Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Groot mediese koste kom nog
Mediese fondse kan dalk sukkel om premies bekostigbaar te hou. Foto: iStock

Mediese fondse spaar baie geld omdat operasies wat nie noodgevalle is nie en dokters- en spesialisbesoeke dramaties afgeneem het weens die Covid-19-pandemie.

Aan die ander kant kos een Covid-19-pasiënt se hospitaalopname gemiddeld R85 000 (nie-hospitaalkoste uitgesluit) en omdat die siekte nog vir lank met ons gaan wees, moet die impak daarvan op mediese fondse vir 2020 en 2021 in ag geneem word, sê dr. Ryan Noach, uitvoerende hoof van die mediesefondsadministrateur Discovery Health.

Afhangend van die omvang van die pandemie, kan Covid-sifting, -toetse en -hospitaalbehandeling in dié tyd tot ’n bykomende R816 tot R3 561 per begunstigde vir alle mediese fondse lei. Dít kan die land se mediese fondse in 2020 en 2021 tussen R7,3 miljard en R31,8 miljard kos, het Noach Woensdag op ’n mediakonferensie gesê.

Dit is dus té gou om te sê of die afname in mediesefondseise gedurende Suid-Afrika se nasionale inperking tot ’n besparing vir fondse dié jaar en tot laer verhogings in ledebydraes vir 2021 sal lei.

Discovery Health administreer 19 mediese fondse met sowat 3,5 miljoen begunstigdes. Die grootste fonds onder sy bestuur is Discovery Health Mediese Skema (DHMS).

Volgens Noach toon hul statistieke sowat 23% van bevestigde Covid-19-gevalle word in die hospitaal opgeneem en 4,5% in die waakeenheid.

Dit kos nagenoeg R340 000 vir iemand wat aan ’n ventilator gekoppel is, R169 525 vir ’n Covid-pasiënt in die waakeenheid en sowat R92 000 in die hoësorgeenheid.

Volgens Noach het hulle ’n geval van ’n pasiënt aan ’n ventilator wie se rekening meer as R800 000 beloop.

Teen Woensdag het Discovery Health 529 hospitaalopnames weens Covid-19 gehad. Teen gemiddeld R85 000 per geval, is dit net minder as R45 miljoen se uitbetalings.

Die R85 000 is sowat drie keer die gemiddelde van ’n tipiese hospitaalopname, sê Noach.

Ander groot mediese fondse het ook aan Rapport gesê daar is veel minder eise uitbetaal tydens die inperking omdat geen operasies wat nie noodoperasies of dringend was onder vlak 5 gedoen is nie.

Hospitale was ook leër.

Die mediese koste van Covid-19 is egter nog onbekend.

Volgens Damian McHugh, uitvoerende bestuurder van Momentum Health Solutions, verwag hulle Covid-19-verwante eise kan styg soos die inperkingsvlakke verslap.

Die hoogtepunt van die siekte word in Augustus of September in Suid-Afrika verwag.

Die hoogtepunt van die siekte word in Augustus of September in Suid-Afrika verwag.

Emile Stipp, hoofaktuaris van Discovery Health, sê DHMS het genoeg reserwes om die ergste scenario te hanteer. Kragtens wet moet mediese fondse 25% van hul bydraes in reserwe hou en dit is juis om vir onvoorsiene gebeure soos Covid-19-voor­siening te maak.

DHMS het sowat R20 miljard se reserwes.

Volgens Craig Comrie, uitvoerende hoof van Profmed, moet mediese fondse se besparings tot dusver vanjaar egter gesien word in die lig van die verwagte styging in die koste van ekstra persoonlike beskermende toerusting wat hospitale, dokters en tandartse gebruik.

Dit sal nog vir die volgende paar jaar ’n invloed op koste- en projeksiemodelle hê. Fondse sal sukkel om koste te beperk en premies bekostigbaar te hou te midde van al die langtermynonsekerhede en daarom hoop almal op ’n entstof, sê hy.

As mediese fondse minder eise uitbetaal, beteken dit hospitale en spesialiste voel ook die uitwerking van Covid-19 aan hul sakke.

Dr. Johann Serfontein van die konsultantegroep HealthMan, wat onder meer die South African Private Practitioners Forum (SAPPF) met sowat 3 500 spesialiste adviseer, sê mediese eise se data vir sowat 80% van spesialiste wys veral oftalmoloë se praktyke is erg geraak deur die inperking.

Eise deur oftalmoloë was in April 80% laer as in Maart – van R153 miljoen in Maart tot R30 miljoen in April. Sekere spesialisgroepe se eise in April was so min as 4% van wat in Februarie en Maart geëis is.

Eise wat deur ’n groot faktureringsburo vir April ingedien is en die situasie by 300 praktyke weerspieël, wys dat net 54% van die gemiddelde getal eise van Januarie tot Maart ingedien is.

Serfontein sê chirurgiese dissiplines soos ortopediese en algemene chirurge en dié wat gesig- en kaakverwante prosedures doen, asook oor-neus-en-keel-spesialiste, het swaar gekry weens die verbod op nie-noodprosedures onder vlak 5.

Adam Pyle, uitvoerende hoof van Life Healthcare in Suid-Afrika, sê hul hospitale landwyd was in Maart en April onderskeidelik 69% en 40% beset, vergeleke met 72% en 70% onderskeidelik in Maart en April 2019.

Sowat 50% van Life Healthcare-hospitale se gevalle is wat as nie-noodprosedure beskou word.

McHugh sê nie-noodprosedure wat vir eers uitgestel is, kan vinnig vermeerder oor die volgende paar maande en die uiteindelike koste sal dan soortgelyk wees aan verlede jaar.

Serfontein meen dis onwaarskynlik dat operasies vir die res van die jaar na normale volumes sal terugkeer omdat maatreëls om Covid-19-infeksies te keer, onder meer vereis dat teaters tussen operasies ontsmet en vir 20 tot 30 minute geventileer word. Operasiesale sal nie teen volle kapasiteit gebruik kan word nie.

Hy sê teaters waar oogoperasies gedoen word, sal dalk net 50% gebruik kan word, as in ag geneem word dat ’n katarakprosedure sowat 30 minute neem.

Meer oor:  Koronavirus  |  Mediese Fonds  |  Medisyne  |  Gesondheidsorg  |  Mediese Spaarplan  |  Covid-19  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.