SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Mediese Fondse
Hier is die gesondste, siekste mediese skemas

Die massiewe Discovery Health Mediese Skema (DHMS) is vir die tweede jaar agtereenvolgens finansieel die gesondste skema, maar wie is die siekste – en hoekom?

Die vier siekste mediese skemas is Resolution Health, Medshield, Medihelp en Spectramed. Foto: iStock

Die mediese makelaars GTC (voorheen Grant Thornton Capital) doen jaarliks ’n peiling onder mediese skemas om te bepaal watter in die algemeen die gesondste is ten opsigte van onder andere hul finansies, groei en getal lede.

Dit toon die vier siekste skemas is Resolution Health, met ’n telling van 4,6%; gevolg deur Medshield, met 9,1%; Medihelp, met 13,6%; en Spectramed, met 18,2%. (Sien die meegaande tabel met ’n volledige lys van die 22 skemas wat in die peiling ontleed is.)

  

Jill Larkan, hoof van die gesondheidskonsultante van GTC, sê die inligting van die Raad op Mediese Skemas (RMS) se jaarverslag oor mediese skemas word vir die peiling gebruik. Sy sê GTC sonder ’n paar aanwysers uit wat belangrik is en gee sy eie tellings daarvoor om ’n jaarlikse en langertermyntendens te kry.

Volgens haar identifiseer die RMS se verslag duidelik die skemas wat onder bedreiging is en wat ekstra sorg benodig.

Sy meen ’n skema wat voortdurend swak vaar in dié peiling én in die RMS se jaarlikse verslag moet kommer wek. “Sekere skemas is onder enorme druk om met die groter skemas mee te ding en om aantreklike en volhoubare voordele en premies te bied.”

Sy het gesê die vier swakste skemas het in geen aspek wat gemeet is, goed gevaar nie (sien die lys van aanwysers wat gemeet word hiernaas.) Sy kon egter nie by navraag verduidelik wat die grootste invloed op dié skemas se prestasie was nie.

Bedryfsresultate

Net vyf van die skemas toon ’n bedryfsurplus: Discovery, Bestmed, Genesis, Suremed en MediMed.

Die ranglys kan redelik verander van jaar tot jaar, soos Medihelp wat verlede jaar in die 12de plek was met ’n punt van 60,9%. Cape Medical Plan, wat verlede jaar tweede swakste (8,7%) was, het vanjaar tot in die 12de plek gespring met ’n telling van 50%.

Die volgende drie was ook verlede jaar van die swakstes: Resolution Health was vierde swakste (17,4%); Spectramed was derde swakste (13%); en Medshield (4,4%) was die swakste.

Verlede jaar se jaarverslag van die RMS toon daar was vyf oop skemas in die waakeenheid: Community Medical Aid Scheme (Commed); Resolution Health Medical Scheme, Thebemed, Liberty Medical Fund en Bonitas.

Commed is in Augustus 2017 gelikwideer en lede is na Bonitas verskuif.

Bonitas en LMS het saamgesmelt en die GTC-peiling toon watter gunstige uitwerking dit op die skemas gehad het. Dit het Bonitas se telling skerp van negende plek tot in die tweede plek in die peiling gelig.

Discovery en Momentum is die enigste skemas wat onder die vyf gesondstes gebly het.

  

Hoe die peiling werk

  

1. Die peiling van GTC is gegrond op die mediese skemas se resultate vir die jaar tot einde Desember 2016. Let wel, die resultate vir die jaar tot einde Desember 2017 is nog nie beskikbaar nie en die RMS gaan eers oor sowat twee maande sy verslag uitreik.

2. Tien faktore word gemeet: Lidmaatskap; die jaar-tot-jaar-groei; groei in markaandeel; groei in lidmaatskap oor die afgelope vier jaar; die markaandeel die afgelope vier jaar; solvensievlak; bedryfsresultate; die bedryfsresultate oor vier jaar; die gemiddelde ouderdom van die lede en afhanklikes; asook klagtes en komplimente wat deur Hellopeter.com ontvang word.

3. Die twee faktore wat die meeste punte tel (20) is die getal lede en die gemiddelde ouderdom van die lede. GTC sê die getal lede per skema bepaal ’n skema se bedingingsmag. Hoe groter ’n skema, hoe beter kan hy pryse by spesialiste en hospitale beding. Die gemiddelde ouderdom speel ’n groot rol in premies en verhogings. Dit is omdat ouderdom ’n groot rol speel in hoeveel eise ontvang word.

4. Solvensievlak (15 punte) en bedryfsresultate (tien punte) is ook belangrik.

  

Aantal lede

  

Net Discovery, Bonitas en Momentum het punte gekry ten opsigte van die getal lede wat hulle bygekry het.

  • Bonitas het die grootste groei in lede en afhanklikes van 17,8% of sowat 52 600 getoon; terwyl Discovery met 29 589 en Momentum met 9 428 toegeneem het.
  • In geheel het tien skemas hul lede en afhanklikes in die jaar verhoog. Die res het ’n daling in lede gehad.
  • Resolution en Topmed het elk meer as 3 000 lede verloor, wat die grootste verlies onder die skemas was.

“Die verlies van soveel lede in betreklik klein skemas kan die risiko vir die oorblywende lede verhoog indien hulle minder gesond is as dié wat die skema verlaat het. Die trustees van die skemas sal baie waaksaam moet wees om te verseker dat die premies meer as uitgawes bly en die voordele behou word,” lui die verslag.

  

Solvensie

    

Elke skema word verplig om ingevolge wetgewing 25% van hul jaarlikse premies in reserwes te hou.

Die GTC merk op dat Genesis, Cape Medical Plan, Makoti en Selfmed baie meer as die vereiste solvensievlak hou. Dit kan verband hou met ’n verlies aan lede in vorige jare, eise wat nie betaal word nie of aktuariële aannames wat verkeerd is asook ongewenste praktyke, lui die verslag.

Bonitas, Thebemed en Resolution Health se solvensievlakke is onder die vereiste vlak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1143,64 (202)
  • Top 40 44843,58 (-134525)
  • All Share 51067,77 (-135575)
  • Resource 10 39182,27 (-76408)
  • Financial and Industrial 30 67037,29 (-230941)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.