Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Duisende poste in hospitale bedreig
Private hospitaalgroepe het 1,3% tot die land se BBP bygedra. Foto: Unsplash

As die regering ondeurdag die nasionale gesondheidsversekering (NGV) deurdruk, kan dit tot 132 000 werksverliese veroorsaak, reken ekonome.

Die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa), wat die meeste private hospitale verteenwoordig, het die afgelope week dié waarskuwing gerig op ’n vergadering van Business Unity SA (Busa) wat gefokus het op vennootskappe tussen die private sektor en die regering.

Die syfers is gegrond op navorsing wat Econex vir Hasa gedoen het.

Business Day berig dat Hasa by die vergadering twee scenario’s geskets het om te illustreer hoe versigtig die regering moet wees in die implementering van die NGV.

Econex het gekyk na die moontlike impak aan die konsepwysiging van die Wet op Mediese Skemas en die Wetsontwerp op die NGV.

Albei stukke wetgewing is verlede jaar vir openbare kommentaar gepubliseer en pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede gesê die NGV-wetsontwerp sal later vanjaar in die parlement ter tafel gelê word.

Hasa het op die vergadering gesê die land bestee jaarliks R180 miljard aan private gesondheidsorg, waarvan omtrent ’n derde na private hospitale gaan.

Die eerste scenario het gekyk na albei wetsontwerpe. Dit behels dus verskeie beperkinge op huidige mediese skemas en die instelling van ’n NGV waaraan mense eerder moet behoort. Indien die NGV geen private gesondheidsorg aankoop nie, sal 99 600 werke in die gedrang wees, het Econex se studie bevind.

In die tweede scenario word prysregulering – soos voorgestel in die konsepwetgewing – ook veronderstel. Diensverskaffers sal dan beperk word wat betref die tariewe wat hulle vir die publiek of NGV mag vra.

In daardie scenario raam Econex die potensiële werksverliese op 132 000 oor die hele ekonomie heen.

Die studie het egter ook uitgelig dat dit voordelig vir die ekonomie kan wees indien die NGV reg geïmplementeer word.

Die jongste Hasa-syfers kom nadat Econex twee jaar gelede ’n studie oor die vermenigvuldiger-effek van die private hospitaalbedryf tot die land se ekonomie bereken het.

Dié 2017-studie het gevind private hospitaalgroepe se bedrywighede stimuleer die produksie van tussenganger-goedere en -dienste ter waarde van R131 miljard oor die hele ekonomie heen.

Private hospitaalgroepe het 1,3% tot die land se BBP bygedra, en hul bedrywighede het sowat R16 miljard se belastinginkomste vir die staat gegenereer.

Dr. Paul Armstrong van Econex het aan Rapport gesê die nuutste berekeninge was net hoëvlak-studies wat na die moontlike impak kyk en dat baie van die aannames nog glad nie seker is nie.

Hierdie jaar sal ons ’n noemenswaardige stap doen na universele toegang tot gehalte-gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners. Ná breedvoerige konsultasie sal die NGV-wetsontwerp binnekort gereed wees om in die parlement ter tafel gelê te word.

Die werksverliese is gegrond op die moontlike impak op die hele waardeketting en nie net die mediese bedryf nie.

Dit kyk dus byvoorbeeld ook wat die impak op diensverskaffers soos spyseniers vir hospitale kan wees, asook op personeel wat vir mediese diensverskaffers werk.

Ramaphosa het in sy staatsrede min gesê oor die omstredenheid van die voorgestelde wetgewing.

“Hierdie jaar sal ons ’n noemenswaardige stap doen na universele toegang tot gehalte-gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners. Ná breedvoerige konsultasie sal die NGV-wetsontwerp binnekort gereed wees om in die parlement ter tafel gelê te word.”

Rapport het vroeër berig hoe daar onenigheid in die kabinet is oor die wetsontwerp. Die tesourie het in ’n striemende brief aan Ramaphosa se “oorlogkamer” oor die NGV gesê hy is gekant teen baie van die voorstelle in die wetsontwerp.

Ramaphosa se “oorlogkamer”, eerder as die minister van gesondheid, het verlede jaar beheer oor die NGV-proses oorgeneem.

Dit is onseker hoe die nuwe weergawe van die wetgewing sal lyk en of die regering hulle gesteur het aan al die kommentaar wat gelewer is.

In reaksie op die staatsrede sê dr. Johann Serfontein van die konsultantegroep HealthMan die NGV is ’n politieke proses wat niks met die werklikheid van die Suid-Afrikaanse gesondheidsorg uit te waai het nie.

HealthMan adviseer die Suid-Afrikaanse Private Praktisynsforum (SAPPF), wat sowat 3 500 spesialiste as lede het.

Hy sê tensy die staat se gesondheid­sorggeriewe se gehalte verbeter, sal 90% van die staat se klinieke en hospitale nie kwalifiseer om met die NGV-fonds kontrakte vir dienste te sluit nie.

Gehalte in staatshospitale moet dringend aandag kry voordat die NGV in enige vorm geïmplementeer kan word.

Die burgerregteorganisasie Section27 het ook die afgelope week gesê die staat se fokus moet nie net wees om ’n wetsontwerp oor die NGV aanvaar te kry nie, maar eerder op die herstel van die bestaande gesondheidsorgstelsel.

Ramaphosa het in sy staatsrede gesê die regering sal aandag gee aan die krisis in die openbare gesondheidsorgstelsel ter voorbereiding van die NGV-implementering.

Meer oor:  Ngv  |  Mediese Fonds  |  Mediese Sorg  |  Afleggings  |  Hospitale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.