Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Gems: ‘NGV gaan van die begin af móét werk’
Mense wat ’n mediese fonds wil behou ná die inwerkingstelling van NGV, gaan baie meer daarvoor moet betaal én gaan steeds vir NGV self ook moet betaal.

Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan van die dag waarop dit in werking gestel word móét werk, anders gaan dit soos ’n tydbom wees.

Dit is die waarskuwing van dr. Stan Moloabi, bedryfshoof van die mediese fonds vir staatsamptenare (Gems), Suid-Afrika se naasgrootste fonds wat 1,8 miljoen lewens dek. Dit is ’n geslote mediese fonds en beperk tot staatsdienswerkers.

Moloabi neem op 1 Februarie volgende jaar die leisels oor as hoofbeampte van Gems.

“Die staat sal eers die kat mooi uit die boom moet kyk en dit op klein skaal moet toets totdat dit werk voordat hy begin om dit in werking te stel,” sê hy.

Moloabi, ’n groot ondersteuner van die NGV, sê hy verstaan hoekom daar soveel kommer en teenkanting oor die NGV is.

“Dit is natuurlik dat daar baie onsekerheid oor die NGV is.

“Daar is geen duidelikheid oor hoe dit gefinansier gaan word, hoe dit ingestel gaan word en presies hoe dit diegene wat van private gesondheidsorg gebruik maak, gaan raak nie,” sê hy.

“Daar is nege miljoen mense wat toegang tot private gesondheidsorg het wat nou bekommerd is hulle gaan dit verloor. Hulle is bekommerd dat die 40 miljoen mense wat nie toegang tot behoorlike basiese gesondheidsorg het nie, dit van hulle gaan wegneem.”

Moloabi het Woensdag sy mening oor die NGV met Netwerk24 gedeel ná die dag se verrigtinge by Gems se jaarlikse seminaar wat in Durban gehou is.

Finansiering

Moloabi sê buiten die kommer oor hoe die NGV mense se gesondheidsorg gaan beïnvloed, is daar baie vrae oor hoe dit gefinansier gaan word.

Moloabi sê in die lig daarvan dat daar nog geen duidelikheid is oor die finansiering nie en as ’n mens die stand van die ekonomie in ag neem, kan die aanname gemaak word dat die NGV oor ’n tydperk ingefaseer gaan moet word.

Op die vraag of hy dink die tweede fase van die NGV kan teen 2022 in werking gestel word soos wat die wetsontwerp voorstel, sê Moloabi dit sal afhang van hoe die tesourie se finale finansieringsplan lyk.

“Dit mag dalk langer neem as wat beplan is, maar ek glo die NGV gaan ingestel word.”

Moloabi sê dit gaan uiters belangrik wees dat wanneer die NGV wel in werking gestel word, die dienste wat dit bied landwyd effektief aan alle pasiënte gelewer word.

“Dit moet van die begin af werk. Dienste sal ingefaseer moet word soos dit beskikbaar word,” sê hy.

Dr. Guni Goolab, uittredende hoof van Gems, het Donderdagoggend in ’n gespreksessie op die seminaar gesê dat Gems gereed is om die staat te help om die NGV in werking te stel.

“Ons het die ervaring om die staat te help en ek glo ons kan ’n waardevolle bydrae lewer tot die inwerkingstelling daarvan,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.