Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Gems 0, Openbare Beskermer 1

Die mediese fonds vir staatsamptenare (Gems) gaan appelleer teen die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria wat bevestig dat die openbare beskermer (OB) jurisdiksie oor hom het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Andrew Mkhondo

Dr. Guni Goolab, hoofbeampte van Gems, sê die mediese fonds glo daar is goeie gronde om te appelleer.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, het die uitspraak verwelkom en gesê dit verseker dat ’n ondersoek wat amper twee jaar opgehou is, nou voortgesit kan word.

Volgens haar het Gems voorheen aangevoer dat die mediese fonds nie ’n staatsinstelling of deel van die regering is nie en daarom nie onder die OB se mandaat val nie.

Waaroor handel dit?

Luidens die OB se verklaring spruit die hofsaak uit ’n ondersoek na ’n klagte van ’n persoon wat beweer dat Gems weier om hom toe te laat as ’n afhanklike van ’n oorlede lid van die fonds met volle voordele, insluitende die staatsubsidie wat lede van die mediese fonds van die staat ontvang. (Lees meer hieroor in die meegaande inligting.)

Die OB sê die klaer was vanaf 1 Junie 2013 as ’n afhanklike van die hooflid geregistreer. Die hooflid is op 27 Junie 2013 dood en volgens die OB het Gems die klaer se lidmaatskap kort daarna beëindig.

Die ondersoek

Die OB se ondersoek na dié klagte is van Junie 2017 tot April 2018 opgehou omdat Gems die jurisdiksie oor hom bevraagteken.

Toe dagvaar die OB Goolab en die mediese fonds se regsadviseur, Johannes Kruger, om in persoon voor haar te verskyn om te getuig en die dokumente te verskaf wat met die ondersoek verband hou.

Gems het in daardie stadium die hooggeregshof versoek om ’n verklarende bevel uit te reik oor die jurisdiksie van die OB om die klagte te ondersoek.

Die hofsaak

Mkhwebane het aangevoer dat hoewel Gems nie ’n staatsinstelling of deel van die regering is soos omskryf in die Wet op die Openbare Beskermer nie en onderhewig is aan die Wet op Mediese Fondse, verrig Gems ’n openbare funksie en val derhalwe binne die mandaat van die OB-wet.

Mkhwebane sê Gems verrig ’n openbare funksie omdat die mediese fonds deur die regering vir die doel van die regering geskep is. Die OB het ook aangevoer dat Gems slegs staatsamptenare bedien en personeel wat by staatsentiteite werk en dat 50% van die mediese fonds se raad van trustees deur die minister van staatsdiens en administrasie namens die regering aangestel word.

Die uitspraak

Die uitspraak lui hoewel Gems ’n mediese fonds is, is hy uniek omdat die fonds deur die regering vir staatsamptenare geskep is en openbare geld gebruik om ’n verantwoordelikheid van die regering as werkgewer na te kom.

Gems se aansoek is derhalwe afgewys asook ’n hofbevel wat vroeër uitgereik is in ’n afsonderlike aansoek om die dagvaarding van Goolab en Kruger op te skort.

Die hof het in albei sake ’n kostebevel teen Gems, Goolab en Kruger toegestaan, luidens die OB se verklaring.

Wat gebeur nou?

Goolab sê die Raad op Mediese Skemas (RMS) het reeds die klagte ondersoek en ten gunste van Gems beslis. Die lid het daarna teen dié besluit geappelleer en die appèl is ook afgewys.

“Gegewe dat die klagte reeds ondersoek is en die RMS daaroor beslis het, is dit belangrik vir die mediesefondsbedryf om duidelikheid oor die rol van die OB in hierdie reeds hoogs gereguleerde bedryf te kry,” het Goolab luidens ’n verklaring gesê.

Lees hier die uitspraak teen die afhanklike se appèl wat deur die appèlraad van die RMS afgewys is.

Staatsubsidie vir ’n afhanklike

Die uitspraak van die RMS se appèlraad toon die persoon maak kapsie daarteen dat hy nie op die staatsubsidie geregtig is vir sy mediesefondsbydrae nadat sy lewensmaat dood is nie.

Uit die uitspraak van die RMS se appèlraad blyk dit die persoon, waarna bloot as NB verwys word, het teen ’n uitspraak op 19 Januarie 2016 van die registrateur van mediese fondse geappelleer.

In dié uitspraak het die registrateur bevind dat NB wel geregtig op lidmaatskap van die fonds is maar dat hy nie kwalifiseer vir ’n subsidie van die agentskap wat staatspensioene administreer (GPAA) nie en dus aanspreeklik is vir die volle premie wat ’n lid moet betaal.

In sy appèl het NB gekla dat die beëindiging van sy voordele en sy “uitsluiting van die fonds” nie gegrond is op Gems se reëls nie.

Die appèlraad het gesê NB se weergawe stem nie ooreen met die registrateur se uitspraak óf die mediese fonds se voorleggings in die verhoor nie. 

“Albei het dit baie duidelik gemaak dat NB ná sy lewensmaat se dood onderhewig aan reël 6.8.1 van die reëls van die fonds op voortgesette lidmaatskap sonder enige beperking of wagtye geregtig is.”

Luidens die uitspraak van die appèlraad het NB se saak tydens die appèl in ’n eis oor die subsidie van die GPAA gemuteer.

Die uitspraak lui dat die appellant kan voortgaan as lid van die mediese fonds en ingevolge die reëls vir die betaling van die premie aanspreeklik is. “Kwessies wat met die subsidie van die GPAA verband hou, moet met die agentskap opgeneem word omdat die appèlraad geen jurisdiksie hieroor het nie.”

Meer oor:  Gems  |  Ob  |  Openbare Beskermer  |  Staatsdiens  |  Staatsamptenare  |  Mediese Fondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2085,82 (-20024)
  • Top 40 51145,55 (37671)
  • All Share 57123,78 (34185)
  • Resource 10 44133,06 (45362)
  • Financial and Industrial 30 78010,93 (42741)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.