Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Duisende dokters wil emigreer oor NGV

Dokters is diep bekommerd oor die potensiaal vir korrupsie met die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat die regering beoog.

Dokters ondersteun ’n stap-vir-stap- en ingeligte benadering wat op bewyse gegrond is vir enige groot hervorming van die gesondheidsorgstelsel.

Die portefeuljekomitee oor gesondheid in die parlement het vandeesweek tydens openbare verhore oor die Wetsontwerp oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gehoor ’n peiling het getoon talle dokters wil emigreer weens hul ontevredenheid oor dié plan.

“Daar is ’n diepgesetelde gebrek aan vertroue onder ons lede oor die vermoë van die regeringstrukture om die finansiële ondersteuningstrukture vir gehaltedienste te verskaf,” het dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), gesê.

“Sama kan daarom nie die NGV ondersteun soos dit tans saamgestel is nie.”

Sama het 12 000 lede, insluitende van die staatsektor.

Coetzee sê daar is lank gedebatteer oor of die vraag oor emigrasie in die peiling ingesluit moes word, maar daar is besef die “werklike of waargenome bedreiging wat deur dokters gesien word” moet wel bepaal word.

Die peiling het getoon 38% wil weens die plan emigreer, 39% sal nie emigreer nie, terwyl 17% onseker was.

Die peiling het ook bevind 78% glo nie die voorstelle oor die NGV gaan die gehalte van gesondheidsorg in die land verbeter nie.

Volgens Coetzee het die reaksie op ’n peiling in 2019 ’n diepe gebrek aan vertroue getoon in regeringstrukture om korrupsie met die NGV te voorkom. Die grootste kommer was oor die potensiaal vir korrupsie.

Met die peiling is ook bevind 78% glo nie die voorstelle oor die NGV gaan die gehalte van gesondheidsorg in die land verbeter nie.

Sama het sedert 2011 skriftelike kommentaar op die groenskrif, witskrif, NGV-beleid en die konsepwetsontwerp gelewer. Maar die vereniging merk op baie van die kommentaar word nie in ag geneem nie.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging: 'Ons bly besorg dat die NGV as ’n eenvoudige en skynbaar magiese oplossing vir ’n ingewikkelde probleem beskou word.' Foto: Deon Raath

Die private én openbare gesondheidsektor het probleme, en ekstreme verandering is nodig, erken Sama.

“Ons bly besorg dat die NGV as ’n eenvoudige en skynbaar magiese oplossing vir ’n ingewikkelde probleem beskou word.”

Die doel van die wetsontwerp is om ’n fonds te stig, asook sy magte en ’n raamwerk vir strategiese aankope van gesondheidsorgdienste te bepaal, sê sy.

Die wetsontwerp sal die grootste verandering in die “finansiering van die gesondheidsorgstelsel sedert 1994” meebring.

Coetzee sê die NGV is ’n finansieringsmeganisme en kan nie die veranderinge meebring wat nodig is nie.

Sama steun die konsep van universele gesondheidsdekking.

“Ons ondersteun egter ’n stap-vir-stap- en ingeligte benadering wat op bewyse gegrond is vir enige groot hervorming van die gesondheidsorgstelsel.

“Baie van die voorgestelde veranderinge aan die wetsontwerp moet nog ten volle nagevors word om te bepaal of dit doeltreffend is en die potensiaal het om dienslewering te verbeter deur te verseker dat daar voldoende geld is, asook die verkose raamwerk om dit te bereik.”

Die kommer wat Sama oor die wetsontwerp het, sluit in:

  • Daar is nie genoeg klem op die gehalte van sorg nie en te veel klem op koste;
  • Daar is nie genoeg dekking vir vlugtelinge en onwettige immigrante nie;
  • Die nie-onafhanklikheid van die fonds en die buitengewone magte van die departement van gesondheid is ’n bron van kommer;
  • Dat daar een enkele groot fonds gaan wees wat aankope doen en dat die verdeling tussen die aankoper en die verskaffer van die dienste nie groot genoeg is nie;
  • Die toetsprojekte vir die NGV wat min nuttige uitkomste getoon het;
  • Onsekerheid oor baie van die belangrike voorstelle en min besonderhede;
  • Die betaling van dokters wat “gehaltesorg teen die laagste moontlike prys” moet lewer, wat voorgestel word;
  • Die kontrakteringsvoorstelle in die wetsontwerp is ingewikkeld en benodig toetsprojekte voordat dit in enige wet ingesluit kan word;
  • Die gebrek aan ’n struktuur wat spesialiste se dienste buite hospitale hanteer; en
  • Die sertifisering, akkreditasie en kontraktering van gesondheidsorgverskaffers.

Coetzee sê hoewel Sama die eenheid ondersteun wat korrupsie in die NGV gaan bekamp, is dié eenheid binne die fonds self en sal dit nie in ’n posisie wees om korrupsie in die fonds te takel nie.

Die siening oor die tekort aan dekking vir vlugtelinge en onwettige immigrante; te min besonderhede oor sekere voorstelle, kommer oor korrupsie en die magte wat die minister gaan hê, is ook deur ander partye in hul voorleggings vandeesweek uitgelig.

Skeiding van magte

Coetzee sê daar is te veel potensiaal vir politieke inmenging en dat die minister te veel mag gaan hê.

Volgens haar glo Sama ook daar moet meer aandag in die wetsontwerp gegee word aan die skeiding van die finansieringsmeganisme en die diensleweringsmeganismes – die koper en verskaffer.

Omdat die minister verantwoordelik is vir diensverskaffing, kan hy nie ook die aankoper wees nie. Die twee entiteite moet mekaar aanspreeklik hou.
Dr. Angelique Coetzee van Sama

“Omdat die minister verantwoordelik is vir diensverskaffing, kan hy nie ook die aankoper wees nie. Die twee entiteite moet mekaar aanspreeklik hou vir hul rolle, terwyl daar ook saamgewerk word om die bekostigbaarste gehaltesorg te verskaf.”

Sy sê dis ook moeilik om kommentaar te lewer op aangeleenthede wat nog nie in besonderhede beskikbaar is nie, soos die manier waarop verskaffers betaal gaan word en hoe hul geakkrediteer gaan word.

Dit sal eers duidelik wees in die regulasies waarop daar kommentaar gelewer sal kan word.

Rol van mediese fondse

Volgens Coetzee is daar niks in die wetsontwerp wat voorsiening maak vir diensverskaffing deur spesialiste buite hospitale nie.

Die rol van mediese fondse in die NGV bly onduidelik. Foto: iStock

Die voordele wat die NGV gaan voorsien, is tans onbekend en moet nog bepaal word deur ’n voordele-advieskomitee.

“As mediese fondse net mag dek wat nie onder die NGV gedek gaan word nie, moet die voordele van die fonds baie duidelik gemaak word.”

Oor die rol wat vir mediese fondse in die vooruitsig gestel word, sê Sama dit sal ongrondwetlik wees om enige persoon se reg van hom weg te neem om gesondheidsorg te soek deur ’n ander meganisme as die diens wat “effektiewelik nie beskikbaar is deur die NGV nie” weens waglyste, ’n gebrek aan hulpbronne en ander probleme.

Kommer oor arm kinders

Verteenwoordigers van die Kinderinstituut van die Universiteit van Kaapstad het ook voorleggings gelewer.

Lori Lake, ’n opvoedingspesialis by die instituut, het statistieke gegee oor hoe armoede kinders en hul ontwikkeling raak. In 2018 het amper 60% van kinders in die land onder die broodlyn geleef.

Lake is bekommerd dat sukkelende gesondheidsorggeriewe wat weerlose mense bedien, nie akkreditasie gaan kry nie. Sy sê maatstawwe moet ingestel word om te verseker dat die vereistes vir akkreditasie nie teen kinders, bejaardes, gestremdes en mense in die platteland diskrimineer nie. Daar word gesondheidsorggeriewe aangetref wat te min personeel en toerusting het.

Sy en dr. Tony Westwood, ’n pediater wat al 30 jaar in die staatsektor werk, is bekommerd dat kundiges oor kinder- en moedergesondheid nie verteenwoordiging in van die komitees, soos die voordeel-advieskomitee van die NGV, gaan hê nie.

“Dit wek kommer oor die mate waartoe hul behoeftes geprioritiseer gaan word,” sê Lake.

Westwood sê ’n pakket van noodsaaklike gesondheidsorgdienste moet vir kinders, adolessente en moeders in die NGV se pakket van voordele ingesluit word.

Hy sê die NGV is die ideale geleentheid om ’n pakket van noodsaaklike sorg vir moeders en kinders in te sluit.

Moeders en kinders het spesifieke gesondheidsorgbehoeftes waaraan daar nie altyd voldoen word in ’n stelsel wat hoofsaaklik dienste vir volwassenes lewer nie.

Prof. Haroon Saloojee, uitvoerende lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Pediaters (Sapa), sê die gesondheidsbehoeftes van moeders en kinders is hoogs afhanklik van primêre gesondheidsorg. Die voorrang wat primêre gesondheidsorg gaan geniet en die herontwikkeling daarvan, word goed verwoord in die wetsontwerp.

Volgens hom is dit egter nodig om die sukses te ontleed wat bereik is met die herontwerpte primêre gesondheidsorg wat met toetsprojekte van die NGV sedert 2011 getoets is.

Die herontwikkeling het vier hoofkomponente, naamlik uitreikingsgroepe wat in munisipale wyke bedrywig is, ’n geïntegreerde gesondheidsprogram vir skole, distrik-spesialisspanne, en die kontraktering van private praktisyns (nie spesialiste) waarmee daar in 2013 begin is.

Volgens Saloojee is die ondervinding met die herontwerpte primêre gesondheidsorg in die land onvoldoende gedokumenteer en daar is beperkte formele dokumentasie en navorsing daaroor beskikbaar.

“Dit sal beter gedokumenteer moet word onder die NGV.”

Volgens hom wil dit ook voorkom asof die individuele dele van die herontwerpte primêre gesondheidsorg “spontaan ontwikkel” eerder as wat dit aan ’n deurlopende sistematiese oorsig en strategiese beplanning onderwerp is.

Hy sê die herontwerpte stelsel moet herbedink word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.