Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Jou mediese fonds dalk só opgeslurp

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) gaan binnekort ’n voorstel maak oor ’n sambreelfonds vir mediese fondse buite die staatsektor wat oorweeg kan word vir die konsolidering in die bedryf wat nodig is voordat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking tree.

Verwag ’n omwenteling in gesondheidsorg soos wat Nasionale Gesondheidsversekering in werking gestel word.

Die moontlikheid van ’n sambreelfonds vir die bedryf buite die staatsektor is verlede jaar in September die eerste keer aangeroer in ’n konsep-voorstel oor hoe konsolidering in die bedryf aangepak moet word.

Die RMS het nou in ’n omsendbrief gesê hy gaan eersdaags ’n voorstel oor ’n sambreelfonds vir mediese fondse buite die staatsektor uitreik, omdat talle belangegroepe in die bedryf in hul kommentaar oor die konsepvoorstel vir meer inligting gevra het.

’n Sambreelfonds behels ’n nuwe fonds wat op die been gebring kan word waarin alle mediese fondse buite die staatsektor kan saamsmelt.

Die ander opsies was om stuk-stuk mediese fondse vir samesmeltings op grond van verskillende faktore te oorweeg. Nog ’n opsie was om per sektor met die samesmelting van mediese fondse te begin.

Die konsepvoorstel oor hoe konsolidasie in die bedryf aangepak moet word, en wat verlede jaar uitgereik is, is gegrond op navorsing wat ná die publikasie van die witskrif oor die NGV in 2017 uitgevoer is.

Ingevolge die witskrif oor die NGV moet die mediesefondsbedryf gekonsolideer word sodat mediese fondse uiteindelik net aanvullende dekking tot die NGV bied.

Hoewel die witskrif verwys het na die konsolidasie van die opsies van mediese fondse tot een per skema, omdat daar sowat 300 is, is in ’n latere dokument oor die implementering van die NGV wat in die Staatskoerant gepubliseer is, ook na die konsolidasie van mediese fondse verwys.

Die witskrif stel ook die samesmelting van al die mediese fondse wat staatsamptenare dek met die Government Employees Medical Scheme (Gems) in die vooruitsig.

Die RMS het nou gesê die sambreelfonds sal soortgelyk aan Gems vir mediese fondse buite die staatsektor wees.

Die konsolidasie van fondse of opsies moet gebeur teen 2026 wanneer die NGV veronderstel was om ten volle in werking te tree.

Die RMS het erken dit gaan ’n moeilike proses wees.

“Dit gaan ’n aansienlike proses wees inaggenome die praktiese implikasies en die finansiële risiko vir lede. Dit vereis ’n goeddeurdagte strategie,” het die RMS verlede jaar gesê.

In die konsepvoorstel van verlede jaar is voorgestel dat mediese fondse met minder as 6 000 lede eerste gekonsolideer word.

Lees wat die registrateur van mediese fondse in 2017 gesê het oor konsolidasie: Mediese fondse moet 'kalm bly oor konsolidasie'.

In reaksie op kommentaar wat daaroor van die bedryf gekry is, is ’n bykomende ontleding daarna oor die voorstel oor kleiner mediese fondse gedoen.

Die ontleding het nou getoon grootte maak nie regtig saak nie en is nie al wat in ag geneem moet word wanneer besluit word oor watter mediese fondse eerste moet saamsmelt nie.

“Die grootte van ’n mediese fonds alleen is nie die mees objektiewe en regverdigbare maatstaf om te besluit watter fondse vir konsolidasie geprioritiseer moet word nie,” lui die aanbeveling in ’n verslag van die RMS.

Die bykomende ontleding tot die konsepvoorstel is gedoen oor 29 mediese fondse wat minder as 6 000 lede het. Net drie van hulle is oop fondse en die meeste is geslote.

Die studie het onder meer gekyk of die grootte van ’n mediese fonds bepaal hoe vinnig lede bygekry word, wat hul nie-gesondheidskoste is, die gemiddelde ouderdom van lede, die persentasie van pensioenarisse vergeleke met die totale lede, gesinsgrootte en hul finansies.

Van die bevindings sluit in dat daar nie ’n regstreekse korrelasie tussen ’n mediese fonds se grootte en baie van dié faktore is nie.

Die aanbeveling is nou dat ’n meer “dinamiese raamwerk vir konsolidasie” voorgestel word wat die unieke eienskappe van skemas in ag moet neem.

Die RMS het in ’n omsendbrief gesê hy gaan nou eers voort met die konsultasie in die bedryf oor hoe konsolidasie moet plaasvind.

Die impak op administrateurs van mediese fondse sal ook oorweeg word. Die meeste van die klein mediese fondse word deur vier administrateurs bestuur: Discovery Health; MMI Health; Medscheme en Universal Healthcare Administrators.

Kommentaar is van die bedryf gevra oor die bevindings wat voor 28 Junie ingedien moet word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1337,72 (-828)
  • Top 40 50081,17 (-27911)
  • All Share 56183,21 (-35451)
  • Resource 10 44237,36 (24326)
  • Financial and Industrial 30 75163,15 (-70604)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.