Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Fondse ontken diskriminasie teen swart dokters

Medscheme en Discovery Health, twee van die land se grootste administrateurs van mediese fondse, ontken steeds ten sterkste dat hulle teen swart dokters diskrimineer in ondersoeke na bedrog.

Daar was ’n groter waarskynlikheid dat swart praktisyns aan bedrog, misbruik en vermorsing skuldig bevind sou word as hul wit eweknieë.

Medscheme ontken hy voer enige oudits of ontledings oor mediesefondslede se eise gegrond op ras uit. Medscheme behoort aan die AfroCentric, wat in swart besit is.

Die reaksie kom nadat ’n onafhanklike ondersoekpaneel wat moes bepaal of mediese fondse en administrateurs teen swart dokters en ander gesondheidsorgverskaffers diskrimineer, Dinsdag sy voorlopige verslag uitgereik het.

Die ondersoekpaneel het ses jaar se inligting van Medscheme, Discovery Health en die mediesefonds vir staatsamptenare, Gems, oor hul ondersoeke na bedrog deur mediese praktisyns ontleed.

Die ondersoek oor die uitslag van dié ondersoeke toon daar was ’n groter waarskynlikheid dat swart praktisyns aan bedrog, misbruik en vermorsing skuldig bevind sou word as hul wit eweknieë.

LEES OOK: Verslag: Medscheme, Discovery diskrimineer wel

Die moontlikheid dat dit toevallig gebeur, is zero, sê adv. Tembeka Ngcukaitobi SC, voorsitter van die ondersoekpaneel.

Medscheme

“Ons is uiters teleurgesteld dat ons nie ’n geleentheid gegun is om die tussentydse verslag van die ondersoekpaneel te hersien voordat dit openbaar gemaak is soos ooreengekom nie,” sê dr. Lungi Nyathi, uitvoerende direkteur van Medscheme.

Ons fidusiêre plig is om die geld wat aan ons toevertrou is, veilig te hou en te verseker dat lede en hul afhanklikes steeds toegang kry tot bekostigbare gesondheidsorg van die hoogste gehalte.
Dr. Lungi Nyathi van Medscheme

Medscheme sal nou die verslag ontleed en amptelik daarop reageer.

Die maatskappy sê sy verantwoordelikheid lê by die lede en afhanklikes van mediese fondse en om gesondheidsorgeise te verifieer. “Die maatskappy neem nie hierdie plig ligtelik op nie. Ons fidusiêre plig is om die geld wat aan ons toevertrou is, veilig te hou en te verseker dat lede en hul afhanklikes steeds toegang kry tot bekostigbare gesondheidsorg van die hoogste gehalte.

“Die funksie is nog belangriker in die swak ekonomiese tye. Daarsonder sou private gesondheidsorg wesenlik duurder word vir almal.”

Nyathi sê die maatskappy het sedert die ondersoek begin het ’n paar interne en eksterne oudits uitgevoer om seker te maak sy prosesse is onberispelik.

“Die maatskappy is steeds van mening sy forensiese prosesse is billik, deursigtig en in pas met wetgewing.”

Discovery Health

Discovery Health sê die bevinding is dat daar onbillike rassediskriminasie is in die forensiese ondersoeke oor bedrog in die mediesefondsbedryf.

“Die ondersoekpaneel se bevinding is gegrond op die feit dat daar ’n groter persentasie swart, Indiese en bruin gesondheidsorgverskaffers is onder diegene waar, ná ’n gedetailleerde forensiese ondersoek, bevind is dat hulle die bedryf se reëls met hul rekeninge oortree.

Dit is moeilik om ’n proses reg te stel wat as gesond bevind is.
Discovery Health

“Dis belangrik dat die ondersoekpaneel tot dié gevolgtrekking gekom het ten spyte daarvan dat daar nie spesifieke bewyse was van eens ’n enkele geval waar die metodologie of benadering tot die identifikasie en ondersoek van die saak as onvanpas bevind is nie.

“Die gevolgtrekking is dus geneem op grond van die proporsionaliteit van die verteenwoordiging van rasse in die uitslag van die ondersoeke en nie op die werklike onderliggende prosesse nie.

“Dit is moeilik om ’n proses reg te stel wat as gesond bevind is.”

Ryan Noach
Dr. Ryan Noach, uitvoerende hoof van Discovery Health.

Discovery Health sê die ondersoekpaneel het ook duidelik erken dat daar geen bewyse is van doelbewuste, eksplisiete rassevooroordeel in die metodes en algoritmes wat deur skemas en hul administrateurs gebruik word om sake van bedrog en vermorsing te identifiseer en te ondersoek nie.

“Terwyl ons nie aanvaar dat daar rassediskriminasie in ons prosesse is nie, aanvaar en respekteer ons die aanbevelinge van die ondersoekpaneel en onderneem ons om hard te werk in die gesondheidsbedryf om vorentoe te verseker dat uitkomste meer bevredigend, gebalanseerd en verteenwoordigend is.”

BHF

“Ons is van mening dat ons lede geen agenda het om doelbewus teen enige mediese praktisyn te diskrimineer nie en ons het geen toleransie vir enige vorm van diskriminasie nie,” sê dr. Katlego Mothudi, besturende direkteur van die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF), wat talle mediese fondse en administrateurs verteenwoordig.

BHF het saam met Gems ’n dringende hofaansoek gebring om die uitreiking van die tussentydse verslag te keer omdat die paneel nie die goedgekeurde proses gevolg het nie.

Die hofaansoek het misluk en daarna is die tussentydse verslag uitgereik.

Mothudi sê die private gesondheidsbedryf worstel met baie bedrog en korrupsie, wat vererger word deur die gebrek aan sigbare polisiëring, leemtes in moniteringstelsels en jare lange wanpraktyke wat as normaal beskou word in die bedryf.

“Daar word verskeie pogings in die bedryf aangewend om bedrog, vermorsing en korrupsie uit te roei. Om dit te doen, volg BHF-lede verskillende prosesse om tendense en afwykings in eise op te spoor. Dit word gebruik om die uitslag van eise te bepaal.”

Mothudi sê die volledige verslag (van meer as 300 bladsye) sal deeglik hersien word saam met lede wat geraak word en daar sal met die Raad op Mediese Skemas (RMS) in gesprek getree word om ’n pad vorentoe te bepaal en, indien nodig, regstellende aksie voor te stel.

Gems

Gems het nog nie gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.