Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Kabinet vra nuwe plan vir NGV se finansiering

’n Hersiene voorstel oor die finansiering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal binnekort beskikbaar wees.

Dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van die NGV-fonds in die departement van gesondheid. Foto: Verskaf

Dit beteken belastingbetalers wat nou lede van mediese skemas is, sal dan ’n beter idee hê van hoe opgedok gaan word vir die tekort van R30 miljard in die staat se begroting vir gesondheidsorg wat na verwagting in 2030 gaan ontstaan.

Die NGV is effektiewelik ’n reuse- staatsbeheerde mediese fonds wat almal in die land moet dek.

Dr. Anban Pillay, die adjunk-direkteur-generaal van die NGV-fonds in die nasionale departement van gesondheid, het op ’n konferensie van die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF) gereageer op die vraag hoekom daar nog bitter min inligting is oor hoe die NGV gefinansier gaan word, hoewel die NGV-wetsontwerp onlangs deur kabinet goedgekeur is.

Hy het gesê die kabinet was baie duidelik daaroor toe hy die wetsontwerp oor NGV goedgekeur het dat die nasionale tesourie met ’n “hersiene dokument oor die finansiering” daarvan vorendag moet kom.

Volgens hom is dit ’n verwysing na hoofstuk 7 van die witskrif oor die NGV wat in 2017 uitgereik is. Dié hoofstuk handel oor finansiering.

In die hoofstuk is die vooruitskattings oor die koste van die NGV gemaak en die opsies vir die finansiering van ’n tekort wat gaan ontstaan, is bespreek. Die beraamde begroting vir gesondheid of NGV sou volgens die berekening in 2026 sowat R256 miljard beloop. Die tekort aan finansiering vir NGV sou daardie jaar sowat R27,6 miljard beloop, gegrond op die aanname dat die aanvanklike begroting (van 2011) elke jaar met 5% gestyg het.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Maandag op die konferensie aan die media gesê die nasionale tesourie het beraam dat die NGV teen 2030 ’n bykomende R30 miljard nodig sal hê. Dit beteken dit is wat ekstra benodig word bo en behalwe die staat se bestaande gesondheidsbegroting.

Dit is vir dié geld waarvoor ’n ander bron benodig word en onder meer na belastingbetalers gekyk word.

In die witskrif is verskeie moontlikhede van belasting bespreek, asook dat die huidige staatsubsidies vir lede in die staatsektor en belastingkrediete vir mediesefondslede in die private sektor na die fonds toe gaan.

Dit is omdat verwag word dat daar ’n afname gaan wees in die behoefte om by te dra tot ’n mediese fonds na die koms van die NGV, lui die hoofstuk. Die gevolglike besparing in belastingkrediete kan die voorgestelde belastingverhogings verminder wat nodig sal wees, het die witskrif gelui.

Mkhize het vroeër die week op ’n mediakonferensie gesê die tesourie is besig om die verslag oor die finansiëring af te handel.

Pillay het op sy beurt gesê die nasionale tesourie het verlede week aan hom te kenne gegee dat dit min of meer klaar is.

“Hulle sal dit waarskynlik probeer vrystel op dieselfde tyd as wat die wetsontwerp in die openbare domein kom sodat mense die kwessies oor die finansiering saam dit kan lees.”

Pillay het gesê hoewel die wetsontwerp nou in die parlement se hande is en dit nie moontlik is om te voorspel wanneer dit gepubliseer gaan word nie, is aan hom gesê dit gaan binnekort wees en nie ’n paar weke neem nie.

Hy het gesê kabinet het ook die ministerie gevra om ’n implementeringsplan te publiseer wat aan die wetsontwerp gekoppel word.

Die werk word tans gedoen. Hoewel daar ’n implementeringsplan in die wetsontwerp is, gaan die plan die detail-implementering bevat van hoe maand tot maand voortgegaan word.

Almal sal kommentaar kan lewer

Volgens Pillay sal daar oorgenoeg tyd wees vir kommentaar oor die wetsontwerp wanneer dit na die parlement gaan en as ’n openbare dokument uitgereik word.

Die portefeuljekomitee oor gesondheid sal vra vir kommentaar op die wetsontwerp en sal belangrike belangegroepe uitkies om mondelingse voorleggings te maak. Die insette sal deur die komitee geëvalueer word en as dit nodig is, sal wysigings aan die wetsontwerp gemaak word.

Sodra die werk klaar is, gaan die wetsontwerp na die nasionale raad van provinsies waar deur ’n soortgelyke proses gegaan sal word deurdat dit na elke provinsiale wetgewer gaan wat openbare kommentaar kry deur byeenkomste met gemeenskappe te hou. Die sienings word dan na die nasionale raad van provinsies geneem om wysigings aan te bring.

“Die belangrike punt is die geleentheid bestaan nog om oor die wetsontwerp te skakel. Almal sal die geleentheid kry om oor die wetsontwerp te konsulteer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.