dat die NGV teen 2030 ’n bykomende R30 miljard nodig sal hê. Dit beteken dit is wat ekstra benodig word bo en behalwe die staat se bestaande gesondheidsbegroting.

Die NGV-wetsontwerp wat Donderdag uitgereik is, voorsien onder meer hoër inkomstebelasting om dit te finansier, maar sê so ’n belasting sal eers in die finale fase van die NGV, en ook onderhewig aan ekonomiese faktore, in werking gestel word.

Archer sê die NGV-wetsontwerp – die tweede wetsontwerp nadat die vorige weergawe in 2018 uitgereik is en nadat kommentaar bygewerk is – is nog baie vaag en dubbelsinnig. Private dokters is veral bekommerd dat daar nie uitgestippel word hoe hulle deur die NGV gekontrakteer gaan word nie.

Die wetsontwerp sê bloot dat dit bepaal sal word deur regulasies wat die minister van gesondheid sal aankondig. “Beroepslui het sekerheid nodig oor of hul praktyke sal kan voortgaan onder die NGV of nié.”

Archer verwelkom wel ’n subtiele verandering wat dit laat lyk asof mediese fondse wel alle dienste sal kan betaal indien mense kies om medici te gebruik wat nié deur die NGV gekontrakteer is nie.

Ons vind dit onwaarskynlik dat die huidige bestuurders, wat baie jare lank toegesien het hoe die staat op groot skaal misluk, die verdrag suksesvol in werking sal stel en openbare gesondheidsorg sal omkeer.
dr. Chris Archer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Privaatpraktisynsforum

Dié interpretasie verskil van ander ontleders se interpretasie dat mediese fondse slegs aanvullende dienste sal mag dek, dus dienste wat uitgesluit is by die mandjie dienste wat die NGV dek. Presies watter dienste sal eers mettertyd in regulasies bekend gemaak word namate die NGV in fases in werking gestel word.

Archer doen ’n beroep op die regering om die NGV-model te “heroorweeg” totdat die koste daarvan bereken is en ook totdat ekonomiese omstandighede verbeter het.

In sy voorlegging aan die Davis-belastingkomitee sê die SAPPF finansiering is sentraal tot die sukses van ’n stelsel van universele gesondheidsorg. Suid-Afrika se klein getal belastingbetalers maak die NGV-model onvolhoubaar.

Die SAPPF se alternatiewe voorstelle sluit in verpligte laekoste- mediese fondse en verpligte gapingsdekking vir almal met ’n werk, asook private-openbare-vennootskappe. Hervorming aan die private sektor om dit toegankliker te maak, word ook voorgestel.

Archer sê dis belangrik dat die NGV nie vergelyk word met die status quo of volle privatisering nie. Niemand stel die huidige stand van gesondheidsorg óf volle privatisering voor nie.

Archer sê voordat die NGV in werking gestel kan word, moet elke staatskliniek en -hospitaal verbeter word. Dis deel van die presidensiële gesondheidsverdrag wat pres. Cyril Ramaphosa en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, in  Julie onderteken het.

Archer is skepties hieroor.

“Ons vind dit onwaarskynlik dat die huidige bestuurders, wat baie jare lank toegesien het hoe die staat op groot skaal misluk, die verdrag suksesvol in werking sal stel en openbare gesondheidsorg sal omkeer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2381,58 (472)
  • Top 40 48158,37 (4141)
  • All Share 53874,52 (3359)
  • Resource 10 42374,38 (-13158)
  • Financial and Industrial 30 72821,17 (16551)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.