Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Hospitale: 2de vlaag kan erger word as 1ste

Hospitaalgroepe in die land is bekommerd dat die tweede vlaag van infeksies met die koronavirus erger as die eerste gaan wees as vakansiegangers nie verantwoordelik optree nie, sê Life Healthcare.

Respiratory connection tube, HME filter and suctio
Druk op sowel private as staatshospitale is aan die toeneem. Foto: iStock

Dr. Charl van Loggerenberg, hoofbestuurder van noodmedisyne van Life Healthcare, sê as vakansiegangers nie verantwoordelik optree nie en super-verspreidingsbyeenkomste bywoon sonder die nodige voorsorgmaatreels om infeksies te bekamp, gaan die tweede golf nasionaal wesenlik erger wees as die eerste.

“Die hele gesondheidsorgstelsel, die openbare en private sektor, gaan dan sukkel om dit te hanteer, soos wat in baie ander lande gesien is.”

Dr. Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitaalafdeling, pleit ook by mense om Covid-19 ernstig op te neem en versigtiger te wees oor die feestyd.

“Elke keer as mense bymekaarkom, is daar die moontlikheid vir die virus om te versprei. Wees paraat en beskerm jou geliefdes, jouself en die gesondheidstelsel.”

Hy sê elkeen het die verantwoordelikheid om die “nuwe kurwe te help afplat” deur dit te vermy om die virus op te doen en te versprei.

Hoogs aansteeklik

Van Loggerenberg sê daar is ’n paar basiese feite oor Covid-19 waaraan mense herinner moet word:

• Asimptomatiese mense versprei beslis die virus;

• Dit is hoogs aansteeklik en uit elke 100 pasiënte wat opgeneem word in ’n hospitaal, sterf 17, toon die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes (Nios) se daaglikse peiling onder hospitale (DatCov-verslag);

• Byna die helfte van die pasiënte wat in intensiewe sorg opgeneem word, sal aan die virus sterf; en

• Van die pasiënte wat aan ventilators gekoppel is, sterf sowat twee derdes.

Brandpunte reeds onder druk

Life Healthcare se hospitale in Nelson Mandelabaai, die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit en die Tuinroete is almal onder wesenlike druk en na aan hul maksimum vermoë om pasiënte met Covid-19 te hanteer.

In Kaapstad en omgewing is die hospitale nog nie onder dieselfde druk nie, maar ’n kommerwekkende toename in Covid-19-pasiënte word ondervind.

“As mense nie onmiddellik verantwoordelik begin optree nie, verwag ons om binnekort onder dieselfde druk te kom as in die Oos-Kaap,” sê Van Loggerenberg.

Life Healthare begin ook ’n toename sien in Covid-19-opnames in KwaZulu-Natal. Die situasie word gemonitor en die hospitaalgroep het begin voorberei vir ’n potensiële tweede golf in die provinsie.

Mediclinic het bevestig ’n sterk toename in gevalle van Covid-19-pasiënte wat sorg benodig, word waargeneem in die Suid-Kaap, Kaapse wynland en die Kaapstad-metropool, terwyl die getalle in Gauteng en KwaZulu-Natal ook styg.

“Ons kan in die behoeftes voorsien, en waar moontlik het ons die nodige reëlings getref om bykomende vermoë beskikbaar te stel in die hospitale wat geraak word,” sê dr. Gerrit de Villiers, hoofbestuurder van kliniese prestasie van die Mediclinic-groep.

Die groep het reeds einde November ekstra personeel en toerusting na die Suid-Kaap gestuur.

“Ons besef en erken die beskikbaarheid van verpleegpersoneel in sekere gebiede is ’n kopseer, maar ons voldoen aan die behoefte met die ontplooiing van personeel uit streke wat nie onder druk is nie, of deur ons personeelagentskap.”

As mense nie onmiddellik verantwoordelik begin optree nie, verwag ons om binnekort in Kaapstad onder dieselfde druk te kom as in die Oos-Kaap.
Dr. Charl van Loggerenberg van Life Healthcare

Hy sê met die eerste vlaag het Mediclinic personeel met meer gevorderde vaardighede toegerus om te verseker dat mense beskikbaar is om veilig in die hoësorg- en intensiewesorg-eenhede te werk.

Min operasies oor feestyd

De Villiers sê hulle glo die tradisionele afname in beplande operasies in die feestyd sal ook bykomende kapasiteit in hospitale skep.

Life Healthcare het in die Oos-Kaap nie-noodsaaklike operasies in sy hospitale tydelik gestaak. Noodsaaklike dienste soos vir kraam- en noodgevalle word wel nog in sy hospitale verskaf.

Mediclinic se hospitale doen steeds beplande en nie-noodgeval-operasies. “Maar die situasie sal hersien word namate die vermoë by enige bepaalde hospitaal onder druk kom. Ons glo egter dit is belangrik om te verseker dat die gemeenskap nie gesondheidsorg in hierdie tydperk uitstel nie, omdat dit hul gesondheid verder in gevaar kan stel,” sê De Villiers.

Netcare sê hy wil mense gerusstel dat sy hospitale landwyd mense wat sorg benodig, sal kan help ondanks die toename in Covid-19-gevalle, veral in brandpuntgebiede.

Die hospitaalgroep het einde November gesê ekstra ventilaters, verpleegpersoneel en dokters is Oos-Kaap toe gestuur.

Soveel is tans in hospitale


Nios se daaglikse peiling oor hospitale* toon op 9 Desember:

• Daar is 6 446 Covid-19-pasiënte landwyd in private en staatshospitale. ’n Week gelede was dit 5 817;

• 3 059 is in private hospitale en 2 758 in staatshospitale;

• Die meeste opnames is in die Oos-Kaap, naamlik 1 694 (vergeleke met 1 553 ’n week gelede); gevolg deur 1 641 in die Wes-Kaap (1 266); 1 340 in Gauteng (1 342) en 944 in KwaZulu-Natal (665);

• Van almal in die hospitale is 758 in intensiewesorg-eenhedd (653);

• 318 is aan ventilators gekoppel (273);

• 1 809 ontvang suurstof (1 595);

• Sedert die uitbreek van die pandemie, is 113 091 mense in hospitale landwyd opgeneem; en

• 19 604 van hulle is oorlede.

* 615 hospitale landwyd in die openbare en private sektor se syfers van Covid-19-pasiënte


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.