Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Gems reg om vir entstof te betaal

Die mediese fonds vir staatsamptenare (Gems) het vir die koronavirusentstof begroot en sal dit as ’n voorgeskrewe minimum voordeel (VMV) soos bepaal deur die Raad op Mediese Skemas dek.

Dr. Stan Moloabi, hoofbeampte van Gems, die mediese fonds vir staatsamptenare. Foto: Verskaf

“Alle koste gaan dus gedek word as ’n VMV en lede se bydraes en voordele sal nie daardeur geraak word nie,” sê dr. Stan Moloabi, hoofbeampte van Gems.

Dit is die tweede grootste mediese fonds in die land en dek 1,9 miljoen lede en afhanklikes.

“Hoewel die koste van elke dosis nog onbekend is en afhang van die regering se sentrale verkrygingsproses wat tans aan die gang is, is die fonds reg om die entstof te finansier,” sê Moloabi.

Gems sal die entstof ooreenkomstig die strategie vir prioriteitsgroepe, soos aangekondig deur dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, versprei.

Verlede week is berig dat mediese fondse ook vir ’n groot deel van staatspasiënte sal betaal sodat die vereiste persentasie van die bevolking ingeënt word om kudde-immuniteit te verkry.

LEES OOK: Entstof: Mediese fondse gaan almal help subsidieer

Moloabi beaam wat Discovery Health gesê het dat dit gaan geskied deur middel van kruissubsidiëring deurdat mediese fondse ’n hoër prys as die staat vir die entstof gaan betaal.

“Gems ondersteun die nasionale departement van gesondheid se entstofstrategie, wat sal verseker dat daar billike toegang daartoe is.

“Daar is ander voorbeelde waar mediese fondse ’n wesenlik hoër prys vir medisyne as die openbare sektor betaal. MIV-middels is ’n voorbeeld hiervan.”

Suid-Afrika kry entstof via die Covax-program van die Wêreldgesondheidsorganisasie, maar buiten dié program moet nog sowat 34 miljoen mense ingeënt word om kudde-immuniteit te behaal, volgens dr. Stavros Nicolaou, hoof van die gesondheidstaakspan van Business for South Africa en ’n senior bestuurslid van Aspen.

Hy het gesê mediese fondse gaan vir die 70% van hul lede en afhanklikes wat nodig is om kudde-immuniteit te behaal – naamlik 7,1 miljoen – en ook vir dieselfde getal staatspasiënte betaal.

Nicolaou sê die private sektor ondersoek ook verdere moontlikhede om te help met die finansiering van die res van die entstof wat vir kudde-immuniteit nodig is.

LEES OOK: Discovery: Só gaan subsidiëring van entstof werk

Discovery Health sê na raming gaan dit sowat R7 miljard kos om die lede van mediese fondse in te ent. Dit sluit die logistieke koste in.

Hoeveel dit gaan kos, sal uiteindelik van die finale prys van die entstof, watter entstof gebruik word (sommige soorte benodig twee dosisse) en die heersende wisselkoers afhang.

Dit is minder as 2% van die jaarlikse bydrae tot mediese fondse.

Moloabi sê Gems sal vir ’n groot persentasie werkers op die frontlinie betaal omdat sy lede meestal in sulke poste in die staatsdienssektor is.

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid van Gesondheidsprodukte (Sahpra) moet nog ’n entstof goedkeur.

Moloabi meen die pandemie is ’n goeie toetslopie vir die stelsels wat die land wil ontwikkel om Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ’n werklikheid te maak.

“Deur universele toegang tot ’n entstof in ooreenstemming met die prioriteite van die land en individue se gesondheidsbehoeftes te gee, het ons die geleentheid om te wys ons kan universele dekking vir gesondheidsorg verskaf.”

Gems het in die boekjaar tot einde Desember 2019 vir die eerste keer die wetsverpligte solvensieverhouding van 25% behaal sedert hy in 2006 tot stand gekom het. Dit het in der waarheid tot 31,5% opgeskiet.

Die skema het 2019 met R9,4 miljard se reserwes begin en dit met R13 miljard s’n afgesluit.

Boonop was 2020 te midde van die pandemie ’n jaar waarin mediese fondse minder as die begrote eise gekry het omdat mense hospitale en dokters sover moontlik vermy het.

Sy reserwes sou dus aan die einde van 2020 waarskynlik nog hoër gewees het.

Einde Desember 2019 het die fonds R15,4 miljard se kontant en beleggings gehou.

Moloabi het in Desember verlede jaar gesê R355 miljoen is begroot om voordele te verbeter insluitende ’n “wesenlike deel” wat vir entstowwe opsygesit is.

Meer oor:  Gems  |  Mediese Skemas  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Entstof  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.