Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Mediese Fondse
Keyhealth voorlopig in kuratorskap geplaas
Mediese skemas is niewinsgewende entiteite wat miljarde rande namens lede bestuur en goeie korporatiewe bestuur is noodsaaklik. Foto: Pixabay

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) het die mediese fonds Keyhealth in voorlopige kuratorskap geplaas nadat ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria geslaag het.

Keyhealth het in 2019 sowat R2,1 miljard se bydraes van lede gekry.

Die skema, wat sy hoofkantoor in Doringkloof in Centurion het, het meer as 67 000 lede en afhanklikes gehad.

Die aansoek is gebring nadat die RMS ’n inspeksie laat uitvoer het wat ongerymdhede met die fonds se korporatiewe bestuur gevind het.

Mediese skemas is niewinsgewende entiteite wat miljarde rande namens lede bestuur en goeie korporatiewe bestuur is noodsaaklik.

Die probleme sluit in dat die raad van trustees nie behoorlik saamgestel is nie.

Die raad van trustees het ook die reëls van die skema oortree deur die huidige hoofbeampte ’n permanente kontrak te gee.

Die hoofbeampte se naam is nie genoem nie, maar die kennisgewing van sy onlangse jaarvergadering toon dit is Barry Kruger.

Hy wou by navraag nie kommentaar lewer nie.

Johannes Seoloane is as die voorlopige kurator aangestel en het magtiging om dadelik beheer van die skema te neem in die plek van die raad van trustees en die fonds se sake te bestuur.

“Daar is geen rede vir kommer onder Keyhealth se lede en diensverskaffers oor die bedrywighede van die skema nie.”

Die trustees en ander belanghebbendes het tot 20 Oktober om die aansoek teen te staan.

Die skema het in 2019 bydraes tot die versekeringspoel (uitgesluit bydraes tot spaarplanne) van R2 miljard ontvang.

Nadat eise van R1,8 miljard betaal is, is R204,8 miljoen oorgehou.

Sy bedryfskoste, wat insluit makelaarskoste, administratiewe uitgawes, voordelebestuur en afskrywings van premies en ander ontvangbare gelde wat nie gekry is nie, het sowat R175 miljoen beloop. Die administratiewe uitgawes het R82,6 miljoen ingesluit wat aan PPS Healthcare Administrators (PPSHA) betaal word. Dit het ook R36,3 miljoen ingesluit wat aan PPSHA vir gesondheidsorgbestuur betaal is. Dit sluit ook in personeelkoste, die hoofbeampte se R2,7 miljoen-vergoeding en die R2,1 miljoen wat aan trustees betaal is.

Dit het die fonds met ’n bedryfsurplus van R28,3 miljoen gelaat.

Ná beleggingsinkomste is ’n wins vir die jaar van R72,8 miljoen getoon.

Keyhealth se jaarverslag vir 2019 toon sy solvensieverhouding beloop 41,4%. Dit is die opgehoopte bydraes ingevolge wetgewing in verhouding met totale bydraes. Die wet verplig 25% moet in reserwes gehou word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.