Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Hospitale se prys-skandes onthul

Mediclinic, een van die drie groot private hospitaalgroepe, se tarief vir natuurlike geboortes is 76% hoër as twee onafhanklike hospitale wat deel is van die National Hospital Network (NHN).

private hospitale, hospitaal, hospitale, mediese f
Die koste van kraam in ’n Mediclinic is glo veel hoër as wat onafhanklike private hospitale vra. Foto: Pixabay

Vir keisersneë is dit 26% meer as wat die Wilmed Park- en Sunningdale-hospitaal in Klerksdorp vra, het die Mededingingstribunaal die afgelope week gesê in hul redes vir ’n besluit om Mediclinic se oorname van Matlosana Medical Health Services (MMHS) te stuit.

Wilmed Park en Sunningdale is bekroonde hospitale wat ’n groot deel van Noordwes en die Noord-Vrystaat bedien. In Potchefstroom is daar ’n Mediclinic-hospitaal wat nie naastenby soveel geriewe en dienste soos die hospitale in Klerksdorp het nie.

Indien die transaksie deurgevoer was, sou Mediclinic 63% van die mark in die area beheer.

Die genoteerde Mediclinic se pryse sal eenvoudig ’n te groot impak op die inwoners van die gebied hê om dit toe te laat, het die tribunaal bevind.

Die meeste van die syfers in die tribunaal se verslag is uitgeblok vir die publiek. Maar die rits mediese fondse wat kapsie gemaak het teen die transaksie verklap dat die tariewe wat hulle vir die onderskeie groepe betaal, hemelsbreed verskil.

In die algemeen is Mediclinic se tariewe tussen 4% en 17% hoër as wat pasiënte tans by MMHS se hospitale betaal, blyk dit uit die redes.

Hoewel dié oorname gegaan het oor hospitale in Klerksdorp en Potchefstroom in Noordwes, het die tribunaal verstommende feite oor landwye mededinging tussen die groot groepe.

Luidens die voorlopige verslag van die ondersoekkommissie na die private gesondheidsorg word die mark oorheers deur Life Healthcare (21,5%), Mediclinic (19,4%), Netcare en die NHN (23,7% elk).

Die NHN het onlangs vrystelling van die mededingingsowerhede gekry om as ’n kollektief namens hul lede te beding soos wat die groot drie doen.

Groter mediese fondse beding groot afslag vir hul lede by sommige hospitaalgroepe, wat behels dat ander mediese fondse en private pasiënte weer nié voordelige ooreenkomste kan hê nie sodat die hospitaalgroep steeds sy winsmarges haal.

Elke hospitaalgroep en mediese fonds hou hulle ooreenkoms streng geheim.

Discovery Health Medical Scheme het aanvanklik geen beswaar gehad teen die Mediclinic-MMHS-transaksie nie omdat dit hulle nie meer sou kos nie. Hulle het later wel beswaar gemaak weens die invloed wat die samesmelting in die algemeen op mededinging sal hê, al sal dit nie onmiddellik hul sak raak nie.

Maar een van die mediese fondse het aan die Mededingingstribunaal gesê die huidige MMHS-tarief wat hulle betaal is 17% laer as die Mediclinic-tarief vir akute hospitale vir sy pasiënte. Volgens ’n ander is dit 6,5% laer.

Bonitas het ook kapsie gemaak deur te sê hy as hy skielik Mediclinic-tariewe vir sy lede in Noordwes moet betaal, sal dit ’n aansienlike kosteverhoging vir hospitaaldienste vir die fonds en sy lede beteken.

AngloGold Medical Scheme, wat ’n hoë konsentrasie lede in dié gebied het, is bekommerd oor die tarief vir geboortes. Mediclinic stel pryse vir dieselfde geboorteprosedure vas wat 76% hoër is vir natuurlike geboortes en 26% vir keisersneë as dié wat die NHN onderhandel, het hulle gesê.

Die mediesefondsadministrateur Medscheme het in ’n voorlegging gesê Mediclinic gebruik in gevalle die mag van demografiese eksklusiwiteit in onderhandelinge.

As die fonds nie na Mediclinic se pype wil dans nie, dreig hy dat mediesefondslede vooraf kontant moet betaal, en boonop private tariewe. Fondse gee dan gewoonlik toe om meer te betaal.

Volgens die tribunaal het hy gehoor dat Mediclinic al voorheen in geografiese gebiede waar hy nie mededinging gehad het nie, sy posisie probeer misbruik het om mediese fondse te dwing om meer van die groep se hospitaaldienste te gebruik in gebiede waar daar wel mededinging was.

Bonitas het gesê Mediclinic gee tipies nie hospitaalkorting waar hy in ’n streek domineer nie.

Die onafhanklike hospitale gee ook baie meer afslag vir pasiënte wat nié ’n mediese fonds het nie as wat Mediclinic doen. Die genoteerde reus se hospitaalbestuurders mag net 4% afslag gee vir private pasiënte sonder spesiale toestemming, lui die tribunaal se redes.

Indien die transaksie sou voortgaan, sou pasiënte in Klerksdorp en Potchefstroom baie min alternatiewe opsies gehad het as om in ’n Mediclinic-hospitaal behandel te word. Die tribunaal het bevind so ’n situasie sou dit amper onmoontlik vir mediese fondse maak om Mediclinic uit hul hospitaalnetwerke vir die omgewing te sluit – een van die magtigste bedingingsinstrumente wat ’n fonds het.

Mediclinic gaan teen die tribunaal se besluit appelleer, berig Businesslive. Die saak sal na verwagting in Oktober voor die mededingingsappèlhof dien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.