Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Geen medies, maar baie kies tog private dokter

Die afgelope 18 jaar het mediese fondse se lede met byna 2,8 miljoen mense gestyg – dus minder as 155 000 nuwe lede (babas ingesluit) het gemiddeld elke jaar dekking gekry.

hospitale, dokters
21% van Suid-Afrikaners gaan na private dokters toe, al het net 17,2% mediese fondse. Foto: iStock

In dieselfde tyd het Suid-Afrika se bevolking egter met 12,5 miljoen mense gestyg – gemiddeld 695 000 per jaar.

Die getal mense wat deur mediese fondse gedek word, was in 2019 byna 10,1 miljoen, die meeste nóg. 

Die persentasie Suid-Afrikaners met ’n mediese fonds het in dieselfde tyd van 15,9% in 2002 tot 17,2% in 2019 gestyg, maar is nie op ’n hoogtepunt nie. In 2013 het 18,2% van Suid-Afrikaners dekking gehad. (’n Klein persentasie van die bevolking is elke jaar onseker of hulle mediese dekking het.)

Die syfers kom uit Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jaarlikse huishoudelike peiling vir 2019 wat die afgelope week uitgereik is. Gegewe dat nagenoeg 1,7 miljoen Suid-Afrikaners vanjaar hul werk verloor het, volgens SSA se kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die derde kwartaal, is die kans goed dat aansienlik minder Suid-Afrikaners in 2020 mediese dekking behou het.

k

Baie betaal uit sak vir private dokter

Baie mense sonder mediese fondse benut egter private gesondheidsorg eerder as openbare gesondheidsorg. As mense gevra word waar hulle heel eerste vir hulp aanklop as hulle siek word, kies 26,8% die een of ander vorm van private gesondheidsorg, met private dokters (21%) die algemeenste.

Dis ongeag dat net 17,2% van Suid-Afrikaners mediese fondse het, en beteken dus dat baie mense uit hul sak vir private mediese sorg betaal.

Staatsinstellings bly egter vir die meeste mense, 72,5%, die eerste plek om aan te klop, met staatsklinieke (65,8%) boaan dié lys.

Net 0,3% van Suid-Afrikaners klop eerste by tradisionele genesers aan.   

Wit mense het meer dekking

Mediesefondsdekking is steeds baie oneweredig verspreid onder verskillende bevolkingsgroepe Minstens 72,4% van wit Suid-Afrikaners word deur ’n mediese fonds gedek, maar net 10,8% van swart Suid-Afrikaners.

Dit stem breedweg gesproke ooreen met werkloosheidsyfers, wat daarop dui dat net 8,6% van wit Suid-Afrikaners werkloos is, teenoor 34,6% van swart Suid-Afrikaners.

Dit beteken egter steeds baie mense wat werk, kan nie ’n mediese fonds bekostig nie of wil nie daarvoor betaal nie.

k

  

Stede, ryk provinsies het meer dekking

In metropolitaanse gebiede en Suid-Afrika se ryker provinsies het ’n groter persentasie mense mediese dekking.

Dekking deur mediese fondse in alle metropolitaanse gebiede landwyd is 25,2%, met Tshwane (30,6%) en Kaapstad (28%) boaan die lys.

Provinsiaal wissel van 24,9% in Gauteng tot 9,9% in Limpopo. Net drie provinsies het bogemiddelde dekking: Gauteng (24,9%) die Wes-Kaap (24,1%) en die Noord-Kaap (19,3%). Die ander provinsies lyk as volg:

  • Noordwes: 16,3%
  • Vrystaat: 14,7%
  • KwaZulu-Natal: 13,1%
  • Mpumalanga: 12,6%
  • Oos-Kaap: 10,8%
  • Limpopo: 9,9%
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.