Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Dokters vra mediese fondse om hulp om te oorleef
hospitale, dokters
Dokters in private praktyke sukkel om kop bo water te hou. Foto: iStock

Dokters in die private sektor is so desperaat om finansieel te oorleef dat die bedryf met ’n voorstel vorendag gekom het oor hoe mediese fondse tot hul redding kan kom.

Die groot bedryfsliggame in die mediese sektor en die drukgroep die Progressive Health Forum (PHF), wat die voorstel saamgestel het nadat met administrateurs van mediese fondse onderhandel is, hoop dit sal praktyke wat dreig om onder te gaan, help oorleef.

Die voorstel is dat die praktyke oor die volgende twee jaar vooruit ’n inkomste betaal word op grond van wat hul eise in 2019 beloop het.

Hul tarief word egter ook tot 2019-tariewe beperk om die risiko vir mediese fondse te verminder, sê prof. Alex van den Heever van die Universiteit van die Witwatersrand en ’n lid van die PHF wat gehelp het om die voorstel te ontwikkel.

Die voorstel moet nog deur die mediese fondse aanvaar word.

Dr. Aslam Dasoo van die PHF sê indien hulle dit aanvaar, sal dit 15 000 tot 20 000 dokters in staat stel om by die nasionale reaksie op die koronaviruspandemie betrokke te raak.

Inperking knou praktyke

Mediese praktyke sukkel met kontantvloeiprobleme omdat hul inkomste drasties gedaal het weens die staat van inperking. Pasiënte besoek uit vrees vir die koronavirus nie hul dokters nie en hospitale het perke geplaas op hospitaalopnames en operasies.

Dr. Mark Human, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) in Gauteng, sê private praktyke het gemiddeld ’n 60%-daling in pasiëntgetalle beleef gedurende die eerste deel van die staat van inperking, terwyl oogkundiges, oor-neus-en-keelspesialiste en tandartse in wese gesluit het weens die hoë risiko van infeksie in dié velde.

Volgens hom het pasiëntgetalle begin toeneem sedert die aanbreek van vlak 3 van die inperking aan die begin van Junie, maar dit is steeds 40% tot 50% laer as normaalweg.

“Dit plaas geweldige druk op praktyke se vermoë om op kort tot mediumtermyn te oorleef.”

Dit plaas geweldige druk op praktyke se vermoë om op kort tot mediumtermyn te oorleef.
Dr. Mark Human

Dasoo sê die PHF het betrokke geraak toe die pandemie in Maart na Suid-Afrika uitgebrei het om te bepaal hoe medici gemobiliseer kan word om ’n tekort aan personeel gedurende die gesondheidskrisis die hoof te bied.

Die PHF is ’n nasionale netwerk van mense in die mediese beroep, gesondheidsaktiviste en organisasies wat die burgerlike samelewing verteenwoordig.

Die organisasie, wat in 2018 ontstaan het, se doel is om gebreke in sowel die private as die openbare gesondheidsbedryf te identifiseer en voorstelle aan die hand te doen om dit op te los.

Toe die pandemie uitbreek, het die organisasie besef ’n gesamentlike reaksie van die openbare en die private sektor sal nodig wees om ’n gesondheidskrisis af te weer.

Daar is met verenigings in die bedryf, soos Sama, die Suid-Afrikaanse Privatepraktykforum, die Vereniging vir Mediese en Tandartspraktyke, die Vereniging vir Radioloë en die Stigting vir Onafhanklike Praktykverenigings geskakel wat hul bereidwilligheid verklaar het om deel te wees van ’n nasionale reaksie.

Dit was egter duidelik dat private praktyke in ’n finansiële verknorsing is weens die impak van die staat van inperking.

Dr. Chris Archer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Privatepraktykforum, sê die private sektor wil help in die stryd teen die pandemie. “Maar die finansiële druk op private praktyke is ’n werklikheid en anders as ons eweknieë in die staatsektor wat salarisse kry, het praktyke se inkomste wesenlik gedaal en finansiering word benodig om personeellede en oorhoofse koste te betaal.”

Dit is in die lig hiervan dat ’n plan beraam is om hierdie praktyke te help.

Die voorstel is dat dokters se kontrakte met mediese fondse gewysig word. Hulle word tans eers betaal nadat ’n diens gelewer is, maar luidens die voorstel moet hulle vir die volgende twee jaar vooruit betaal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.