Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Duur medies: Finale verslag Maandag bekend
hospitale, dokters
Ter illustrasie. Foto: iStock

Verbruikers wat moeg gewag is op antwoorde oor die eindelose styging in mediese fondse se premies van bo inflasie, gaan hopelik Maandag antwoorde kry.

Die Mededingingskommissie het die markondersoek na die private gesondheidsbedryf reeds in 2014 van stapel gestuur ten einde ’n manier te vind om die skerp styging in die koste van private gesondheidsorg en die premies van mediese fondse onder bedwang te bring.

Die voorlopige bevindings en aanbevelings van die markondersoek is in Julie 2018 uitgereik.

Van die bevindings het ingesluit dat daar sterk bewyse is van vraag wat deur verskaffers soos dokters en hospitale aangedryf word en dat die hospitaalmark hoogs gekonsentreerd is.

Kommer is ook uitgespreek oor die verhouding tussen die administrateurs van mediese fondse en mediese fondse, soos in die geval van Discovery Health en die Discovery Health Medical Scheme of Momentum Health en die Momentum Health Medical Aid.

Die markondersoek het ook bevind daar is te veel opsies van mediese fondse in die mark.

LEES OOK: 7 belangrike bevindings van die mediese ondersoek

Van die aanbevelinge wat gedoen is, is dat ’n reguleerder aan die verskafferskant nodig is en dat prysbeheer op ’n manier moet plaasvind.

LEES OOK: 10 aanbevelings om mediese koste in die bek te ruk

Die kommissie het ook sy kommer uitgespreek oor die beleggingsgroep Remgro se belange in die versekeringsreuse Discovery en Momentum Metropolitan en Mediclinic.

“Die markondersoek het nie enige konkrete teenmededingende gedrag gevind wat voortspruit uit die eienaarstrukture nie. Nietemin hou die oorkruis-aandeelhouding ’n risiko in vir die langtermyn-ontwikkeling van ’n gesonde, mededingende omgewing,” het die verslag bevind.

“Dit is veral ’n bron van kommer dat MMI Health en Discovery Health dalk min aansporing het om innoverende langtermynstrategieë na te jaag in hul aankope van gesondheidsorg weens die bestaan van Mediclinic in die groter groep.”

LEES OOK: Dokters word gou só vasgevat

Die markondersoek glo ook Discovery Health vra meer as wat nodig is vir sy dienste in die lig van sy ekonomie van skaal.

“Onder normale mededingende toestande sou Discovery Health se winsgewendheid nuwe mededingers lok en mededinging stimuleer. Maar daar is geen teken daarvan nie. Inteendeel, Discovery Health word net groter en meer suksesvol. Dit is ’n aanduiding van markmislukking.”

Aanvanklike kommentaar ná die voorlopige bevindings was positief van mediese fondse, maar hospitale was nie so positief nie.

Netcare veral het gesê daar is aspekte van die voorlopige bevindings wat gebrekkig is en nie deur bewyse ondersteun word nie.

LEES OOK: Skemas bly oor bevindings, maar hospitale is bekaf

Teen Desember het Netcare vrae gehad oor “die billikheid van die markondersoekproses” omdat sekere bevindings opgestel is deur ’n adviseur van die markondersoek wat saam met Discovery Health ’n onderneming begin het.

LEES OOK: Netcare besorg oor Discovery Health se ‘invloed’

Die adviseur, dr. Neil Soderlund, het ’n hoofstuk in die verslag opgestel wat handel oor sogenaamde verskaffer-aangedrewe vraag.

Die finale verslag sou al einde November 2018 uitgereik word nadat dit vir vier keer uitgestel is.

Nadat ’n groot reaksie op die voorlopige bevindings en aanbevelings gekry is, is die finale verslag weer uitgestel.

Middel Desember verlede jaar het die kommissie uiteindelik van die kommentaar op sy webtuiste gepubliseer nadat Netcare en Mediclinic geëis het dat sekere van hul inligting vertroulik gehou word.

Vroeg vanjaar is talle seminare gehou waar rolspelers in die bedryf weer hul mening kon uitspreek oor belangrike kwessies, soos die markkonsentrasie van hospitale, die markkonsentrasie van mediese fondse en verskaffergedrewe vraag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.