Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Geen beddens gereserveer, sê ook Life Healthcare

Onder die huidige omstandighede word ook geen beddens in Life Healthcare se hospitale vir mediesefondslede gereserveer nie.

’n Bejaarde Covid-19-pasiënt lê gekoppel aan ’n ventilator in ’n hospitaal se waaksaal. Foto: Getty Images

Matthew Prior, Life Healthcare se hoof van mediesefondsverhoudinge en gesondheidsbeleid, sê beddens kan nie in ’n wêreldwye pandemie uitgehou word vir ’n sekere sektor van die gesondheidsmark nie, ongeag of dit in waakeenhede of gewone sale is.

“Onder die omstandighede word beddens in ons hospitale beskikbaar gestel aan wie eerste opdaag.

“Ons sal elke pasiënt per geval bestuur en sorg sal aan pasiënte voorsien word wanneer en waar dit vereis word, ongeag of hulle mediese dekking het en of die rekening deur die staat betaal word.”

Hy sê Life Healthcare het in beginsel ’n ooreenkoms met die staat aangegaan om Covid-19-pasiënte by te staan as die staatshospitale nie meer pasiënte kan inneem nie en private hospitale in die gebied vir nog pasiënte plek het.

Mediesefondslede was ontsteld nadat Rapport die naweek berig het dat in die pandemie waarborg lidmaatskap nie iemand van ’n bed in ’n private hospitaal nie.

LEES OOK: Covid-19: ’n Mediese fonds waarborg nie ’n bed

Discovery Health, die administrateur van mediese fondse, het intussen aan Netwerk24 gesê die ervaring in die Wes-Kaap toon dat niemand by ’n hospitaaldeur weggewys is nie en dit is onwaarskynlik dat ’n mediesefondslid nie plek in ’n hospitaal sal kry nie. Die administrateur meen mediesefondslede moet kalm bly want die kanse is skraal dat hulle in ’n staatshospitaal gaan beland.

LEES OOK: Bly kalm, jy sal ’n bed kry, sê Discovery

Ook Mediclinic het Maandag bevestig dat beddens vir geen pasiënt – hetsy vir mediesefondslede of staatspasiënte – gereserveer word nie.

Volgens Prior het die nasionale departement van gesondheid die prys bepaal vir die behandeling van staatspasiënte met Covid-19 in private hospitale, maar die ooreenkomste tussen die hospitale en provinsiale departemente is nog nie afgehandel nie.

“Die hospitaalgroepe het ooreengekom om pasiënte op ’n kosteverhalingsgrondslag te behandel. Daar word dus nie ’n wins op dié pasiënte gemaak nie,” sê Prior.

Die prys wat die staat gaan betaal, beloop R16 156 per pasiënt per dag. Dit sluit in hospitaalkoste, maar ook die koste van ’n spesialisdokterspan, patologie-, radiologie- en verwante gesondheidsdienste, asook BTW.

Discovery Health sê dit is sowat 30% minder as wat mediesefondse vir ’n bed in die waakeenheid betaal.

Volgens Prior het Life Healthcare tans nasionaal 1 004 Covid-19-pasiënte in sy hospitale, van wie 111 in waakeenhede is.

Die hospitaalgroepe Netcare en Mediclinic wou nie inligting oor dié syfers verskaf nie.

Prior sê hul hospitale in sekere streke sien meer gevalle, maar is oor die algemeen in staat om Covid-19-pasiënte wat hospitalisasie benodig op te neem.

“In gebiede waar infeksies skerp styg, soos die Wes- en die Oos-Kaap, is die situasie ten opsigte van beskikbare beddens vloeibaar en word dit gereeld bekyk.

“Ons hospitaalbestuurspanne bly deurlopend met mekaar, hul dokters en ander personeellede in kontak om te verseker dat addisionele beddens beskikbaar gestel word in geval dit benodig word.”

In gebiede waar infeksies skerp styg, soos die Wes- en die Oos-Kaap, is die situasie ten opsigte van beskikbare beddens vloeibaar en word dit gereeld bekyk.
Matthew Prior

Volgens hom het hul hospitale ook met die provinsiale hospitale in die streke vergader om te bepaal watter ondersteuning nodig is.

“Indien dit nodig is om die pasiënte te verwys na die naaste beskikbare hospitaal, sal dit gedoen word deur die pasiënt se toestand en behoeftes in samewerking met die pasiënt, dokters en nooddienste in ag te neem.

“Dit sal net ’n opsie wees as geen ander reëling getref kan word nie. Elke geval sal individueel oorweeg word.”

Meer oor:  Life Healthcare  |  Gesondheidsorg  |  Covid-19  |  Mediese Fonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.