Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Siekefondse: Rykes dok meeste op, kry meeste
Dit is nie 'n verrassing dat rykes meer betaal vir gesondheidsorg as armes nie, maar rykes kry ook meer as wat hul behoefte is, toon 'n nuwe verslag.

Rykes dok die meeste op vir gesondheidsorg in Suid-Afrika en finansier die armes, maar trek ook die meeste voordeel uit die beskikbare dienste.

Dit is ’n opsomming van navorsing van die Stellenbosse navorsingsgroep Econex.

Die navorsing is namens Mediclinic in aanloop tot die inwerkingstelling van die stelsel van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) uitgevoer.

Die finale witskrif oor die NGV is onlangs in die Staatskoerant gepubliseer.

Mediclinic wou verstaan hoe vir die gesondheidsdienste in die land betaal word en wie dit die meeste benut.

“Om ’n stelsel te ontwerp wat toegang bied tot baie dienste sonder dat by die ontvangs van die diens betaal hoef te word, is dit belangrik om te verstaan hoe vir gesondheidsorg betaal word en wat die toegang tot die voordele is,” sê dr. Paula Armstrong, Mariné Erasmus en Elize Rich, ekonome van Econex, in die verslag.

Die navorsing is gedoen om ’n nuwer ontleding van die situasie te kry.

Die bevolking is opgedeel volgens die besteding van huishoudings in vyf groepe, van rykste tot armste.

Die dienste waarna gekyk is, was in die staatsdiens (klinieke en hospitale) en private sektor (algemene praktisyns, klinieke en hospitale, waaronder spesialiste). Medisyne wat buite hospitale gekoop word, is ook ontleed.

Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat rykes die meeste voordeel kry uit gesondheidsorg.

Hulle trek ook meer voordeel as wat hul behoefte is.

Die armste groep se behoefte beloop 24% van die totaal maar hulle kry net 12% van die voordele.

“In die algemeen word 'n gesondheidstelsel beskou as billik as die groepe met die grootste behoefte die meeste voordele kry.”

Belasting

Die finansiering van gesondheidsorg is ontleed deur te bepaal wat elkeen van die vyf groepe bydra tot belasting, die premies van mediese skemas en bybetalings.

Die twee rykste groepe dra 87% van die totale finansiering van gesondheidsorg in die land by.

Hoeveel die verskillende groepe bydra, is bepaal deur na belasting, bybetalings en die premies van mediese skemas te kyk. In belasting is ingesluit persoonlike inkomstebelasting, BTW, aksynsbelasting op drank en sigarette en die brandstofheffing.

Ten opsigte van belasting waarmee gesondheidsorg gefinansier word, dra die rykste groep wesenlik meer by. Die twee rykste groepe dra amper 87% saam by, vergeleke met die armste drie groepe wat minder as 10% bydra.

Premies

Wat betref bydraes tot premies, dra die twee rykste groepe 90% van die totale premies by. Dit sluit in die mediese belastingkrediete wat lede van mediese skemas kry om hul maandelikse premies te verminder.

Ook ten opsigte van bybetalings lewer die twee rykste groepe ook die grootste bydrae.

Die drie armste groepe dra 13% van die finansiering by, maar ontvang 44% van die voordele.

“Dit stem ooreen met die beginsels van maatskaplike solidariteit.”

“Dit is egter steeds baie minder as die behoefte wat hulle aan gesondheidsorg het, wat altesame 70% van die totaal verteenwoordig,” het hulle gesê.

Die behoefte aan gesondheidsorg is op grond van sterftesyfers bepaal.

Staatsdiens

Die bydraes word opgedeel in staatsdiens en private sektor om spesifiek 'n prentjie te kry oor elke sektor.

Ook by die finansiering van openbare gesondheidsorg dra die twee rykste groepe meer as 86% by.

Hulle kry sowat 37% van dié voordele.

Die twee armste kry 41% van die voordele terwyl hulle 6% bydra.

“Dit is in ooreenstemming met wat met maatskaplike solidariteit bedoel word,” meen die skrywers weer.

Hulle verskil van die stelling in die NGV-witskrif dat die huidige situasie die “armes straf”.

Die skrywers meen die feit dat die twee armste  in die staatsektor meer as 40% van die voordele kry en minder as 7% van die belasting bydra, wys “openbare gesondheidsdienste is pro-armes”.

“Relatief tot hul finansiële bydrae kry individue wat armer is ’n baie groter gedeelte van die voordele in die staatsdiens. Dit is billik.”

In die staatsdiens ontvang die armste groep egter net minder as 20% van die voordele, wat minder is as wat die drie inkomstegroepe bo hulle ontvang.

Die skrywers sê 13% van die voordele in die staatsdiens word deur die rykstes benut.

Ten opsigte van die benutting van die private sektor is die bevindinge nie ’n verrassing nie.

Die besoeke aan algemene praktisyns en private klinieke binne apteke, asook private hospitale (die koste van spesialiste ingesluit) en medisyne buite hospitale, word meer deur die rykes benut.

“Die toegang tot private gesondheidsorg word gerantsoeneer op grond van die vermoë om te betaal. Met ander woorde, die benutting van private dienste hang af van premies aan mediese skemas en bybetalings.”

Totale benutting

Die navorsing toon ook die mate waarin mense van verskillende groepe voordeel trek uit totale gesondheidsorgvoorsiening in die land.

“As na die gekombineerde voordeel van die openbare en private sektor gekyk word, is die meeste toegang deur rykes gekry.

“Die armste groep kry net 12% van alle gesondheidsvoordele, terwyl die rykste groep 32% kry.”

Volgens die navorsers is dié resultate gegrond op die getal mense uit elke inkomstegroep wat gesondheidsdienste van die verskillende geriewe soek.

Huishoudelike uitgawes

As gekyk word na die totale huishoudelike uitgawes en dan gekyk word na hoeveel elke huishoudingsgroep bestee aan belasting, mediese skemas en bybetalings, is die armste groep se bybetalings persentasiegewys hoër as die ander groepe s’n.

Die rykste groep bestee minder as 0,9% aan bybetalings en die armstes 2,4%.

Die rykste groep se bydrae tot belasting as deel van hul totale huishoudelike besteding is egter 7,6%.

Die naasrykste groep s’n is hoër op 11,4%.

Die skrywers glo die bevindinge van die verslag het belangrike beleidsimplikasies.

“Afhangende van die nasionale doelwit, kan beleid oorweeg word wat óf die toegang tot voordele, óf die verskaffing van finansiering, óf albei gaan verstel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.