Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Gems beloof regstellings oor ‘diskriminasie’

Die mediese fonds vir staatsamptenare, Gems, sê hy neem met kommer kennis van die voorlopige bevindinge van die ondersoek na rassediskriminasie deur die bedryf wanneer gesondheidsorgpraktisyns vir bedrog met eise ondersoek word.

Miljarde rande gaan jaarliks verlore weens bedrog en misbruik van mediese fondse.

Die ondersoekpaneel wat die klagtes van swart dokters en ander gesondheidspraktisyns sedert Julie 2019 ondersoek het, het Dinsdag die voorlopige verslag van meer as 300 bladsye uitgereik. Benewens skriftelike voorleggings is openbare verhore ook gehou.

Lees hier die opsomming van die verslag.

Die mediesefondsbedryf gaan onder miljarde rande se bedrog deur lede en gesondheidsorgverskaffers gebuk.

Dit in dié ondersoeke na bedrog, misbruik en verkwisting van mediesefondsvoordele wat deur mediese fondse en hul administrateurs gedoen word waaroor swart praktisyns kla dat hulle geteiken word.

Die klagtes het ook gehandel oor hoe mediese fondse en hul administrateurs die mag wat hulle ingevolge art. 59 van die Wet op Mediese Skemas het, gebruik om betalings van praktisyns te weerhou.

Die bevindinge is beperk tot Gems en die twee administrateurs Medscheme en Discovery Health omdat die ondersoekpaneel slegs hul bedrogbestuurstelsels behoorlik ondersoek het.

Discovery Health en Medscheme administreer gesamentlik meer as 30 mediese fondse. Luidens die verslag impliseer die bevindinge onregstreeks ook dié mediese fondse.

In die ondersoek is bevind dat die data oor hul bedrogondersoeke toon dat swart verskaffers aansienlik meer geneig is om skuldig bevind te word as hul wit eweknieë en dat dit op rassevooroordeel neerkom.

Dr. Stanley Moloabi, hoofbeampte van Gems, sê die mediese fonds verdra nie enige vorm van diskriminasie nie en belowe regstellende aksie waar nodig en soos dit deur die ondersoekpaneel, “tot voordeel van lede en verskaffers” aanbeveel is.

Gems het Sondag ’n dringende interdik gebring om die uitreiking van die verslag te keer, maar die aansoek het misluk.

Gems sê hy het altyd die art. 59-ondersoek gesteun en sy hofaansoek het daaroor gehandel dat die regte proses gevolg moet word.

“Gems het niks om weg te steek nie en het deurgaans met die ondersoekpaneel saamgewerk en al die inligting verskaf wat nodig was vir die paneel om sy taak te verrig.”

Moloabi sê die taak waarop nou gefokus moet word, is om wyd met gesondheidsorgverskaffers te skakel, verhoudinge te versterk en “seker te maak dat as daar enige skuiwergate is, saamgewerk word om dit tot voordeel van almal toe te stop”.

Die bevindings en aanbevelings sal in die komende ses weke bestudeer word om kommentaar op die finale verslag te lewer.

Moloabi sê Gems sal voortgaan om mediese praktisyns vir hul eise in ooreenstemming met die skemareëls en die bepalinge van die wet betaal.

“Gems bly verbind tot die uitroei van bedrog, verkwisting en misbruik sodat die skema tot voordeel van ons lede finansieel volhoubaar bly. Net so is ons verbind daartoe om te verseker dat daar geen onbillike rassediskriminasie is, hetsy opsetlik of as gevolg van gebrekkige prosesse waarvoor ons blind is.”

HFA

Die vereniging vir gesondheidsfinansiers (HFA) het die vrystellig van die voorlopige verslag verwelkom en sê hy ondersteun die bevinding dat daar “geen bewyse van eksplisiete of doelbewuste rassevooroordeel in algoritmes en metodes is wat administrateurs en mediese fondse gebruik om bedrog, verkwisting en misbruik te identifiseer nie”.

HFA verteenwoordig mediese fondse, administrateurs en gesondheidsorgbestuurders.

Dit word ook verwelkom dat die ondersoekpaneel uitdruklik erken hoe skadelik bedrog vir mediese fondse is en dat meganismes nodig is om dit te bekamp.

“Die paneel het bevestig dat die meganismes wat tans deur mediese fondse gebruik word, insluitende die terugvordering van bedrae wat betaal is en om hulle op ’n indirekte betalingstelsels te plaas (waar lede direk deur die mediese fonds terugbetaal word), is toelaatbaar ingevolge die wet, solank die fonds redelik en prosedureel regverdig optree.”

Die HFA sê ’n verduideliking sal van die ondersoekpaneel versoek word oor hoekom onderliggende veranderlikes wat moontlik die uitkomste kan verduidelik, nie in ag geneem is nie. Dit is veranderlikes wat ’n verduideliking kan gee waarom meer swart dokters skuldig bevind word.

“In voorleggings aan die ondersoekpaneel is getoon dat onderliggende veranderlikes die rasseverskil amper heeltemal uitwis.”

Meer oor:  Gems  |  Gesondheidsorg  |  Rassisme  |  Bedrog  |  Mediese Fondse  |  Private Gesondheidsorg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.